Author Topic: Haar onvoltooide simfonie  (Read 4558 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Haar onvoltooide simfonie
« on: May 12, 2013, 08:09:16 PM »
Berta draf die trappe op. Sy wou net effens laat wees, maar het nie voorsien dat ‘n ongelukstoneel die verkeer sou opdam nie. Daar is nog ’n paar minute oor. Sy wou laat genoeg wees om ver in ’n hoekie te parkeer sodat sy ongesiens kan wegglip en nou moes sy nog verder weg parkeer.

Sy vermy die nuuskierige oë en gaan sit agter die harp. Sy asem diep in en blaas stadig uit. Haar vingers lê ’n paar oomblikke op haar skoot tot sy heeltemal ontspan het.

“Nie nou dink nie, Bertha,” fluister sy in haar binneste. “Geniet net die aand.”

Dit raak stil wanneer elke snaar tot perfeksie ingestel is. Sy hou haar blik skuins af na die vloer langs haar wye rok se soom… wanneer die stilte ’n sekonde te lank draal, is haar emosies styf vasgevleg en kyk sy op, vas in Richardt se oë. ’n Spiertjie spring net-net sigbaar onder sy wangbeen, ’n teken van sy geirriteerdheid, maar hy wys niks in sy glimlag aan die orkeslede daar vanaf die podium nie.

Die aand begin met Franz Schubert se ‘Piano Quintet in A’. Bertha se gedagtes draal terug na die begin van 1818 en wonder oor die lewe van daardie tyd toe Schubert so gelukkig was. Geluk spoel deur elke noot van die ‘Trout Quintet’, beter bekend as Die Forelle. Dit was hierdie man, wat so lief was vir die digkuns, se eerste meesterstuk in instrumentale musiek.

Hulle was net so gelukkig bymekaar. Sy en Richardt … die volmaakte paartjie. Ses jaar gelede het hy haar gevorm, afgerig en opgelig tot langs sy troon. Met gemak het sy haar vreemdheid oorkom en die wêreld van klassieke musici en aanhangers ingestap. Die skynheiliges onder die konsertgangers het haar geamuseer en by die ernstige musiekliefhebbers het sy aanklank gevind. Onder hulle huweliksgaste was bekend en bemind en afgunstiges bymekaar.

“Waarom moet ek so na jou soek?”

Sy  vingers vou styf om haar bo-arm en sy kry seer maar sy glimlag liefies vir die groepie mense en stap saam met hom weg.

“Los my!” sis sy. “Jy druk my spiere lam.”

Hy los dadelik.

“Ek soek oral na jou. Jy het belowe jy sal nie vanaand ’n ‘scene’ gooi nie.”

“Ek doen nie. Dis jy wat vergeet om jou ‘pose’ te hou. Ek sorg dat jou aand ’n sukses is en jy sal vir die res van my armsalige lewe vir my sorg, onthou jy?”

“Ja, maar dit beteken ook jy bly aan my sy.”

“Mmm, ja, om die skyn van ’n gelukkige huwelik voor te hou.” Sy sukkel om die bitterheid af te sluk.

“Nee, omdat ek nog vir jou omgee, al het ek iemand anders ...” Hy wil nog iets sê, maar sy val hom in die rede:

“Omgee? Jy weet nie eers hoe om omgee te spel nie, my liewe man. Maar jy sal leer, ‘mark my words’. Jy sal leer, wanneer daardie vrou jou reputasie aan skerwe gaan breek. Sy sien net die glanslewe saam met jou raak. Maar die fynheid in jou siel wat net deur musiek en ons liefde gevoed kon word, gaan verdroog en verkrummel.”

Sy draai vinnig om en drafstap verhoog toe. Deksels, amper het sy dit verloor.

Die tweede helfte van die aand bestaan uit ’n verwerking van Schubert se ‘Simphony No 8 in B Minor’ of te wel, sy Onvoltooide Simfonie. Niemand weet hoekom hy net die eerste twee dele in Oktober, 1822 gekomponeer het en toe jare lank aan ander stukke soos sy ‘Wanderer Fantasy’ gewerk het nie. In 1828, voor sy dood, het hy nog die ‘Great C major Symphony’ voltooi.
Net soos niemand sal weet hoe Richardt haar vir iemand soos Gertruida kan los nie.

Sy stort haar hart uit in die spel wat haar vingers uit die harpsnare tower. Nooit weer sal sy hierdie verwerking, wat haar man spesiaal vir haar geskryf het, wil speel nie. Hy het die komposisie aangepas om haar wonderlike harpspel tot sy volle reg te laat kom. Harptone is al 3000 jaar oud maar dit is in 1810 wat Sebastien Erard die huidige instrument met sy pedale en 46 snare gevorm het. Sy speel al harp van voor sy skooltoe is.

Die eerste beweging, Allegro moderato, vloei deur die orkes soos die wind deur die Bosveld se doringbome. Hoogtes en stiltes vul mekaar volmaak aan.
Die tweede beweging, Andante con moto, begin stadig, dromerig, asof in pastorale gemoed. Later bars die melodie uit in ‘fortissimo’; rus sy ’n paar minute wanneer die tjello’s en basse die melodielyn oorneem. Dan vervaag alles in die sagte stilte van vioolspel en pluk sy die laaste snare uit haar hart se styfste skarniere los. Die simfonie sink in ’n stilte in.

Dit duur ’n paar sekondes voordat ’n dawerende applous losbars. Staande juig hulle haar toe. Die orkeslede staan een vir een op. Hul gelukwense is eg en vol vreugde.

Wanneer almal deurmekaar bondel en hulle instrumente oppak, sluip sy ongesiens uit. Sy sal haar harp in die week kom haal. By die gastehuis wag vreemdes haar in. Sy het gereël om laat te kom.

Haar onvoltooide simfonie-lewe begin met trane wat ongehinderd in haar kussing invloei.


 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10700
  • Gender: Female
Re: Haar onvoltooide simfonie
« Reply #1 on: May 12, 2013, 08:23:46 PM »
Verstaan ek nie hierdie onvoltooide simfonie nie!  Pragtig geskryf Adéle, 'n kunswerk uit die boeke! 
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Haar onvoltooide simfonie
« Reply #2 on: May 12, 2013, 08:30:52 PM »
dankie vriendin   :love7:

 :grommit: 
adéle  :grommit:

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Haar onvoltooide simfonie
« Reply #3 on: May 13, 2013, 08:28:33 AM »
Besonders geskryf.