Author Topic: Vir altyd maats?  (Read 2475 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Vir altyd maats?
« on: April 16, 2015, 01:54:16 PM »
Vir altyd maats?
Karen en Anel is al van laerskool af maats. Hulle het mekaar ontmoet toe Anel vir die eerste keer as nuwe leerling die klaskamer ingestap het. Karen het Anel so gekyk en besef dat die dogtertjie haar maatjie gaan word. Met Karen se hulp, het Anel sommer gou tuis geword in die nuwe skool. Daarvoor is Anel so dankbaar, want sy weet uit ondervinding dat sy nie in die vorige skool baie gelukkig was nie, juis omdat die kinders haar soos 'n marsmannetjie uit 'n ander planeet, behandel het. Anel het begin uitsien na die volgende dag, want dan het sy en Karen sommer heerlik gesels en grappies gemaak. Hulle het die ander kinders se siele uitgetrek of saam moeilikheid gekry omdat hulle in die klas gesit en giggel het. Middae het hulle so staan-staan by hulle fietse nog gelag oor Daan se manewales in die klas.
Die jaar het spoedig tot 'n einde geloop en daar is planne gemaak vir die vakansie. Karen het nie regtig uitgebrei oor haar planne vir die vakansie nie en Anel kon agterkom iets is nie pluis nie. Sy het vir Karen gevra wat is haar planne en of hulle gaan saamkuier oor die vakansie, maar Karen het haar kop geskud en vertel dat hulle na hul vakansie huis gaan tot die einde van die vakansie. Anel was ontsteld, want hulle sou nie weggaan nie en met haar beste maat wat nie daar gaan wees nie, sal die vakansie bitter lank en vervelig wees. Anel het maar naweke saam met Karen gekuier en haarself begin voorberei op 'n lang vakansie sonder haar maat. Hulle het juis in die boomhuis agter in die erf gesit en moerbye eet, toe Karen vir Anel iets ouliks wys. Daar is 'n oop stuk veld agter Karen-hulle se huis en anderkant die stuk veld is 'n lang ry bloekombome wat langs die hoofpad groei, oppad skool toe. By een van die bome, hang 'n tak laag af tot op die grond en soos die wind waai, lyk dit soos 'n apie wat allerhande kapperjolle uithaal met sy maer dun lyfie en ewe dun armpies. Dit het hulle 'n hele rukkie besig gehou en hulle het lekker gelag vir die sogenaamde ''apie". Karen kyk Anel skielik opgewonde aan en Anel wonder wat nou in Karen se brein broei. "Karen, hoekom kyk jy my nou so aan? Wat broei in daai kop van jou?" Karen skud net haar kop en klap op haar been. "Wraggies my maat, dat ek nie voorheen daaraan gedink het nie!" Anel is nou baie nuuskierig en wens Karen wil nie so langdradig wees nie. "Jy kan mos saam met ons gaan vir die vakansie, jong. Wat se jy daarvan?" Anel is vreeslik opgewonde en belowe Karen om haar ouers dadelik te vra sodra sy by die huis kom.
Terug by die huis is Anel huiwerig om dit te vra. Sy besef skielik dat dit die eerste keer sal wees wat sy weg sal wees van haar ouers en dit vir meer as 'n week ook nog. Sy weet nie of sy meer wil gaan nie. Sy is baie ma-vas, maar sy weet ook sy sal 'n besluit moet maak, want Karen wag vir 'n antwoord. Haar ouers het natuurlik dadelik ingestem dat Anel kan saamgaan. Hulle het nie eers gehuiwer toe Karen hulle vra nie. Anel stap na haar moeder wat besig is om boek te lees op die stoep. Haar ma kyk op toe sy sien Anel gaan sit op die bank langs haar. Anel vertel vir haar ma van Karen se uitnodiging en haar ma glimlag, bly vir Anel se part om te kan see toe gaan saam met haar maatjie. Anel het eintlik gehoop dat haar ma nee gaan se, maar haar ma moedig haar aan om te gaan. Dit is nie aldag wat sy so 'n geleentheid gaan kry nie. Anel besef haar ma is heeltemal reg en sy begin half opgewonde raak, veral toe haar boetie met haar kom moeilikheid soek waar sy in die kombuis staan en skottelgoed afdroog die aand. Terwyl sy die bord afdroog, probeer hy die heeltyd om haar te kielie onder haar arms. Sy voel sommer om dadelik weg te gaan see toe.
 Die oggend voor hulle vertrek, kom haar ma haar kamer binne met 'n pakkie in haar hande. Anel sit regop in haar bed en begin die pakkie oopmaak. Sy haal 'n splinternuwe handdoek, swembroek en sonhoed uit die pakkie. Alles is so mooi en met helder kleure net soos Anel daarvan hou. Sy druk haar ma styf teen haar vas en sy sien sommer in haar verbeelding hoe sy lekker by die see gaan speel en swem.
Die pad is lank en hulle wens die ure verby sodat hulle die see water kan aandurf. Hulle speel speletjies, eet amper heeltyd of slaap soos die motor hulle aan die slaap wieg. So kom 'n lang pad ook agter die rug en hulle stop by die vakansie huis. Eers moet daar afgepak word en dinge agtermekaar gekry word, voordat hulle kan see toe gaan. Hulle val eers op hulle beddens neer en kry eers 'n ruskansie, die pad was lank. Die strandsakke word gepak en genoeg peuselgoed word ingelaai en daar gaan hulle af strand toe. Karen en Anel kyk wie eerste by die water kan kom. Die golfies slaan teen hulle bene vas en hulle val sommer al laggend neer in die koue water. Dit slaan Anel se asem heel weg. Karen se ouers waarsku hulle om nie dieper te gaan nie en hulle gehoorsaam met graagte, die see is heel onvoorspelbaar. Hulle verkyk hulle aan die borreltjies wat in die sand te voorskyn kom en nou en dan hardloop 'n krappie na sy verskuilde huisie toe. Die dag kom gou tot 'n einde en dis tyd om terug te gaan huis toe. Hulle slaap soos 'n klip en tot laat die volgende oggend. Anel se eetlus is iets verskrikliks. Sy wil heeltyd peusel, Karen se ma se die see het nogal daardie effek op 'n mens. Wanneer dinge stil raak, verlang Anel vreeslik huistoe, maar sy geniet die vakansie baie. Hulle gaan na die dorpie daar naby en eet lekker lang draai roomyse of hulle gaan eet uit en ontmoet ander kinders. Die volgende dag gaan hulle na 'n winkel wat net skulpies en ornamentjies wat van skulpies gemaak word, verkoop. Anel verkyk haar aan alles. Sy koop 'n ietsie kleins om saam te neem vir haar ma. Sy weet haar ma sal baie verras wees. Mens kom nie eers agter hoe die tyd verby vlieg in so 'n winkeltjie nie. Hulle ry lekker rond en gaan in al wat 'n winkel is, in. Die dae vlieg verby en hulle spandeer soveel as moontlik tyd by die see.
Anel is vreeslik bly dat sy saam met Karen-hulle gekom het. As sy nie sou saamkom nie, sou sy op soveel dinge uitgemis het. Karen is net so bly dat Anel saamgekom het. Hulle baljaar te lekker saam. Die laaste paar dae by die vakansie huis vlieg verby en dis weer tyd om terug te keer. Alles is in rep en roer soos almal inpak en inlaai in die motor. Die huis word gesluit en hul val in die pad. Die pad voel weer lank, maar omdat hulle oppad is huistoe, weet Anel dit gaan nie so lank wees nie. Sy val in haar moeder se arms toe Karen-hulle haar by die huis aflaai. Sy is so bly om tuis te wees, al het sy 'n heerlike tydjie saam met haar maatjie en ouers geniet.
Anel en Karen voel soos sussies en hulle kom so lekker oor die weg. Skool is weer aan die gang en huiswerk is 'n ander storie om klaar te kry, maar naweke is weer net hulle sin en hulle speel lekker saam.
Op 'n dag kom Karen na Anel om haar te nooi om saam met haar na die pawiljoen by die sportgronde te gaan sit. Karen vat 'n hele rukkie voor sy praat. Sy wil die regte woorde vind om die slegte nuus aan Anel oor te dra. Karen vertel met 'n hartseer gesiggie vir Anel dat hulle die einde van die jaar gaan trek na 'n ander dorp ver weg van Anel-hulle. Dit is vir Anel die slegste nuus wat sy al ooit in haar lewe gehoor het en sy begin sommer huil. Karen huil ewe lustig saam en wens dit was nie nodig dat hulle moet trek nie. Die gemis na haar maatjie sal verskriklik wees. Haar ma het gese dat sy weer maatjies sal maak, maar niks sal hierdie goeie maatjie van haar vervang nie. Anel se hartjie is baie seer en sy huil haar hartseer op haar mamma se skouer uit. Anel se mamma weet dat niks wat sy se, sal Anel laat beter voel nie en sy hou haar net styf teen haar vas. Die lewe is so onvoorspelbaar en sy weet die gemis sal moeilik wees vir haar kindjie.
Karen en Anel begrawe saam 'n skat wat bestaan uit goedjies wat waardevol is vir hulle albei en maak 'n belofte aan mekaar om dit oor 'n paar jaar weer oop te grawe as hulle weer saam by die dorpie is. Hulle merk die plekkie met 'n plastiek pypie met helder kleure geverf en druk dit in die grond. Hulle maak seker dat niemand hulle sien nie, en verlaat die geheime plek.
Die dag van Karen hulle se vertrek kom vinnig nader en Anel neem haarself voor om glad nie na hulle huis te gaan nie. Ongelukkig word haar voorneme in die wiele gery toe Karen daar aankom met haar fiets en vra dat Anel saam sal kom na hulle huis. Anel is glad nie gretig nie, maar dit is Karen se wens en sy sal haarself nie vergewe as sy dit nie doen nie. Karen gee vir Anel 'n plantjie wat sy vir altyd moet bewaar vir haar en as sy verlang, moet sy net met die plantjie gesels. Die trek lorrie slaan sy deur toe en dit is tyd vir Karen-hulle om te vertrek. Almal huil dat die trane spat en Anel gaan plant en al terug huistoe en ook met die belofte dat hulle altyd maats sal bly. Sy is ontroosbaar en kry dit nie reg om vir die plant te kyk nie, dan wil sy weer begin huil. Om alles te kroon, bars haar pa haar babbel en vertel vir haar dat dit nie 'n plant is nie, maar onkruid. Sy besluit egter om nog met die plant te praat, onkruid of nie. Die floreer natuurlik soos 'n tipiese onkruid.
Gelukkig met tyd kom troos en skool hou haar baie besig. Dit is ook tyd om laerskool te verruil vir die heel groot skool en dit bring nuwe veranderinge en verantwoordelikheid mee. Sy ontmoet ook nuwe kinders en maak nuwe maats. Sy en Karen skryf nog vir mekaar en nuus word so uit geruil. Die een jaar kom verras Karen haar met 'n kuiertjie en die twee meisies besluit om die skat te gaan opgrawe. Na 'n gesukkel om dit in die hande te kry, iemand of 'n diertjie het die plastiek pyp verwyder, grawe hulle die skat uit. Die tassie waarin dit was, is sag van al die klammigheid in die grond. Die hangertjie wat een van hulle ingesit het, is geroes en die briefies wat hulle vir mekaar geskryf het, se ink is heeltemal van die papier af en die papier is gemif. So te se alles is vernietig, net hier en daar het 'n klein dingetjie die tyd en omstandighede weerstaan.
Elkeen se lewe het sy eie rigting gegaan, maar nog het hulle kontak met mekaar en jip, hulle is vir altyd maats.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Vir altyd maats?
« Reply #1 on: April 16, 2015, 01:56:25 PM »
Hier is net so ietsie anders.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Vir altyd maats?
« Reply #2 on: April 16, 2015, 02:12:21 PM »
Oulik.


 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Vir altyd maats?
« Reply #3 on: April 17, 2015, 07:24:27 PM »
 :headbang:
elle