so staan ek toe gisteraand die geel maan en bekyk waar dit oor die damwater hang... [ek kon nie dorpshuis toe gaan ni, het tot 7uur moes hekdiens doen] en begin toe hierdie stuk skryf sonder om te weet waartoe dit gaan lei.....
soms skryf 'n storie homself sonder om hom te steur aan wat ek wou skryf ....
'n Lig anderkant die pad
So pas het die borriegeelmaan langs my stilgehou en my genooi om op sy vuurwa te klim. Doodmoeg val ek sommer tot langs hom op die bankie. Ek sit sag, stilluisterend en wag op sy volgende woorde.
“Hoe was jou dag gewees?”
“Besig en dol, dankie.”
“Verdwaal jy nog tussen papierdokumente en foonoproepe?”
Ek lag sommer as die dag se spanning in die langsaansloot val.
“Ja. Die foon moes groen gewees het; nie grys nie. Hy weet presies wanneer ek hom nie nodig het nie, dan soek hy ’n rede om met my te praat.”
Ons draai regs af en begin teen die bergskuinste opry. Die kranse bokant ons lyk onhelspellend donker; vol gepunte orrelpype met dongas opgevul.
“Die winterdae is lekker hier by julle.”
Ek knik my kop. “Die oggende is koud, ja, maar die dae is meestal heerlik, veral as jy in die son moet werk. Dan raak jy gou ontslae van jou baadjie.”
Die wa se kleure weerkaats nou tussen die kranse in.
“Ook net tot die son begin afklim na die horison toe.”
“As die wind begin waai gaan ons sekerlik ’n paar kouefronte in aflos-item kry. Elke nuwe more gee ’n kouer stokkie aan die volgende. En as die dag breek, krimp plant en dier in ons land soos beplooide skilpaaie ineen. Soms het iemand ’n maatjie om hom warm te hou; ander hou mekaar warm onder ’n oerou dop.”
Ons vat die snelweg in die ruimte in. Dis stil op die pad wat hierdie vuurwa soos die vellings van sy wiele ken. Ek wonder stilweg of dit ook oor langnaweke baie besig raak.
“Is die alleenlewe lekker?”
“Soms.” Ek kyk terug en wonder oor die soutsmaak op my lippe. “Maar daar is goeie rede voor. Die eensaamlewe saam met die eensaamste kluisenaar was vol woorde en venynige kyke wat snye en dolksteke gelaat het. Nooit kon ek ’n wond laat heg en toeplak nie. Sommige drup nou nog etter en ander se rowe bars gedurig oop.”
Dis vir ’n rukkie stil en ek raak vaak.
“Verlang jy na ’n maat?”
’n Maat? Ek dink ’n rukkie.
“Ja, ’n maat deel alles met mens … hartseer, verlange, vreugde, opgewondenheid … kan saamsing wanneer jou hart oorloop en trane afvee wanneer die wal breek.”
Dis nou baie donker rondom ons. Die sagte gesuis van die vuurwa sus my tot ek my oë lomerig sluit. Net hier en daar skyn ’n ster, wat nie sy ligte domp nie, dwarsdeur my ooglede in my onthou in. Ek voel hoe die ellende en kwaadklippe afval en deel raak van die ruimterommel en my skouerpyne vervaag.
“Haai, wakker word. Kyk hoe verbrokkel die nagswart.”
Ek kyk rond. My longe suig die vars geur van die vergewensdagbreek in.
“Waar is ons?” Ek voel hoe waai die wind hier bo-op die hoogste plato van die melkweg. “Ek kry koud.”
“Dis goed.”
“Hoe kan dit goed wees?” Ek voel die fronsplooie tussen my oë.
“Om weer koue te voel beteken jou hart se ysharnas is besig om te smelt.”
“Maar ek wil nie koud kry nie … dis mos makliker om alleen ewiggemaklik te wees as om nou en dan koud te kry … of weer in die hittige vure van woordewisselings te beland.”
Die wa stop skielik.
“En nou?”
Hy glimlag en die plooitjies om sy oë kreukel die mooiste boodskap na my toe.
“Ek moet hier wegdraai. Jy sal die paadjie hiervanaf maklik kan volg.”
“Maar as dit weer donker raak?”
“Dan maak jy jou oë toe en lig jou hande op. Ek sal van nou af elke oomblik van jou lewe langs jou wees. Jy moet nooit weer terugkyk nie en as jy by die helder waterstroom kom waar iemand vir jou wag moet jy onthou dat Ek jou soontoe lei en jy met vertroue die pad saam met hom mag leef. Ek gee jou my Woord.”