Author Topic: Die Gogga-droom  (Read 3508 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Die Gogga-droom
« on: October 10, 2013, 12:07:06 PM »
Gogga droom

“Ai, grootmense darm”, sug Willie. Hy wil tog nooit ‘n grootmens word nie. Sy ma lees gereeld vir hom uit sy gunsteling storie ‘Peter Pan’, wat nie wil grootword nie. Hy voel net soos Peter en wil self vir altyd ‘n seuntjie bly. Kinders het nog lekker verbeelding en kan speel net wat hulle wil. Grootmense verstaan nie aldag hoekom kinders doen wat hulle doen nie. Sy ma het gesê hy moet sy erdwurm maatjies begrawe en hulle is nie eers dood nie. Dit nadat hy so lank gevat het om hul uit die grond te kry. Hoe kan hul dan asemhaal as hulle binne in die grond is. Sy ma het iets verduidelik van dis hulle veilige plekkie en dis waar hulle wil lewe, maar hy weet darm nie so mooi nie. Hy het dan gedink hy red hulle. Eintlik hou sy ma nie daarvan dat hy met gogga’s speel nie. Dit laat haar vreeslik gril. Willie het die gogga’s  selfs gehappie toe hy ‘n babatjie was en wanneer sy pa van die werk af kom, het hy sy pa begroet met ‘n mondjie waarvan die gogga dele nog daaraan besmeer was. Hy kry sommer lag vir daardie prentjie wat dit in sy verbeelding optower. Sy pa se vies gesig. . .hahahaha

Willie wens hy was ook ‘n gogga. Niks daarmee verkeerd nie. Dis waar die verbeeling deel inkom, sien. Sy verbeelding hardloop so met Willie weg dat hy heeltemal onbewus raak van sy omgewing. Hy was nog besig om die wurms in die grond te begrawe en soos hy dieper grawe, so word hy al kleiner dat hy later nie meer kan grawe nie. Die gat wat hy gegrawe het toe hy nog groter was, is diep en hy wonder hoe hy ooit hieruit gaan klim. O genugtig! Hy het nie meer bene nie en nog erger, geen arms nie. Wat is besig om te gebeur?! Willie word nou baie benoud. Dinge lyk sommer reusagtig. Die klippies wat netnou nog klein was, is groot rotse. Die tonneltjies wat hy in die grond ontdek het wat die miere so lekker grou, is reusagtig. Was dit nie dat hy dit oopgegrou het nie, was hy daarin vasgevang en dit is ‘n vreeslike gedagte. Hy besef hy is ‘n insek en is sommer klaar spyt oor wat hy gewens het. Die gras is nie meer onder sy sitvlak soos netnou nie, maar so hoog dat hy nie oor dit kan sien nie.
Willie besef dat hy nie vir altyd hier kan bly nie. Netnou kom iemand en trap op hom. Hy moet eerder hier uit. Hy kruip moeilik uit die gat, want hy het nie bene of arms om mee te klim en klouter nie. Nadat Willie uit die gat is, kyk hy af na waar sy bene altyd was en sien hy ‘n groen lyf met klein potjies op elke segment en weet hy hy is ‘n wurm! Dis ‘n skok, want hoekom juis ‘n wurm! Kon hy nie maar eerder net ‘n besie wees of ‘n sprinkaan nie. Nog lomp in sy eie wurm lyf, weet hy nie so mooi wat hom te doen staan nie. Hierdie is nou gogga wêreld en daarmee moet hy nou die beste van maak.

Hy begin lag, want nog nooit het hy van ‘n wurm gehoor met die naam, Willie nie. Willie die wurm. Ga! Willie verlang skielik na sy ma. Hy wens hy kon haar vra wat hom te doen staan. Hy wil nie vir altyd ‘n wurm bly nie. Ongelukkig moet hy ver van haar afbly. Sy sal hom sommer met haar pantoffel vermorsel. So baie het hy daardie grusame dade al gesien. Sy spuit hul  sommer met insekdoder ook. Grote Griet!. Dit sal ‘n groot ramp wees! Skielik voel die wurm ‘n windjie oor hom waai en so skielik soos hy dit gevoel het, is dit weer weg. ‘Eienaardig’, dink hy. Die raaisel word opgelos toe hy ‘n groot voël gewaar wat nie te ver van hom af sit nie. Tot sy eie verstomming, pik die voëltjie ‘n kewertjie op. Hy kyk met afgryse hoe die kewer in die voëltjie se snaweltjie verdwyn. Ook hoe die voëltjie sy koppie agtertoe buig en die kewer insluk. ‘n Rilling trek deur Willie. Dit gaan sy voorland ook wees as hy nie vinnig laat spaander nie. Gelukkig is hy ‘n groen wurm en maak daarop staat om nie tussen die gras raakgesien te word nie. Terwyl die voëltjie se koppie nog agtertoe gebuig is, seil Willie vinnig weg. Die gras is gelukkig sy redding en hy vat ‘n blaaskans net daar. Hier voel hy veilig, maar dit duur net ‘n rukkie, want nou voel hy verdwaal. Hoe nou gemaak om te weet waarheen. Die gras is so lank en hy kan niks sien nie.
Gelukkig vir willie kom die insek wat hy eerder wou wees, nader gespring. Sprinkaan is haastig iewers heen en Willie wil by hom weet hoe gemaak om nader aan die huis te kom. Die sprinkaan het nie tyd vir praatjies nie, maar die wurm voor hom lyk so moedeloos dat hy besluit om die outjie te help. Met sy voorpoot wys hy agtertoe en vra vir Willie wat hy by die huis wil maak. Willie verduidelik dat hy nie ‘n wurm is nie, maar ‘n seuntjie wat graag wil terugkom in sy eie kamer en eie bed en hy glo as hy dit eers reggekry het, hy sal wakker word en sien dit was net ‘n nare droom. Die sprinkaan kyk Willie ongelowig aan en bars uit van die lag. Bars ja, want dit lyk behoorlik of die sprinkaan oopvou van die lag. Sy vlerke gaan oop en sy bek hang oop soos hy lag.  Willie verkyk hom aan die sprinkaan wat so lag en besef nie regtig wat die grap is nie. Sprinkaan vertel hom dat elke gogga seker op ‘n keer al gewens het hy kon mens wees, maar dit is darm net te snaaks en onmoontlik. Van mens tot wurm, dit is net te veel vir so ‘n klein sprinkaan brein om in te neem en in daardie laggende toestand, verlaat die sprinkaan Willie al springende. Nou is dit tot daarnatoe en Willie seil vinnig in daardie rigting wat sprinkaan beduie het.

‘n Rukkie later is Willie poegaai. Waar hy aan die begin gesukkel het met hierdie wurm lyf, het hy dit so goed al begin regkry om te beweeg, dat hy homself verbaas het. ‘n Skilpad sien Willie aangeseil kom en Willie dink dat skilpad hom gaan hap en knyp sy ogies styf toe. Hy wag vir die hap om te gebeur, maar niks. Hy kan die spanning nie meer hou nie en sy ogies flikker oop. Skilpad het nader gebuig, maar nie om hom te hap nie. Hy buig nader om Willie te kan sien. Arme skilpad is amper blind en sukkel om behoorlik te kan sien. Hy vra vir Willie wat hy is en Willie vertel hom dieselfde storie. Dis vir skilpad ook snaaks, maar hy hou homself in. Die arme wurm moet maar glo wat hy wil glo. Skilpad bied aan om saam met Willie na sy huis toe te gaan. Hy wil tog nie sien dat die arme wurmpie iets moet oorkom nie. Hy wat skilpad is, het darm nog ‘n dop wat hom kan beskerm, maar die wurmpie het net ‘n sappige, sagte lyfie. Willie is baie dankbaar om ‘n vriend te hê wat saam met hom sal gaan. Hulle gesels te lekker en Willie ontdek dat skilpad al baie ver gestap het in sy lewe en ook baie slim is, maar dat hy nou ‘n plekkie soek om sy ou dae net rustig deur te bring. Hy vra nie veel nie, net ‘n rustige plekkie om te rus en genoeg kossies om van te lewe. Willie vertel hom dat skilpad met graagte by hulle kan woon. Hulle erf is lekker groot en daar sal niemand vir skilpad seermaak of pla nie. Hy wat Willie is, sal hom lekker kos en water kan gee. Skilpad is baie dankbaar en weet hy is in goeie hande wanneer Willie weer mens word. Met al Willie se vertellery, besef skilpad dat net iemand wat soveel van mens goeters af weet, self ‘n mens kon wees.

Die pad huistoe het nog nooit vir Willie so ver gevoel nie. As mens seuntjie stap hy dan net ‘n paar tree en is hy by die deel waar hy so lief is om altyd te speel. Hy weet ook met al die boeke wat hy gelees het, het hy nie baie tyd nie, want wurms eet gewoonlik heeldag en word later ‘n papie. Die papie broei dan uit en word ‘n mot of skoenlapper. Hy wonder nogal of hy ‘n mot of skoenlapper sal word. Hopenlik ‘n skoenlapper, want hulle is darm baie mooier. Nee! Wat dink hy? Hy moet mos ‘n mens word voor al daardie stadiums gaan gebeur. Mapstieks! Hoe kon hy daarvan vergeet het! Hy kom nie eers agter dat hy kort-kort eet nie. Hy eet al ‘n paadjie oop, so baie eet hy. Skilpad sien dit nie eers raak nie, hy droom al klaar van hoe hy lekker gaan aftree by Willie. Hulle sal dan net nie so lekker kan gesels soos nou nie. In die gogga lewe gee hulle mos nie om om met ‘n mond vol kos te praat nie. Daarom gesels die twee vriende aanmekaar.

Hulle kom uiteindelik by die paadjie wat Willie-hulle opstap na hul huisie. Willie is so bly dat hy wens hy was nou ‘n seuntjie. Hy sou dan sommer die paadjie uithardloop en by die huis instorm. Nou moet hy nog op sy magie seil en dit voel net te ver. Skilpad stap geduldig saam tot hul die trappie wat na die stoep lei, bereik. Hier moet hy afskeid neem van Willie die wurm. Hy kan nie verder ingaan nie. Hy besluit om hier te wag en te kyk wat gebeur. Hy help Willie by die eerste trappie op en van daar moet Willie self sien kom klaar. Hy seil by die ander twee trappies op en is vinnig op die stoep. Die kat lê lui uitgestrek op die bank. Sy sien die groen wurmpie verby haar seil, maar wil nie eers opstaan om dit van naderby te ondersoek nie. Willie sug verlig en seil die huis in. Hy besef skielik hoe moeg hy is en gaan reguit na sy kamer met die hoop sy ma sien hom nie raak nie. Hy seil en kom tot stilstand by sy bed. Hy wonder of hy tot bo sal kom en seil tot by die bed se naaste poot. So wrintie waar! Hy kry dit reg en wat ‘n saligheid is dit nie om weer op sy eie bed te lande te kom nie. Daar word hy aan die slaap.

 ‘n Lang ruk later word Willie wakker. Hy onthou skielik van sy droom wat hy gehad het, maar is te bang dit was nie ‘n droom nie en hou sy ogies toe. Stadig maak hy hulle oop en loer deur skrefies na die plafon. Hy draai sy koppie regs en sien sy kamer. Hy probeer sy arm oplig en sowaar! Dit werk! Hy sien ‘n arm en ‘n hand.  Sy ogies vlieg oop, hy sug van dankbaarheid en gee ‘n opgewonde gil. Hy is weer ‘n seuntjie! Sy ma storm sy kamer binne om te kyk wat aangaan en Willie strek sy armpies na haar uit. Hy gee haar ‘n stywe drukkie en ‘n soentjie op haar wang. Sy is vreeslik verbaas en vra hom wat makeer of hy ‘n nare droom gehad het. Hy vertel haar alles en sy skud haar kop, saam hom bly dat hy nie ‘n wurm is nie, maar haar pragtige seuntjie. Hy gaan wys haar later sy skilpad wat hy sommer Spoedniek gaan doop. Spoedniek kyk Willie net aan en vreet aan die blaar wat Willie hom voer.

Willie het 'n goeie verbeelding en sy dae van met gogga's speel is vir eers op ‘n einde. Hy weet ook dat dit nie lank gaan wees nie, dan wil hy weer iets anders wees. Dit is mos wat seuntjies doen. Droom altyd daarvan om iets anders te wees. Die skilpad is nog steeds vir hom geselskap met die verskil dat die skilpad hom net met 'n stom gesig aankyk. Hy gee glad nie om nie, want dit gee hom meer kans om te gesels. . . ha-ha-ha

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Gogga-droom
« Reply #1 on: October 10, 2013, 12:26:28 PM »
Nog 'n mooi storie Anicia.   :icon_salut:  Dankie vir die deel.  

Hier is 'n skakel na los en vasskryf van woorde.  Dit is effens lywig, maar dit help baie. 

http://forum.afrikaanseforum.co.za/index.php?topic=77.0

« Last Edit: October 10, 2013, 12:30:22 PM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Die Gogga-droom
« Reply #2 on: October 11, 2013, 09:24:10 AM »
Heerlike leesgenot.

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Die Gogga-droom
« Reply #3 on: October 15, 2013, 08:00:39 PM »
Oulike storie, Anicia, my kinders het dit ook baie geniet.  :hello2: :notworthy:

Offline Anicia

  • Suigeling
  • Posts: 95
Re: Die Gogga-droom
« Reply #4 on: October 17, 2013, 10:51:21 AM »
Baie dankie! Ek is so bly wanneer kinders dit geniet. Hoop dit wakker die verbeelding aan  :hello2: