Author Topic: Minderwaardigheidskompleks  (Read 4077 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Minderwaardigheidskompleks
« on: August 16, 2015, 11:08:41 AM »
Minderwaardigheidskompleks

MY  Storie.

Waar het ek my minderwaardigheidskompleks gekry?
Was dit omdat ek in 'n mate disleksies is?
Was dit omdat ek lomp was toe ek ‘n kind was?
Was dit my lang neus wat Pinochio elke keer kon klop?
Het ek ‘n lelike knou gekry toe ek nie st 7 kon slaag nie?
Was dit omdat ek ‘n broer gehad het wat in alles uitgeblink het?
Was dit omdat ek bitter arm grootgeword het ...

MINDERWAARDIGHEIDSKOMPLEKS

My eie persoonlike opinie is dat daar een of ander tyd, in enige mens se lewe, ‘n tyd kom waar hy of sy ‘n oomblik van minderwaardigheid ervaar.
  
In normale omstandighede waar mense nie aan ‘n “minderwaardigheidskompleks” ly nie, is dit maar net nog ‘n insident.  Dit het kop uitgesteek maar is vinnig verwerk sonder implikasies.

‘n Sodanige gevoel kan ‘n  persoon aanspoor tot groot hoogtes met positiewe resultate. Ongelukkig is dit nie die geval in die lewe van  ‘n persoon wat aan hierdie kompleks ly nie.

Wat is ‘n minderwaardigheidskompleks?

Gewoonlik het die persoon wat aan hierdie toestand ly , ‘n reeks van negatiewe ervarings gedurende sy kinderjare ervaar.  Dit het nie sommer oornag is sy skoot kom val nie.

Dit is ‘n toestand wat meestal in die persoon se onderbewussyn gesetel is.

Dit is wanneer ‘n persoon voel dat hy minderwaardig teenoor  ander mense staan.  Sy selfbeeld is laag.  Hy voel minder werd as die volgende persoon.

Hy voel lelik, of te vet, of te kort ens.

Hy voel  ontoereikend, onbekwaam, te lig in die broek.  

Dit laat die persoon met ‘n loodswaar gevoel sit wat hy nie kan identifiseer of verstaan nie.

Dit is sy onderbewussyn wat werk. (My eie definisie)
Wat het dit veroorsaak?
Eerstens glo ek dat ‘n kind dinge anders ervaar as grootmense.  ‘n Kind kan insidente wat met ander gebeur, so negatief en intens ervaar, dat hy dit op homself kan reflekteer.  Sekerlik is dit ‘n storie vir ‘n ander dag, maar soms wonder ‘n mens hoekom kinders wat in ‘n liefdevolle huis grootgemaak is, ook ‘n minderwaardigheidsgevoel kan beleef.

Ons glo almal dat ‘n kind sy grondslag het teen die ouderdom van ses jaar, maar wanneer ‘n kind skooltoe gaan is hy baie ontvanklik.  Dit is ook ‘n baie onsekere tyd in ‘n kind se lewe. Nuwe omgewing en nuwe ervarings.  Wanneer ‘n kind dan ‘n onsensitiewe onderwyser of skoolmaats het, kan dit grootliks bydra hiertoe.

 ‘n Kind wat altyd afgekraak word ontwikkel ‘n gevoel van minderwaardigheid.  Hoeveel keer het jy al gehoor iemand sê vir ‘n kind:  “Jy is onnosel, jy is onhandig, jy is ’n domkop, jy is aaklig. Jy kan dit nie doen nie”.
  
As daar alewig met ‘n kind geraas word as hy ‘n fout gemaak het of ‘n ongelukkie gehad het, sal dit ‘n gevoel van hopeloosheid by hom skep.  Woorde soos:  “Jou lompert, jy is onhandig, jy breek altyd alles, jy kan nooit iets reg doen nie”.
 
‘n Kind wat nie pligte het nie, omdat die ouer bv. bang is hy laat val die goed en dit breek, is ‘n kind wat ‘n gevoel van afhanklikheid ontwikkel.  Woorde soos: “Nee wag, ek sal dit liewers self doen, jy is nog te klein, jy sal dit nie kan doen nie”.  Hy kan nooit iets vir homself doen nie want hy is bang dat hy ‘n gemors daarvan gaan maak. Dit is ‘n kind wat geen selfversekering het nie.

‘n Kind wat altyd met ander vergelyk word wat beter vaar as hy, is ‘n kind wat ‘n lae selfbeeld het.  “Ek wens jy was so slim soos jou broer, jou broer wen altyd, jou broer sukkel nooit soos jy nie, ek wens jy was liewers soos jou broer”.  Hierdie kind sal altyd minderwaardig voel teenoor ander mense.

Ongelukkig kan mense wat erg aan hierdie kompleks ly, so ‘n geweldige gevoel van mismoedigheid ervaar, dat hulle ‘n gevaar vir hulleself kan wees.

Nog oorsake:

Fisiese oorsake.
Kinders wat gedurig gespot is oor een van die volgende:
‘n Kind wat met ‘n gebrek gebore word.
Iemand wat ‘n spraakgebrek het, soos ‘n lispel of hakkel.
Of te lank of te kort is.
Of te maer of te vet is.
Of bakore of ‘n lang neus het ens.
Ouers gehad het wat nie aan die normale normes en standaarde voldoen het nie.

Om te leer om hierdie gevoel van minderwaardigheid te oorbrug is baie moeiliker omdat dit nie net ‘n uiterlike geval van ander se negatiewe kritiek is nie, maar ook ‘n innerlike stryd het wat hulle moet oorbrug.  

Sosio-ekonomiesie oorsake.
‘n Ander oorsaak is wanneer iemand uit ‘n baie arm huis gekom het, waar hulle daagliks met mense wat baie meer geld gehad het, of beter gelewe het, moes kompeteer.
‘n Persoon wat elke dag sy beste doen maar homself in ‘n ryker omgewing bevind,  blameer homself omdat hy nie vir sy gesin kan gee wat die ander het nie. Dit wek ook ‘n gevoel van agressie by hom.  Hy voel die lewe het hom te na gekom.

Eienskappe:

Die persoon openbaar van die volgende:
Kinderagtige optrede.
Besluiteloos.
Onsekerheid.
Oordryf.
Het nie ‘n gevoel van sekuriteit nie.
Is abnormaal meededingend.
Voltooi nie ‘n projek wat hulle aanpak nie.
Kan agressief optree.
Raak maklik angstig.
Depressief.
Kom dikwels in die moeilikheid of
Kan heeltemal onttrek uit die vriendekring of
het nie vriende nie.
Soek altyd knaend aandag of krietiek van hulle meerderes.
Hulle blom as hulle erkenning kry vir hulle werk.
  
Optrede:

Die optrede kan uiteenlopend wees. Een persoon sal oorkompenseer.  Hy sal soveel meer doen as wat van hom verwag word om te vergoed vir sy gebreke, gebreke wat net in sy onderbewussyn geplant is.  (Bv. 'n persoon wat slordig van geaardheid is kompenseer deur oormatig netjies te wees.)

Dit kan lei tot uitmuntende prestasies of die ander uiterste, gedrag wat teen die gemeenskaplike normes is. Totale onttrekking van die samelewing, of soms albei.

Dit kan lei tot ‘n oormaat van agressie en agressiewe optrede.  Veral as die persoon voel dat hy in ‘n hoek van minderwaardigheid vasgekeer is.

Hierdie persoon sal ook liewers ‘n probleem probeer ontvlug, voordat hy ‘n oplossing daarvoor sal soek.

Sommiges sal “grootpraat”.  Hy sal ‘n situasie skets waarin hy die held was.  Hy sal stories vertel om ander te imponeer.  Hy sal spog met kwalifikasies wat hy nie het nie.  Hy sal enige iets doen of sê om “erkenning” te kry.  Hy wil ook menswaardig voel.

Hoe dit ookal sy, hierdie persoon voel dikwels in ‘n gevorderde toestand van ontmoedig te wees, of het ‘n gevoel van moedeloosheid.  

By tye ly hulle dikwels aan erge depressie.

Vir hierdie persone is dit moeilik om ‘n eie identiteit te ontwikkel en dit is vir hulle uiters moeilik om in die gewone samelewing te funksioneer.  

Hoe oorkom ek dit?

Wanneer ‘n persoon uit ‘n omgewing wat negatiewe implikasies het, verwyder word, kan dinge sommer klaar baie beter gaan.
  
Die persoon moet eerstens besef dat dit nie sy toedoen is dat hy hierdie negatiewe gevoelens ervaar nie.
  
Dit is nie altyd vir almal moontlik om sielkundige hulp te bekom nie.  Dit is egter baie belangrik om met iemand te gesels wat weet waaroor die situasie gaan en wat  jou kan help om daardeur te werk. Dit verg harde werk en ek moet myself knaend aaspreek.  ‘n Mens word stap vir stap genees.  Dit het lank geneem om daardie toestand te skep, dit sal tyd neem om dit af te leer.  Ja, dit is soos ‘n slegte gewoonte wat afgeleer moet word.

Praat met iemand wat jy kan vertrou.  Dalk is daar nog iemand wat jy ken wat deur dieselfde probleme worstel.  Dalk kan julle ‘n groepsbespreking hou met mense wat sal verstaan en nie ‘n oordeel fel nie.

‘n Groep wat saam kan ontleed en verstaan wat die oorsaak van jou situasie is.
 
Praat oor die dinge wat jou pla, die dinge wat jou in die verlede seergemaak het,  die dinge wat vir jou vernederend was, dinge wat jy moes uitstaan as kind, die dinge wat jou minderwaardig laat voel en optree.  In die begin sal dit moeilik wees en jy sal dalk wil huil en vuisslaan, maar sodra jy begin lag oor die dinge, sal jy besef  dat dit in jou verlede lê en dat daar ‘n pragtige toekoms vol uitdagings vir jou wag.

Ons is almal mense met unieke kwaliteite.  

Ons kan nie almal mooi wees nie, maar mooi vergaan en deug bly staan.  Ons kan mooi voel.  As jy kort en mollig is kan jy die regte kleredrag kies en jy kan “stunning” lyk.  Aanvaar hoe jy lyk,  jy kan niks daaraan doen nie. Die dierbaarste mens in my lewe is dikker as ‘n bus en net ‘n poep en ‘n baksteen hoog!    Jy kan haar altyd deur ‘n ring trek en sy sal altyd daar wees as ek haar nodig het.  Ek was nog nooit skaam om in haar teenwoordigheid gesien te word nie en ek sal ook nooit wees nie. Ek is ongelooflik lief vir haar.  Ek is seker jy ken ook sulke mense in jou lewe en dit sal jou laat besef dat hoe ‘n persoon uiterlik lyk nie saak maak nie.
  
Ek is met ‘n man getroud wat met ‘n klompvoet gebore is.  Hy is die wonderlikste mens in die hele wêreld. Hardwerkend, bedagsaam, vriendelik,liefdevol en hy gee nie om dat ek die langste neus in die wêreld het nie!!

Almal is nie sangers nie.  Tien teen een weet jy al waarin jy goed is.  Be-oefen dit en wees trots daarop.  Weet dat daar niks is wat jy nie kan doen nie.  Waar ‘n wil is is ‘n weg.  

Ons maak almal foute en slaag nie altyd die eerste keer as ons iets aanpak nie.  Besef dat dit deel van die lewe is en moenie toelaat dat dit jou onder kry nie.  Probeer weer. Jy kan dit doen.

Jy is ‘n mens net soos al die ander mense.  Daar is nie ‘n verskil nie.
 
Onthou dat jy nou ‘n volwasse mens is.  Minderwaardige gevoelens is dinge wat kinders ervaar want hulle verstaan nie waaroor dit gaan nie.  Noudat jy verstaan, en jy weet waar om die kwaad te gaan uitgrou en dit te elimineer, doen dit.  
 
Aanhouer wen:

‘n Minderwaardigheidskompleks is iets wat diep in ‘n persoon se onderbewussyn gesetel is.  Dit kom sommer vanself te vore.  Sonder dat jy besef wat gebeur, eers as jy dit wat met jou gebeur het verwerk het, en jy kyk terug, dan besef jy, dit is daardie lelike ding wat jou oorval het, sonder jou toestemming.

Hierdie toestand kan ‘n mens se lewe hel maak.  Dit kan jou lamlê. Die situasie wat jy beleef is meer en deels in jou onderbewussyn.  Daarby bedoel ek dat dit nie die ware toedrag van sake is nie.  Jy beleef dit net so.  Jy dink iemand het jou nou weer gekritiseer, of jou sleggemaak of wat ookal, maar dit is nie so nie.

Dit sal altyd opduik.  Gelukkig vir jou weet jy nou waarna om op te let.  As die gedrog sy kop uitsteek, vermorsel hom.   Wees lief vir jouself, jy is dit werd.

Jy kom eerste in jou lewe.
Jy weet wie en wat jy is.
Moenie toelaat dat iemand vir jou vertel jy is minder werd as ‘n ander nie.
Jou opinie is net so geldig as enige ander persoon s’n.
Moenie luister na die swaap wat jou menswees aftakel nie.  Wie is hy en wat weet hy?
Jy is ‘n Koningskind.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3662
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Minderwaardigheidskompleks
« Reply #1 on: August 17, 2015, 03:18:13 AM »
Sjoe PM, dit is leesstof vir baie lank. Dankie baie baie vir die deel  :notworthy:

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Minderwaardigheidskompleks
« Reply #2 on: August 17, 2015, 10:16:48 AM »
inderwaardigheidsgevoel. Waar begin mens. Jy het al die vrae gevra en nog meer.
Selfbeeld - geen agv dit wat ander jou oor jouself vertel.
Ander - Jou ouers, skool"maats" Almal vertel jou hoe sleg jy is.
Skaamte - Skaam om maats huis toe te bring omdat dinge by die huis nie goed is nie.
Alleen - vermy vriendskappe want vriende daag dalk by jou huis op.
Vandag, op 57 nog steeds bitter min werklike vriende.

Dit is snaaks hoe 'n mens onbewustelik aan die verlede vasklou en jou toekoms daarvolgens dupliseer. En dan bly jy maar in die groef van swak selfbeeld.
Ek moet erken dat my vriende op hierdie forum en ander plekke waar ek my griggels gooi my selfbeeld 'n goeie hupstoot gegee het. Ongelukkig skilpad ek maklik as daardie bietjie selfbeeld aangetas word en dan loer ek nie maklik weer dopuit nie.


 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Minderwaardigheidskompleks
« Reply #3 on: August 17, 2015, 01:24:35 PM »
Dit is so jammer dat mense die mag het om 'n ander mense te verkleineer.  Gelukkig is daar regtig hulp beskikbaar.  Dit salk dalk nooit heeltemal opgeklaar word nie, maar tog baie verbeter. 
Om te weet is om te verstaan.