Author Topic: Janneman, se sleg pa?  (Read 3324 times)

0 Members and 3 Guests are viewing this topic.

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Janneman, se sleg pa?
« on: October 19, 2013, 07:06:55 PM »
Janneman, se sleg pa?
Janneman sit in die klas dis warm en die onderwyser se stem laat sy gedagtes verdwaal. Langs hom sit Piet, sy tjomma, sy mond hang oop en ‘n dun straaltjie kwyl lek oor sy lip. Janneman voel nou minder sleg oor hy nie kan oplet in die klas nie.
Stadig sluip ou vrae wat sy ma nie wil beantwoord nie sy kop in, “Wie is my pa?”, “Waarom is hy weg?”, “Wat het hy gedoen, was hy ‘n dokter, ‘n brandweerman, wat?” Sy ma het altyd dieselfde reaksie. Sy word woedend, amper huil kwaad.
 “Jou pa is ‘n sleg man, Janneman, ek het jou al soveel keer gesmeek om nie oor hom uit te vra nie, hoekom wil jy mamma altyd so seer maak? Wat jou pa ons aangedoen het, is onvergeeflik, hy het gegaan toe ek hom die nodigste gehad het, onselfsugtiglik het ek jou alleen groot gemaak!” Met gebalde vuiste en rooi gesig het sy andersin mooi ma vir hom lelik geraak en hy was by tye selfs bang vir haar. Hy het dan net omgedraai en geloop, later het sy hom probeer troos en witvoetjie gesoek, maar hy was altyd bietjie meer as die vorige keer kwaad vir haar. Deur die jare het die klein stukkies kwaad groot, swaar hekke tussen hulle geword.
 Hy weet en sien hoe lief sy ma sy pa nog het, want ander mans hou baie van sy mooi ma en prober gereeld daar kuier, maar sy jaag hulle van haar af weg. “Daar was net een man vir my, Janneman se pa, ma”, het sy op ‘n keer vir haar ma gesê. Janneman kon sien hoe mooi sy ma glimlag, deur na haar refleksie in die kombuis venster te kyk, waar sy voor die wasbak gestaan het. Daar was ‘n opregte liefde in haar oë, wat hom later in sy kamer laat huil het. “My arme ma, wat kon daai pa van my haar aangedoen het, dat sy nog na al die jare die liefde en seer gelyk in haar hart kan saam dra? My slegte pa!”
Hy het dan hard prober om kwaad te wees vir die man, maar hoe? Hy weet niks van die man af nie! Sy ouma was ook geen hulp nie, sy wou nie haar dogter verloor nie, en wou gevolglik niks sê nie. “Miskien eendag sal sy haar kwaad vir hom verloor en jou dan alles vertel, my kind.” Dit was al wat sy ouma bereid was om te sê, en daarvoor het hy haar sommer gehaat. Hoe kan sy ouma so bang wees vir sy ma? Wat het sy pa dan aan sy ouma gedoen dat sy ook niks wil sê nie?
Janneman loer weer na sy vriend hier langs hom in die klas en hy dink hoeveel pret hulle al saam gehad het. Dis jammer dat vandag die laaste keer is wat hy die ou gaan sien. Sy ma is reeds tuis besig om bokse vol te maak van hulle goed. Hulle moet trek sodra hy van die skool af kom en hy mag al weer nie vir iemand daarvan sê nie. Sy ma skuld almal geld, die skool ook. Hulle moet weg wees voor mense van die werk af kom en sien hulle probeer vlug, reken hy. Hy is moeg daarvoor, maar bly stil omdat hy sy ma nie wil verloor nie.
 Sy ouma het vir sy ma werk gekry op die dorp waar hy gebore was. Sy ouma en ma het gisteraand die hele aand saggies gesels en sy ma het baie, baie gehuil. Later het sy erken dat dit die beste sal wees om daarheen terug te trek en die reuse salaris nie te versmaai is nie. Sy ouma was verheug daaroor, want dis ook waar sy woon. Toe vra sy ma ‘n snaakse ding. “Wat van hulle?” Sy ouma was gereed vir daai een. “Nee, my hartjie, meeste is al dood of te oud om te onthou en deur die jare het jy so verander! Hulle vra gereeld uit oor jou dan sê ek net jy het so verander hulle sal jou nie erken al loop hulle teen jou in die straat vas nie!” Sy het ‘n rukkie stilgebly en voort gegaan met, “Hulle verlang na jou, baie ook” Sy ma het gesê, “Ek weet, ek ook”, en bitterlik begin huil. Die hele ding was vreeslik vreemd vir Janneman, maar hy het niks daaroor gesê nie.
Die klok lui. Nou pak Janneman op, haastiger as voorheen. Die onderwyser praat nog oor iets van take inhandig of so iets toe Janneman soos n pyl uit ‘n boog verby hom skiet uit die klas uit! Hoe verder hy hardloop hoe meer spat trane uit sy oë. Hy moet hulle nou laat vloei. Hy kan nie tjank-tjank by die huis kom nie, hy moet sterk wees vir sy ma, Dis net dat hy die plek erg sal mis, want hy het lief geraak vir alles hier, maar niks en niemand is vir hom belangriker as sy ma nie, nie eens hy self nie.
By die huis kry hy sy ma hard aan die inpak, toe ‘n groot doos van ander af omtuimel. ‘n Aantal boeke en ‘n enkele ou foto val op die vloer. Sy ma raap die foto so vining op dat hy net ‘n baie klein blondekop seuntjie by ‘n groot man kan uitmaak. Aan die manier waarop die man die kind vashou is daar geen twyfel dat daar ‘n liefdes band tussen hulle bestaan het nie. Sonder om te dink sê hy, “Hallo mamma, kan ek daai foto sien? Ek het die ‘n mooi kyk van die oom se gesig gekry nie!” Sy ma skrik so groot dat sy gil, Sy was nie eens bewus van hom voor hy gepraat het nie. Vreemd!
Senuagtig probeer sy glimlag.  “Hallo my seun. Jammer ons trek al weer…”Hy weet sy wil sy fokus op die foto weg lei deur sy emosionele toestand uit te byt. Sy is waaragtig beried om sy hartseer vir haar gewin aan te wend. “Waarom wil ma die foto vir my wegsteek, wie is die mense in daai foto, ma?” Haar oë raak ys, en sy staar voor haar uit. Bewerig begin sy die foto in klein stukkies opskeer. Hy sien die pyn in haar gesig. Trane begin vloei en hy weet. “Was dit ‘n foto van my sleg pa?” Onverwags tree sy ma vorentoe en klap hom hard deur sy gesig. “Jy praat nooit, ooit weer so van hom nie! Hoor jy my?” Sy gil so hard dat sy ore meer as sy warm wang brand. Dis dood in hom. Hy draai om en loop stadig uit die huis uit. Nadat hy in sy gunsteling boom geklim het, breek die ingehoude dam hartseer binne-in hom. Sy maer lyfie ruk soos die huil hom oorval. Hy laat loop, gee nie meer om nie. Later toe sy bene dood geraak het van die ongemaklike tak waarop hy hulle by ingehaak het, klim hy uit die boom uit. Die Vragmotor het reeds alles opgelaai en sy ma se Volkswagen is ook gelaai, selfs bo-op die dak. Sy ma staan op die stoep. Hy sien sy het gehuil. “Kom ons moet ry, ek wag al meer as ‘n uur vir jou.” 

Die pad is hel vir hom. Hulle praat nie die heel pad met mekaar nie. Hy weet sy ma het diep wortels in die “nuwe” dorp neergelê, maar hy durf haar nie daaroor uitvra nie. Te veel het reeds vandag gebeur. Hy draai hom van haar weg, krul himself op die sitplek in ‘n bondeltjie op en raak aan die slaap.
***
Hy word wakker van die oggend son wat deur yl Jacaranda blare in sy gesig skyn. Dit lyk na laat oggend vir hom. Hy is nog in die motor, alleen! Hy wil-wil paniek bevange raak, toe ‘n skadu skielik voor die son verskyn wat sy gesig teen die skerp son beskerm. Hy maak sy oë met sy maer vuisies skoon van oortollige slaap en sien die lyf van ‘n man amper teen die motor staan. “Toemaar, jy is veilig. Jou ma is besig om julle nuwe huis vir jou mooi te maak. Ek het gehoor dat sy sleg voel oor wat gister tussen julle gebeur het. Jou ouma is ook hier.” Die diep stem is baie vriendelik en Janneman weet die man praat met ‘n glimlag. “Ek dink dis gepas om jou te verwelkom in die pragtige dorpie van ons. Mag jy lank en lekker hier woon”, sê die man en hy lag vriendelik. Janneman sit regop, hy wil nie lê as hy met ‘n grootmens praat nie.
 “Janneman!”, roep sy ma, “Moenie uit klim nie. Ek en Ouma wil jou verras. Gee ons nog ‘n minuut of wat?” Hy sien sy ma het haar hare in ‘n bolla op haar kop vasgemaak, mop in die hand. “Goed, mamma. Ek sal sommer nog met die oom praat!” Sy ma lag lekker en skud net haar kop en klink opgewek. “Hoor vir hom! Hy is nog deur die slaap, ma. Hy verbeel hom mense praat met hom. Gebeur maar as mens reg deur die nag met jou kind moet ry om by jou nuwe lewe in ‘n ou bestemming te begin!”
Sy ma se woorde tref hom, waarom sou dit vir haar so onwaarskynlik wees dat iemand nou-net hier by hom was, en met hom gesels het, hom selfs verwelkom het! Soos ‘n meerkat loer hy rondom hom. Dis ‘n baie mooi huis waarin hulle nou ingetrek het, maar die straat is stil en dis duidelik dat hier net werkende mense of ou mense woon, want vir ‘n Saterdag oggend is dit dood stil buite. Dis so stil dat hy die sagte wind deur die blare kan hoor waai. Hier en daar pluk nuuskierige bure hulle gordyne toe uit vrees dat hulle betrap sal word terwyl hulle onbeskaamd die nuwe intrekkers afloer. Hy hou sy hand oor sy mond en lag ondeund. Hy kyk na die huisie direk oorkant hulle nuwe huis aan die oorkant van die pad, die person het net te laat die gordyn toegepluk. Hy waai, maar kry geen reaksie nie. Dan doen hy dit weer en  dan stadig skugter soos ‘n muis kom ‘n oumens handjie te voorskyn wat geesdriftig terug waai. “Aitsa, nuwe vriend gemaak,” dink hy.
“Die nuwe huis is regtig pragtig, Victoriaans.” verduidelik sy ma. Sy kon ook Romeins of Grieks gepraat het, sou vir hom dieselfde beteken het. Sy kamer en sy ma se kamer is oorkant mekaar en dan’s daar ook ‘n kamer vir ouma, sou sy wou oorslaap en dis dan ook die laaste vertek wat hulle saam netjies inruim. Ouma betaal die trekmens met ‘n klomp note en hulle vertrek. Janneman is absoluut mal daaroor dat hulle in ‘n huis kan woon wat trappe boontoe het, na die kamers en badkamer en dat dit na ‘n baie netjiese spook huis lyk.
Hulle sit sommer almal op die stoep, hy, sy ma en sy liewe ouma en ewe-skielik is hulle daar. ‘n Klomp mense kom na hulle aangestap, almal hou iets vas en soos hy kan uitmaak is dit alles eetgoed! Vriendelik en skaam-skaam kom hulle en oorhandig elkeen sy bak of houer gevul met individuele gespesialiseerde disse, bestaande uit lekker soetgoed of heerlike kos vir sy ma en ouma en hom. Hulle stel hulself voor en ja, hulle is almal ou mense. Hy hou onmiddelik van almal en gee nie om as sy ma hom daar laat staan dat hy almal se hande skud nadat hy voorgestel word aan elkeen van hulle nie.
Sy ouma ken hulle almal, sy roep hulle op hulle voor- of byname en hulle respek vir haar is sigbaar. Een person sien hy egter nie, die een wat vir hom terug gewaai het toe hy vroeër in die motor was. Sy ouma sien sy soekende oë. “Sekere mense is meer skaam as ander, my skat, soms is die wag die moeite werd. Daardie omie woon al hier van voor ek en jou oorlede oupa hierdie huisie vir jou ma en pa gekoop het.” Sy weet sy ma hoor haar nie en hy kan die kode in haar sin verstaan. “Dankie Ouma, ek het geweet ouma het ‘n plan,” lok hy haar uit. Sy val daarvoor deur vir hom te oog te knip.
***
Dis by die skool wat dinge moeilik gaan vir Janneman, om die een of ander rede kan hy nie aanpas nie. Almal speel rugby, maar hy was nie lank genoeg op ‘n plek om die reëls van die spel te leer nie. Hy is maer en klein teen die ander seuns. Sy ma gaan skool toe na hy gelieg het oor hoe hy ‘n blou oog gekry het, daarna is die rugby meneer baie vriendelik met hom en vra of sy ma iemand sien en sulke snaakse goed wat niks sin vir hom maak nie, so hy ignoreer die man se vrae. Later gee hy mee onder die druk en meld homself by die rugby veld aan, wat ‘n fout was. Die oefening was ‘n reuse gemors. Hy was hopeloos en dit het duidelik geraak dat hy terug gekry gaan word na afloop van die oefening. Hy het sy fiets gaan haal en bang-bang agter die paviljoen probeer weg sluip toe die vyf seuns hom inwag. Sy fiets is rof uit sy hande gepluk en hy was op die grond neergesmyt. Hy het sy oë styf toegeknyp toe die rooikop Potgieter seun hom met die vuis op die oog wou slaan, want sy bynaam was Shiner gewees. Die vuishou het egter nooit die teiken getref nie. Hy het stil bly lê op die grond, oë styf toe geknyp en geluister hoe al die voornemende Boelies soos maer varke gil en weg hardloop. “Jy kan nou opstaan, dis veilig,” het ‘n bekende mans stem vriendelik gesê.
 Janneman, het vernederd gevoel en kon die oom nie in die gesig kyk nie. “Ek sou terug geveg het, oom, ek wou. Ek weet nie hoekom ek nie kon nie,” probeer hy sy eer red.
 “Jy hoef nie soos ‘n skollie in die stof te rol soos hulle nie. Jy’s beter as dit. Jou ma het jou nie so geleer nie en jou pa verwag dit ook nie van jou nie,” sê die man vriendelik, tog ferm.
Janneman tel sy fiets op en sien die man wegstap. Die man het blonde hare, helder is die laat middag son. Toe die man weg is en Janneman huistoe ry hy dink terug aan die vriendelike oom wat hom welkom geheet het net toe die son sy gesig seer begin brand het en nou skielik verby geloop het, toevallig net betyds om hom van ‘n helse pakslae te red en net daar onthou hy die man se woorde: “…en jou pa verwag dit ook nie van jou nie.”
 Hy trek net daar rem en jaag terug skool toe. Hy wil sien waarheen die man geloop het. Die oom ken sy pa of weet van sy pa. Vir hom wat niks weet of mag weet van sy pa nie is daai iets baie blangrik.Hy kom voor die sport gronde se hek tot stilstand. Dis gesluit, maar hy gaan dit nie daar laat nie. Hy ry tot min of meer waar die man sou uitkom. Hy loop pyl reguit oor die rugby veld. ‘n Muur toring voor hom uit. “Wel, aan die positiewe kant is daar ‘n redelike groot gat in die draad, waardeur hy kon klouter, maar waarom sou die man, groot soos hy is, dit wou doen?”
“‘n Raaisel. Ek hou van raaisels. Deel dit met my dan los ons dit dalk saam op en dalk die eerste van vele wat ons so saam kan doen,” sê ‘n vrolike bejaarde mans stem agter Janneman, wat homself bykans vrek skrik. “Toemaar seun, ek sal jou geen skade aan doen nie. Ek en die tante het jou baie mismoedig hier gesien sit en na die muur sien staar. Ons was destyds net so hartseer toe die skoolraad besluit het om die vieslike muur hier op te rig, ons was ‘n paar van vele in die straat wat lekker gratis vanaf die gemak van ons stoepe die sport byeenkomste kon geniet het.” Die oom lag soos ‘n vrolike Kersvader. “Kom jy?” vra hy. “Ons tee raak koud. Jy herinner my aan iemand wat ons baie jare gelede verloor het.”
 Janneman het die ou oom gevolg, op die stoep het hy die Tante vertel van die dag se gebeure, daarna het hy baie ander goed ook met die twee gedeel, later het die oom sy ma gebel om gesê waar hy is, dit was reeds laat toe die oom hom , met sy fiets agterop sy bakkie by sy huis afgelaai het. Dis was vreemd vir hom dat sy ouma die deur oopgemaak het en nie sy ma nie. Hy was vir die eerste keer in sy lewe gelukkig op ‘n manier wat vreemd was vir hom, hy was ook verbaas toe sy ouma die oom se hande in hare neem en die ou man saggies snuk, terwyl hulle rustig soos ou bekendes gesels het, en sy hom getroos het. Die laaste woorde wat hy kon hoor voor hy aan die slaap geraak het was die ou oom se diep stem wat sê, “ die Here sal jou na dese ryklik sëen, vir wat jy vir my en my dierbare vrou vandag beteken het, San, en ons beloof om niks te sê sonder julle uitdruklike toestemming nie.” Wat sou dit alles beteken. Het hy gewonder.
Sy ma het vir ‘n paar dae daarna net oor die nodigste allerdaagse goed met hom gepraat, asof sy ‘n diep geheim wou deel, maar dit nie kon uitkry nie, al wou sy, by tye het hy haar betrap waar sy hartseer na hom kyk.
Sy het nou dikwels werk huistoe gebring, iets wat sy voorheen nooit gedoen het nie, en dan terwyl sy in die studeerkamer gesit en werk het, ‘n deuntjie geneurie, dit was mooi en hy het haar dit nog nooit hoor sing nie, dit was pragtig en hartseer. Hy het dan gewonder waar sy ma daardie liedjie gehoor het, maar nie gevra nie. Hy wou nie hê sy moes dit deel nie, want dit het haar gelukkig gemaak.Hy wou dit nie ongedaan maak nie. Hy het vir himself net ‘n koppie koffie gemaak en op die stoep gaan sit en daarna geluister.
                                                         ***
So het Janneman toe weer op die stoep gesit op ‘n baie warm aand en die koel windjie tussen die bome teen sy vel prober voel, ‘n reuk soos naskeermiddel het aangenaam sy neus gevul, “Naand, ou seun!” het die glimlaggende blonde, man vir hom gegroet waar hy by Janneman se tuin hekkie gestaan het, Janneman het dadelik die stem erken, maar nie die gesig nie. Verbaas en opgewonde sit hy penorent, “Oom!”, sê hy, “ ek wil dankie sê vir die ander dag en oom nog gevra het of oom my pa ken…?”
Die man glimlag vriendelik, maar wys na die voordeur,“Die liedjie wat jou ma daar besig is om te sing het jou pa spesiaal net vir haar geskryf en gekomponeer, min vroue was soos sy bemin .” Janneman, kyk verbaas na die voordeur in die rigting wat die man wys, “ ek het dit geweet!” sê hy, toe hy weer kyk is die man weg, hy staan op om te kyk waarheen die man gegaan het, skielik ruk sy ma die huis se voordeur oop, sonder waarskuwing gryp sy die stomme Janneman, aan beide sy skouers, en vra, “ruik jy dit ook of is ek besig om weer mal te raak?” “Eh-eh, Bedoel ma die parfuum?” Sy knik haar kop, om ja aan te dui en hy weet dat dit nie sy verbeelding was nie. “ Ja, ek ruik dit ook, ma”
Sy ma sak op die stoep se houtvloer in ‘n sittende posisie af, trek haar seun na haar toe aan en sê saggies vir hom, “hy is hier, ek voel dit, vandat ons terug getrek het is hy weer naby.” Die arme kind weet nie wat om te sê of te dink nie. Hy besluit om net daar te wees vir sy ma. In sy hart die stille gebed dat hy tog eendag iemand gaanmoet vind wat hom nie so in die steek sal laat, soos wat met sy ma gebeur het nie. Hy voel tog aan dat daar meer agter dit alles skuil , as wat hy tans dink en hy besef dat alles nie pluis is! Alles was anders in hulle lewens vandat hulle in die huis terug getrek het.
                                                         ***
Janneman, het ‘n paar stil maande agter die rug, hy weet dat nie almal in sy skool van hom hou nie, maar hoe meer en meer hy ‘n man word hoe minder maak hulle afkeurige oë hom seer, die dag na die aanval op hom het niemand meer gewaag om naby hom te kom of skoor te soek met hom nie. As ‘n onkundige person of groupie dit sou waag of planne wou maak is hulle deur die wat weet eenkant toe geneem en daar is baie gefluister. Daarna sou die person of persone hom ook met die nodige respek behandel, selfs die onderwysers was baie, beskaafd met hom gewees.
Hy het gereeld na die Paviljoen gegaan , daar het die Blonde man gesit en wag vir hom, “ Wat doen ons vandag, oom?” Dit was altyd iets lekkers wat hy aangemoedig was om te doen, iets om hom sterk te maak, soos oefeninge of ander kere moes hy net praat oor wat hom pla, die blonde man het dan net aandagtig geluister en sy swart bruin oë het geen geheime bekend gemaak nie, hy het nooit veroordeel, nooit opinies gehad of openlike raad gegee nie, sy vrae het Janneman gelei na sy eie antwoorde en eie betekenis aan sy lewe gegee. Janneman het ook na die oom en tante agter die skool gegaan, by hulle kon hy afpak en sy emosies, kon hy daar by hulle sy innerlike gevoelens en lug laat kry, uit die kas waarin hy hulle moes bêre vir die behoud van sy ma, wat probleme van haar eie gehad het. Hy het hulle lief gekry soos sy eie, maar hy het geweet dat hy niemand met die kennis van sy oom, die blonde man mag vertrou nie.
 Oor die oom en tante by die groot muur, was die blonde man baie besorgd, dikwels het hy vir Janneman gevra om die tante stywe drukkies te gee en met haar tyd deur te bring, ook moes hy toelaat dat die oom hom leer hoe om met hout , leer , metal en ander gereedskap te werk, en dat die dinge nie net vir hom nie, maar vir hulle ook belangrik was.
 Dus het Janneman baie tyd by hulle spandeer. Hy het vining begin hou van alles by die ou mense se woning. Waarvan groente-en kruietuin maak ‘n gunsteling tydverdryf was, hy het haar,Tante Marie graag in die kombuis gehelp om vrugte in te lê, konfeit te kook of deeg geknie vir die lekker brood wat hulle gebak het, en soms sy ouma gebel en daarna daar oorgeslaap, sy ma het nie gekla nie, want hy het haar baie lekkernye saamgebring en ekstra moeite gedoen om tyd met haar te spandeer na afloop van sy kuiertjies. Dis asof sy ma ‘n ongeskrewe ooreenkoms met hulle gehad het, hulle het mekaar met sy opvoeding vertrou.
Sy ma was egter nooit by die huis as die twee ou mense daar ‘n draai gemaak het nie, net sy ouma en sy het hulle met baie teerheid en liefde behandel.
                                                 ***
Dit was weer ‘n middag so ongeveer 15:15 toe Janneman, ‘n kosblik te voorskyn bring terwyl hy en die Blomde man op die paviloen gesit het, daarin was twee heerlike groot Hertzog koekies, die Blonde oom, wat altyd net lag as Janneman sy naam vra, se oë het gerek van aangename verbasing, “magtig my gunsteling!Het my ma hulle gebak? Wag, laat my  raai, jy het haar seker weer gehelp, nie waar nie?”Hy lag heerlik.
Janneman, se verbasing was baie groot, want dit was die eerste keer dat die oom iets van sy familie gesê het, gevolglik vra hy,“Wie is oom se ouers, oom Buks en Tanie Marie, agter die groot rooi bruin skool muur?”
 Skielik maak alles vir hom baie sin. “Waar woon oom, en wat is dit met die klere wat oom dra, dis altyd skoon, maar presies dieselfde klere elke keer as ons mekaar sien”  Hy kyk die blondeman diep in die oë, “Is ek oom se enigste vriend?” Ja, knik die ouer man sy kop, maar hy sê niks verder nie, “vat een, hulle is lekker?” Janneman neem een Hertzog koekie en stoot die kosblik met die oorblywende een na die Blonde man se kant toe, “ hoekom vat oom nie een nie?”
Hulle het nog ‘n rukkie gesit terwyl Janneman sy lekkerny verslind, en toe hy weer langs hom kyk is die blondeman weg. “ Hoe doen hy dit?”
 Hy het opgestaan en huistoe gegaan, sy ma het na sy kamer gekom later die aand en gevra waar hy was en saam met wie, Janneman het regop gesit. Sy ma met helder diep donker bruin oë aangekyk, sy goue blonde kop gevry en gesê, “ By die man wat ek elke na skool by sit. Die man wat my leer om myself te verstaan, my leer wie en hoe ek eendag wil wees, wat my sterk help wees. By wie se ouers ek gereeld gaan kuier, die man wat met jou getroud was, mamma. ‘n Groot blonde kop man met die vriendlike swart bruin oë, wat lekker ruik, ek was by, my pa”, sê hy saggies skaars hoorbaar, meer aan homself as aan haar.
Hy gaan voort soos dit alles duidelik raak vir hom , sy oë styf in sy kop gefokus op die vêr punt van sy kamer, “ek was by ‘n mens wat eens ‘n man en ‘n pa was, maar nou kan verskyn of verdwyn soos hy wil, hy het nie weggehardloop of ons sommer net verlaat nie, hy het gesterf. Dit was nie ‘n keuse wat hy gemaak het nie, dis iets wat onverwags met hom gebeur het , my pa is dood maar hy is die beste pa ooit.”
Sy ma draai haar gesig van hom weg en sonder om ‘n word te sê knik sy net haar kop, maar sy bly by hom, haar hand rus vriendelik warm op sy skouer.
Sy ouma kom die kamer ook binne, uit ‘n ou maar netjiese album haal sy n groot foto uit, sy plaas dit voor Janneman neer, “die baba in die foto is jy, jou pa was ‘n groot blondkop man met swart bruin oë hier kan jy hom in sy Polisie Uniform sien, dis geneem enkele dae voor sy tragiese dood, in die foto is almal met wie jy jou lewe nou deel, maar een van hulle moet jy groet, jou verhouding met die jou pa kan nie gesond vir jou wees nie, my lief.”
                                                  ***
Na jare se oefen en voorbereiding staan Janneman netjies geklee in ‘n netjiese uniform, hy vee die blink knope van sy “Tunic” vining skoon , sy pet is op sy kop, hy spat sy Old Spice op sy gesig, oor sy skouer loer sy pa trots vir hom in die spiëel, “Hoe lyk ek vir pa?” Vra hy?”
“Jy is pragtig my seun. Is jy reg? ‘n Man passeer net een keer uit as ‘n polisieman, dan is dit werk, werk en nogmaals werk. Sien jy kans?”
“Natuurlik! Het ons nie vir die afgelope vier jaar hiervoor reggemaak nie, pa?” Janneman tree trots saam met sy makkers aan, hy weet sy ma,  twee oumas en oupa wag saam vir hom in die stadium, en hier loop sy pa ,langs hom. Kan die lewe meer volmaak wees?

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #1 on: October 20, 2013, 12:03:51 PM »
Ek het lekker gelees aan jou storie. Sommer amper   ge :crybaby2: . Verrassings element op die einde.

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #2 on: October 20, 2013, 01:07:06 PM »
Dankie, Sus, ek het die "twist" ingesit sodat dit nie nog 'n tipiese "sad" storie moet wees nie. :evil6:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10723
  • Gender: Female
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #3 on: October 21, 2013, 09:13:49 AM »
Baie mooi storie, goed geskryf.  Dankie vir die deel Rainier.  Ek sien uit na die volgende storie uit jou pen. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Ans Botha

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 362
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #4 on: October 21, 2013, 10:44:44 PM »
Baie mooi geskryf Rainier. Ek sal weer kom lees. Dankie vir die stuk ek het dit geniet.

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #5 on: October 22, 2013, 08:50:30 AM »
Dankie PM en Ans, sekere goed is so finaal, met die storie het ek probeer speel met die idee dat dit dalk nie so finaal is nie.  :crybaby2:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10723
  • Gender: Female
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #6 on: October 22, 2013, 10:06:45 AM »
Jy het goed daarin geslaag Rainier.   :icon_salut:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #7 on: October 22, 2013, 11:47:02 AM »
Dankie, PM, ek sal dit waardeer as iemand iets raaksien waarop ek kan verbeter, ek leer ook maar nog stories skryf, en julle is die enigste mense, behalwe vir my kinders wat die goed lees.

Offline Ans Botha

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 362
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #8 on: October 22, 2013, 03:28:10 PM »
Rainier kontak my op my epos ansie@jenny.co.za

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10723
  • Gender: Female
Re: Janneman, se sleg pa?
« Reply #9 on: October 22, 2013, 04:35:52 PM »
Gewoonlik doen ek proeflees voordat die werk in die boek geplaas word.  Ek weet nie of jy aan boek drie wil deelneem nie.  Dit kos R100 per bladsy.  Dit sal nog 'n paar maande duur, ek gee eers die ouens kans om nog bietjie te spaar.  Ek sal in elk geval vir jou proeflees, gee my net 'n kansie. 
Om te weet is om te verstaan.