Die mens soek iets
kosbaar jaag skarrel
'n wêreld broos korrup vervals
maklik vernietig word platgevee
helaas plastiek oneg
van seën gestroop.
die mens soek iets
feilloos spesifiek
'n geheim kom ontdek
swanger oomblikke in sekondes gestol
nestel so saggies teen jou lyf
jou hart se oë wawyd oop begryp
uitgelate vreugde ek wil net
'n happie daarvan
vir ander afbyt.
geheim in eenvoud
ken jy
'n sonsopkoms-stappie in verwondering
eerste sonstrale wat jou welkom groet
namiddag herfs hartlikheid herinnering
die goue-uur-dagsê
'n vetlyf akkedis
wat 'n warm klip uitsoek
duiwe in gelid
wat rustig ongeërg
oor die teerpad stap
'n Hadida sy mond gesnoer
talm skeefnek
in stilte beloer
hier nou
spesiale oomblikke wil jy graag besit
met God se oog in jou blik
omgord pantser jou menswees
in eenvoud
hierdie horlosie het weer begin tik.