Author Topic: vir KANSA  (Read 3714 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
vir KANSA
« on: August 20, 2013, 10:12:46 PM »
Vir KANSA
 
Sy afspraak: 8:45
Dr Erasmus het baie te sê gehad oor oorsaak, oorsprong, moontlikhede, maar wat hy ookal kon sê, die verdoemende woorde waar ons nie kan verby nie … PANKREASKANKER
            En hy het gesê “… moet my nie vra hoeveel tyd jy oor het nie; die Here is die enigste Een wat daaroor besluit.”
Hy kom elke tweede week Kroonstad toe … “en dis daar waar ek jou gaan sien en chemo gee, oorkant die Kroon-hospitaal.”
 
Ons stop voor die hoofingang van Kroon-Netcare om te vra watter “oorkant”.
 
“Daardie rooi gebou, jy weet, daar waar die psigiaters se kamers is?”
 
Ek weet nie. “Ek was nog nooit hier nie.” Maar dis net langsaan.
 
Buite kom Susan aangestap na haar apteek toe. ’n Ligpunt want om haar te sien, herinner my aan ons kinderdae, geen-kommerdae, speel en volkspele en nooit-gedink-aan-grootmens-seerkry-dae. Sy beduie ons presies waarnatoe.
 
Ons staan voor die deur wat effens oopstaan en sien die tafel vol vars skons, getop met kaas, biltong en room- bo-op -konfyt. ’n Gelag en geskerts begroet ons voor enige ‘goeie more’- groet. Dan sien iemand ons raak en nooi ons in.
 
“Ons gee nie om om buite te wag nie … dan kan julle eers klaar partytjie,” sê ek in onkunde.
 
“Nog nooit,” antwoord sy. “Ons hou niks sonder julle nie.”
 
Ons stap in. Ek is so onseker soos Eben. Ek ken immers net Saal 20 in Bloemfontein by Nasionaal. Ons word naam-gevra en soos ou-verlore-geliefde vriende welkom geheet … koffie aangebied, maar eers roep dr Erasmus.
 
Hy vra na welstand, pyn, naarheid, slaappatroon … verduidelik hoe chemo werk. Ons luister in totale onkunde.
 
“Gewoonlik is jou liggaam in goeie balans tussen positiewe en negatiewe. Jou kos verteer, jou liggaam is gesond. Maar nou raak jou liggaam siek en kanker gaan sit oral vas en dit soek jou kos wat jy inneem … daarom verloor jy gewig, daarom voel jy siek en goor … chemo help om daardie proses om te keer of te vertraag, as jou liggaam nog reserwekrag oor het. Jòu reserwekrag is amper opgebruik.” Hy is doodernstig.
 
Dis opgebruik omdat die stelsel in die Universitas die spesialiste agt maande laat neem het om hulle vroeë gedagte van kanker, te bevestig. Agt maande van kamera-ondersoeke, bloedtoetse, drie ‘scans’, nog toetse op verskillende dinge met elke keer ’n kom-maar-weer-oor-drie-weke-terug.
 
En toe die laaste uitklophou: “’n Laporoskopie, meneer, sodat ons doodseker kan wees.”
 
Nou ja, nou is hulle doodseker.
 
Dr Erasmus se stem is sag, emosievol. Hoeveel keer in sy lewe het hy en gaan hy soortgelyke gesprekke met verslae mense voor hom voer?
 
Ek vra hom presies waar die kankergewas nesgesk(r)op het. Die hele vergroeisel het om die pankreas gerank en aan die maagwand vasgegroei. Eben dink aan die fronse van die vorige spesialiste.
 
“Dr, toe jy nou al die verslae deurgelees het en daardie skommelende gedaantes op die skermpie beskou het, hoe seker het dit jou gemaak dat dit presies is wat jy nou hier beduie?”
 
Nog sagter as netnou antwoord hy: “Honderd persent.”
Hy sê nie hy is jammer in woorde nie, dis nie nodig nie. Hy sluit af met ’n ondersoek oor Eben se buikarea en neem sy bloeddruk. Dis te laag. Stop maar die bloeddrukpilletjies van die afgelope paar jaar.
 
“Omdat jou liggaam se reserwes baie laag is, gaan jy met min chemo begin, want chemo maak ook siek. As iemand se liggaam nie sterk genoeg is om saam met die chemo die kankerselle te dood nie, gaan jy net sieker word.”
 
Hy groet, sien ons oor twee weke weer.
 
Suster Angie is klein-fyn pragtig. Sy sit ’n warm koringsakkie in ’n fleece-jassie op Eben se hande sodat die are beter oop bly. Dan meng sy poeier en vloeistof in botteltjies en spuit alles in nog sakkies vloeistof; een vir naarheid en twee met chemo in en drie soutoplossings wat sy are tussenin moet skoonspoel. Sy glip die naald in ’n aar.
 
Ons gaan terug na die vrolike partytjie. Eben kry nog ’n warm koringsakkie en ’n bont hekelkombersie word om sy bene gevou. Daar is nog drie kankervriende, elk met ’n oorgieting. ’n Moederlike vroutjie skink koffie of tee en help elkeen met sy een hand om die koppie en ’n skon baas te raak. Ek kry ook ’n koffie en skons en ’n plekkie in een van die gemaklike sitkamerstoele. Dan gesels almal oor en weer, vra uit waarvandaan Gehasi?
 
Geen treurmares, negatiewe opmerkings, hartseer nie … net omdat elkeen positief in gebed die trappies van ons knieë na die vloer opklim. En elke dierbare vrou daar, is ’n vrywilliger, iemand wat met hunkering om uit te reik na ander, ons bedien met ’n glimlag, koffie en eetgoed en gesels. Eben kry ’n gebreide mussie. Elkeen daar kry ’n mussie gebrei deur iemand wat deur haar vingers haar naasteliefde ineenbrei.
Na twee ure is hy klaar ge-chemo. Die eerste sessie is klaar. Nou moet hy homself observeer om oor twee weke aan Dokter verslag te doen. Ons is net dankbaar dis verby … dis nou die spannende afwagting op die onsekere.
 
Maar niks het gebeur nie! Dit is ’n heerlike kom-drink-gou-koffie-kuier. Net die staanders met plastiese sakkies daar in die lug, wys dat hier iets meer aan is as net ’n vriende-kuier.
 
Ons verlaat die partie met ’n gebreide poppie, blou broekie en ’n donsige bolyfie. Die kaartjie om sy nek sê:
 
JY IS WAARDEVOL VIR JESUS!
 
Jy is liefdevol-handgemaak, deur die Almagtige God van die Heelal.
(net so is die poppie handgemaak met liefde)
Daar is niemand soos jy nie.
(Elke poppie is uniek, nie een is soos die ander nie)
Jy is uiters waardevol_ Geen geld kan jou koop nie.
(die poppies is nie te koop nie)
God wil jou veilig in die palm van sy hand hou.
 
Aan elke KANSA-vrywilliger, hiermee ons DANKIE, daardie gevoel wat te veel is om met byvoeglike naamwoorde te probeer vergroot maar wat ons nederig probeer oordra.

 :grommit:
adéle  :grommit:

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: vir KANSA
« Reply #1 on: August 21, 2013, 06:42:13 AM »
 :love7:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: vir KANSA
« Reply #2 on: August 21, 2013, 08:46:18 AM »
Ek het nie nou woorde nie, sal weer later 'n draai kom maak.   :crybaby2:
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: vir KANSA
« Reply #3 on: August 22, 2013, 12:25:53 AM »
(((((((Adele & Eben)))))))  :love7:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: vir KANSA
« Reply #4 on: August 22, 2013, 08:37:05 AM »
Hiers ek weer Adéle.  Skuus dat ek my soos 'n volstruis gedra het.

Met Hannes se kolonkanker het ek baie bitter dae beleef.  My vertroue in dokters is maantoe en ek het baie keer gesê dat hulle nie hul eie familie so sou behandel het nie.  Daardie in en uit hospitaal toe, toetse, die gewag op uitslae, dit alles is 'n nagmerrie.  Die onsekerheid vreet mens op en die magteloosheid slaan jou lam. 

Dan land jy by so 'n groep en jy sien dat jy nie alleen in hierdie aaklige posisie is nie en die onderskraging wat jy daar kry tel jou op en dra jou verder. 

Ek  kan net sê dat ons uit ons hart uit hoop dat dit stadig maar seker sal beter gaan.  Ons vou julle toe in omgee.   :love7:

Drie hoera's vir  KANZA   :hello2:  :hello2:  :hello2:
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: vir KANSA
« Reply #5 on: August 22, 2013, 10:39:00 AM »
skuus ek jou laat volstruis speel, vriendin ... [glimlag] ek wil nie iemand seermaak nie.
maar dankie vir verstaan ... vir deel, Raaitjie, Fransi

ek het netnou vir iemand geskryf dat die arms wat God stuur om ons fisies en geeselik te ondersteun, alles soveel makliker maak. die rede vir my dagboek, is omdat ons nou 'n gevoel van as-ek-maar-net-iets-weet of as-ek-net-biki-weet-wat-wag beleef. baie skrywes en boeke gaan oor die survivors ... en wat ookal ons uitslag gaan wees is nie nou van belang nie.
ons wil iets nalaat vir hoe-dit-in-die-begin-is...
daarom gaan ek probeer om elke dag of elke paar dae te verwoord, dalk eendag uit te gee in 'n bundel. ek plaas dit op my FB muur vir familie en vriende.
sou julle dit hier ook wou he'? ek wil nie ons treurmares hier op iemand afdwing nie ...  :love7:  meeste mense het seer genoeg.

 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: vir KANSA
« Reply #6 on: August 22, 2013, 07:02:32 PM »
Adele...   
Ek weet nooit wat om te se nie.  Woorde is soms oorbodig, dink ek.  Maar dat ons almal hier op die Forum en ook op FB julle toevou, opdra, vashou... is beslis.
Ook, as jy nie deel nie, kan ons nie 'help' met gebede en toevou nie. 
Hou ons op hoogte.  Ons wil weet hoe dit met julle gaan. 
Baie sterkte aan jou en Eben.

 :love7:

elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: vir KANSA
« Reply #7 on: August 23, 2013, 05:03:59 AM »
Ek stem, ons sal baie graag op hoogte gehou wil word hier op die forum.  Kom deel dit met ons anders voel ons nie waardig nie. 
Daar is so baie hoekoms en so min antwoorde, as ons net daar kan wees vir julle, soos wat daar soveel van julle was vir ons toe ons dit so broodnodig gehad het. 
Dit is 'n baie goeie idee om "ons wil iets nalaat vir hoe-dit-in-die-begin-is..." dit so te doen.  Min mense kry dit reg om daardie gevoelens te boekstaaf. 
Om te weet is om te verstaan.