Author Topic: Knapsak  (Read 5888 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Knapsak
« on: June 06, 2013, 03:29:32 AM »
Vir die mense wat my nie ken nie, ek is ‘n groot mens.
Ek is nie vet nie maar om doktersfooie te bespaar gaan ek en my maag saam wanneer ek doktersafsprake het. Wanneer ons saam is vertel daai dokter gereeld vir my dat ons ongesond is en dat ek van hom (dis nou die maag en nie die dokter nie) ontslae moet raak anders…. Maar hoe nou gemaak? Ek is soortvan geheg aan die aanhangsel van my. Ons het immers saam grootgeword.
Ek ry ook met hierdie klein karretjie wat ‘n baie goeie vriendin vir my so half gegee het omdat sy my finansiele verknorsing raakgesien het. (Daar is nog goeie mense in die wêreld) Soos ek sê, dis ‘n klein karretjie. Net so 3mm langer as ‘n setpil maar ek vrek oor die dingetjie en woerts oralster met hom heen.
Nou die dag op pad Kaapstad toe klim ek daar by Durbanweg se brug op die N1.
In die duik regoor J&B se golfakademie begin die probleme.
Ek het ook probeer golf speel op my dae maar ek dink hulle het daai sport die verkeerde naam gegee. Dit moes eerder “Moer-en-Soek” gewees het. By die golfakademie is dit darem lekker want jy kan hulle stokke huur en ‘n emmer vol balle koop. Dan kan jy daai balle almal wegslaan terwyl jy op een plek staan. Hulle stuur later ‘n man in ‘n traliekar om die balle te gaan soek. Dis nogal pret om hom te probeer raakslaan. Hulle het my egter hier verban want ek het ‘n volmaakte kolskoot gehad. Na sewentien oefenswaaie het ek die bal in die middel van die golfstok se kop geslaan. Ongelukkig het die kop op daai oomblik nie in die rigting van die skoonveld gewys nie en die bal het die man langs my getref. Ek sal nou nie tegnies raak nie maar as dit ‘n vrou was wat langs my gestaan het het ek haar mis geslaan. Dit is later medies bevestig dat die man nog kinders kon hê maar hulle sal almal blou oë hê tot aan die derde geslag na hom.
Maar ek dwaal nou af.
Soos ek gesê het, dis regoor die golfplek waar my probleme begin.
Blou ligte…
Die verkeerdekonstabel wys ek moet aftrek.
Wie? Ek? Vra ek met my vinger wat in die saag was vir hom.
Hy verstaan my verkeerd en raak rooi, klim op sy megafoon en saai uit soos oor Bokradio dat ek moet aftrek.
Ek trek af.
Hy vra my liksens. Bekyk dit. Loop om die setpil en kyk dat al sy ligte werk. Probeer die setpil rondstoot terwyl ek remtrap en handrem vastrek. Kyk die liksens voor oppie ruit.
Hy krap daar op ‘n stuk papier op ‘n aanklipbord en swaai die papier deur die venster.
“Wat’s dit die?” vra ek soos een wat nie kan lees nie.
“R100 omdat jy nie ‘n veiligheidsgordel dra nie.”
Ek verêre my daar vir die gedoente en pluk daai gordel daar oor my skouer en maak dit vas.
Nou is ek beduiweld... Aspris.
Trek daar weg, voet in die hoek. Hardloop deur die ratte en op 100km/h bereik setpil sy “cruising speed”
Toe ek Tygerberg se heuwel afry verminder ek aspris spoed na 80km/h om die ander bestuurders net so te irriteer soos ek voel.
Dit moes ek nie doen.
Agter my is daar ‘n lorrie.
Die bestuurder raak ongeduldig en blaas daai lorrie se toeter soos ‘n treinfluit in my ore.
Ek ry nog stadiger, draai my ruit af, steek my hand soos ‘n lugdraad in die lug waar hy dit mooi kan sien. En ek wys vir hom watter vinger ek in die saag gehad het.
Die verkeer maak oop en daai lorrie kom verby my.
Swaai voor my in.
Stop dood voor my.
Sy deur gaan oop en daar klim ‘n mens uit.
Hy is groot.
Die lorrie se perd lig eintlik toe hy uit is.
Hier kom moeilikheid met ‘n groot K.
Maar my pa het my geleer, “As daai ou jou wil boelie, slaan eerste en slaan hard. As hy daarna nog staan het jy ten minste ‘n hou ingekry.”
Ek vlieg dus uit die setpil uit, blaas my borskas op soos ‘n hoenderhaan in paartyd en loop daai ou tegemoet.
Hy steek vas.
Die volgende oomblik sit hy om en klim terug in daai lorrie asof my skoonma en haar hele familie op sy hakke is.
Ek is maar te bly hy het besluit om eerder te ry want ek het hoeka nie lus gevoel vir bloei vandag nie.
Ek draai om om ook maar te ry net om te sien my kar is weg.
“Tipies Kaap.” dink ek, “draai jou gat dan steel hulle jou kar.”
Dis toe dat ek agterkom ek het vergeet om my veiligheidsgordel los te maak en dra die motor soos ‘n knapsak op my rug.


 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
Re: Knapsak
« Reply #1 on: June 06, 2013, 03:54:49 AM »
dankie vir die lekker hardop glimlag in die vroeg oggend

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Knapsak
« Reply #2 on: June 06, 2013, 06:46:16 AM »
Hhehehehe, ek is alweer verkrukkeld gelag diekant van die aardbol. Stel jou voor, Naas en die setpil (soos 'n knapsak) op sy rug  :headbang:

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Re: Knapsak
« Reply #3 on: June 06, 2013, 07:53:18 AM »
hierdie is MFS en ek is seker soos in seker iemand sal kan uitwerk MFS voor staan maar ek gee 'n clue moer .... snaaks

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Re: Knapsak
« Reply #4 on: June 06, 2013, 07:54:49 AM »
Oooo Naas ek't vergeet te vra - is die setpil 'n voltarin of 'n valoid?

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Knapsak
« Reply #5 on: June 06, 2013, 08:12:28 AM »
Ek weet nie. Die label is af.



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10698
  • Gender: Female
Re: Knapsak
« Reply #6 on: June 06, 2013, 09:07:18 AM »
Dankie vir die deel Naas, dit was nou vermaak uit die boonste rakke.  Ek sien jou in my verbeelding, skillie die skilpad.   :icon_biggrin:

MFS voorwaar.   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Knapsak
« Reply #7 on: June 08, 2013, 08:25:30 AM »
Lekker, Naas!!
elle

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Knapsak
« Reply #8 on: October 17, 2013, 11:56:18 AM »
Ek sou nes daai Vragmotor ou ook gatskoon gemaak het ! lekker gelag.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10698
  • Gender: Female
Re: Knapsak
« Reply #9 on: October 17, 2013, 02:31:20 PM »
Daai setpil het 'n naam.  Maatjie!   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Knapsak
« Reply #10 on: November 02, 2015, 01:03:19 PM »
Een of ander Kaapse moegoe het wragtag vir Maatjie probeer steel. Ek het haar van my rug af gehaal en toe ek terugkom is altwee die deurtjies se slotte ingeslaan en daar is 'n skroewedraaier in die aansitter se slot afgebreek. Moes 'n Abba-vragmotor huur om haar by die motorhospitaal te gaan aflaai sodat omie dokter vir haar nuwe goeterse kan aansit.



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline Meraai vannie Baai

  • Wysgeer
  • Posts: 3663
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: Knapsak
« Reply #11 on: November 02, 2015, 10:47:02 PM »
EISH! Gelukkig was moegoe nie suksesvol nie.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Knapsak
« Reply #12 on: November 04, 2015, 12:18:29 PM »
 :icon_biggrin:

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
Re: Knapsak
« Reply #13 on: November 17, 2015, 02:19:28 PM »
Ek kruip soos ek lag. Jou verhaal is uit die boeke uit!
Upington is nie vir sissies nie.

Offline Assie

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 480
  • Gender: Female
Re: Knapsak
« Reply #14 on: December 18, 2015, 08:01:01 PM »
Toe ek nou die dag vir Oupa vra hoekom hy met 'n setpil in sy oor rondloop is sy reaksie. Skuus my kind. Hoe se jy. Ek kry my gehoorstuk nerens nie.


 :mumum: