Author Topic: Stomp: The saga continues  (Read 3415 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Stomp: The saga continues
« on: August 05, 2013, 06:15:46 AM »

Daardie dag toe die karre moes briektrap vir ‘n vale vir die bruin streep wat soos ‘n tornado straataf sleep, het die moeilikheid weer begin.  Miskien ook maar goed dat ek dit nie gesien het nie, want ek sou net daar, net daar!! neergeslaan het van my bloeddruk wat die hoogte ingeskiet het.
Stomp het besluit hy spring af van die bakkie toe die boer inkom dorp toe met die klomp honde agterop.  Hoekom die bleddie hond nie by die huis kon bly, sal ek nooit verstaan.  Nou, van waar die bakkie by die Koöperasie gestop het tot by ons huis, is ongeveer 200m.  En met Stomp wat elke gaatjie en ruikplekkie en snuffelplek in die dorp sy eie gemaak het, het hy geweet ‘huis’ is nie vêr nie.  Hy gaan nou huistoe.  Terug na die Strauss’e toe.
Ek het net hierdie tjank-tjank straataf vanuit die bank gehoor.  Ook later van ‘n klient dat daardie onhebbelike hond terug is in die dorp. Watter hond?  Julle hond.  Stomp!?  Ja.  My woorde vries op  my tong.
So moet my man toe maar aan die boer vertel dat die hond terug is by ons huis.  Nee, ons gee nie om nie.  Ja, ek gee om! Ek wil hom nie in my huis hê nie.  Ek wil nie weer in sy bruin oë kyk nie.  Ek wil nie weer bolle optel, stukkende wasgoed van die draad afhaal, gate onder die tuinhekkie toemaak, rokke met piepie-kolle by Foschini betaal nie..  Ek wil hom nie weer sien nie!!  Maar Stomp is terug om te bly.  Die gatswaaiende bruin hond is terug.  Klein tjankgeluidjies van opgewondenheid het my koud gelaat.
Intussen het ek angora konyne vir JP aangeskaf.  Kinders het mos maar ‘n diertjie nodig.  Die konyne is vreesbevange vir hierdie wriemelende wese wat hulle met ‘n kwylende bek dophou.  JP is moerig omdat hy nou amper 24/7 die gediertes moet dophou.  Ouma maak of die hele affêre haar min skeel, maar toe sy die oggend in die kombuis kom en die melkterte lê op die kombuisvloer, het sy die hond met die besem bygekom.  Shame, die arme ding het getjank dat jy hom straataf kon hoor.  Ouma was besig om haar beroemde melkterte te maak vir Saterdag se kerkbasaar en alles was mooi toegegooi onder die teekleedjies.  Gebak tot heerlikheid en bestrooi met kaneel.  Die hele huis het na melktert geruik.  (Stomp, het ons gesien, het ‘n soettand.  Of eerder, soettande.  Daai hond kon sjokolade eet dat die kwyl loop.  Ek weet ook nie of hy geproe het, want dit is sommer net opgeslobber in ‘n hap en dan was dit af in die keel.)  Jitte, Ouma was kwaad.  Tot hiertoe en nie verder.  (Maar het ek dit nie al ‘n paar keer gesê nie?  Alles verniet.  Al my gepraat het net teen die mure vasgedonder.  Niemand het gehoor nie.  Ook nie gehoor gegee nie. )  Ouma gryp die besem van agter die kombuisdeur, slaan in die proses ‘n halfdosyn eiers van die werkoppervlak af dat jy net eiergeel sien spat, gee die hond ‘n paar hale oor sy rug, al spartelende deur die gebreekte eier en piepiemengsel wat spin om weg te trek en dit gee Ouma kans vir nog ‘n hou.  Nou het ek behoorlik uitgefreak.  Ek is nou klaar met hierdie gedrog.  Hy is ‘n monster wat my huishouding en my lewe kom deurmekaar krap het.  Hy moet weg.  Baie ver weg.  Ek wil hom nooit weer sien nie.  
Intussen het Stomp buite in sy hok gaan lê en sulk.  Met sulke skaam ogies net vir my gekyk.  Ek het gestoom.  JP het gehuil oor die hond wat so slae gekry het en Ouma het ten hemele geroep vir geduld. Sy sou van vooraf moes bak.  Ek sou eers die arena moes skoonmaak.   My man het agter sy hand gelag terwyl ek hom sy dood belowe het.  Die Dominee het deur die kweperlaning kom vra of broer en suster Strauss berading nodig het, maar ek was te die blik in om hom te antwoord.  Ek sou moes wag tot ek weer afgekoel het voor ek hom kon inlig oor die oggend se gebeure.
Asof Stomp vir my wou wys hy is nie rehabiliteerbaar nie, kry ek die volgende oggend die hokkie oop en die hase het die hasepad gekies, veldjie in.  Stomp agterna.  Miskien wou hy speel.  Miskien wou hy byt, want wat maak hierdie wit wollerige speelgoed op sy werfie.  Dit was ‘n mallemeule van bruin en wit wat swaai en draai en skielik briek en dan hierdie bruin stuk hond wat verby hardloop met tong wat wapper in die wind en dourie kant gaan draai en dan weer die arme hase annerkant toe jaag.  My keel is hees geskrou op die hond, op my man, op die kind en op die konyne.  Ek weet nie of hulle my gehoor het nie, maar die hele buurt het wel.  En dit was nog voor sonsopkoms.  Dominee gaan sweerlik Sondag ‘n preek afsteek oor Salomo wat soveel wysheid gehad het.  Dit sou so welkom kon wees as Salomo in al sy wysheid ook daar kon wees om die dinge gade te slaan.  En raad te kon gee.  Vir my sou hy nie gekies het om sy harem aan te vul nie.  Die vrou skree te wild in die vroeë oggend-ure.  Ek weet nie hoe lank dit vir die hase geneem het om te besluit hulle het klaar by die Strauss-woning gebly, maar ons het hulle nooit weer gesien.  Stomp het weer daar in die veldjie gaan ronddraai en ruik-ruik aan al wat bossie is, maar haas se kinners was weg.
Nog is dit het einde niet.
JP skakel.  Die kind is in trane.  Kan amper nie ‘n woord uitkry.  Wat is dit, my kind?  Ma, Stomp kan nie op sy bene staan nie.  Hy bly omval.  Iets is baie verkeerd.  Ma moet kom en hom veearts toe vat.  Bel vir Pa dat hy….  Nee, Ma moet NOU kom.  Hier moet ek net noem dat Ouma vir ‘n wyle ‘n blaaskans geneem het in die skoolvakansie.  ‘n Broodnodige blaaskans.  So, JP was alleen tuis.
Ek vra ‘n uur af om die gedrog by die veearts te kry en bid in stilte dat dit ‘n aaklikge siekte moet wees waarvan Stomp nooit nie sal genees nie.  Die hond sal moet uitgesit word, mevrou.  Of so hoop ek die veearts my sal inlig oor die toestand van die dodelike siek hond.
By die huis is dit net snot en trane en ‘n hond wat sukkel om op te staan en homself na die waterbak sleep.  Behoorlik sleep.  Sy tong is droog en klou behoorlik aan sy lippe vas.  Hondsdolheid, dink ek.  Nee, dan sal hy nie lam wees nie.  Ag dankie, Liewe Jesus, U het my gebede verhoor.
Ek bekyk die spulletjie en wonder hoe ek die drommel in die kar gaan kry.  Moet ek dalk die veearts skakel om uit te kom huistoe?  Ek skakel my man.  Nee, hy kan nie nou kom nie, te besig.  Ek ryg die kragwoorde uit en skakel solank die veearts om te sê ons is oppad.  Dis goed so, mevrou.
Ek moet net gou die mediese kaart in die spaarkamer kry…..  Dis toe dat ek sien hoekom die hond skielik so lam is.  Die sjokolades met die alkoholiese hartjie wat ons gekoop het om vir die kliente uit te deel oor die Kersseisoen, se houers lê gestrooi in die kamer.  Stomp het homself tot dronkenskap ge-eet aan hierdie lekkerny.  Ek het op die stoel neergeval en net gelag.  Dat ‘n hond nou so dronk kon word.  Stomp het amper die bak water opgevreet toe dit voor hom neergesit is, so dors was hy.  En hy het die slaap van die dooies geslaap.  Volgende dag kon jy sien hy het ‘n babalaas.  Daardie altyd wakker, blink oë van hom het die boonste ooglid afgerem tot in die helfte.  Hy het vir jou geloer met skrefies.  En hy was nie ver van sy waterbak.  Kort-kort so van die kant af, sonder om sy kop op te lig, met die tong ‘n slurp uit die bak gekry.
Stomp moes gaan.  Daar was nie two ways about it nie.  Hy moes weg.  Ek kon nie toelaat dat die hond ons lewens so ontwrig nie.  Ook nie die dorp s’n nie.  Stomp is weer agter op die bakkie gelaai en is terug plaas toe.  Ons het nog so nou en dan van hom nuus gekry as die boer bank toe kom, maar gesien….  nooit weer nie.  
Dit was onaardig stil in die huis.  Dit was onaardig stil in die straat en ook in die dorp.  Lank daarna het mense nog verneem na Stomp, die hond wat jy nie mee kon hond haaraf maak as dit by maniere leer kom nie.  En eintlik, as dit nie vir sy onhebbelike gedrag was nie, het ek nie nou hierdie storie gehad om te vertel nie.

©Elsabe

  


« Last Edit: August 10, 2013, 08:24:36 AM by Angelica »
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10714
  • Gender: Female
Re: Stomp.... the saga continues
« Reply #1 on: August 05, 2013, 03:48:07 PM »
Ag tog, arme Stomp!   :sign10:  Baie dankie vir nog 'n aflewering van Stomp Els.  Ek lag altyd dat die trane loop vir al sy streke.  Ek het gereis vir 'n jaar of tien, maar 'n dronk hond, die het ek nog nooit gesien!  :icon_biggrin:
Jy skep helder beelde en ek geniet jou skryftrant. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Stomp: The saga continues
« Reply #2 on: August 10, 2013, 08:26:00 AM »
Gelukkig was Stomp nie baie skerp nie.  
As hy kon lees, het hy my sekerlik gedagvaar vir laster.   :evil6:
« Last Edit: August 10, 2013, 08:28:23 AM by Angelica »
elle