Author Topic: Ek is die hoenders in  (Read 4909 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Ek is die hoenders in
« on: March 12, 2013, 10:19:58 AM »
Op soek na iets het ek op 'n skatkis afgekom.  Die skatkis van bewaarde juwele wat Raaitjie deur die jare bymekaar gemaak het en toe kom ek op hierdie een af, wat ek, ek weet nie wanneer al nie, gegriffel het.

Ek is die hoenders in

Het die hoenders jou kos afgevat?
Jy lyk so bek-af,
jou ore hang,
ek sal ‘n ogie oor jou hou
en gou vir jou ‘n rympie bou.

Eers al my eie werk ingewin,
m.a.w. ek het in Jerusalem begin,
toe gryp ek die abc
en kry alle idiome voor stok,
tot by Daantjie in die kalwerhok.

Nou lê ek my eiertjie neer en
gooi ‘n stuiwer in die armbeurs,
ek hoop nie daar is ‘n geurtjie aan nie
of dit gee jou hoendervleis nie,
maar hier is pitkos vir jou om aan te kou.

Jy mag dalk dink ek is van lotjie getik,
of dalk sommer in die bol gepik,
dalk is jy heeltemal reg,
ek hét ‘n klap van die windmeul weg,
al my varkies is ook nie meer op hok nie.

Tog wil ek vir jou ‘n bietjie beduie;
kom ons sit vir jou 'n hoender in die bank,
ek wil nie hê die klok moet agter jou lui nie,
anders gaan jy net jou kop stamp,
jou vasloop, dit sal jou suur bekom.

Al jou eiers onder een hen,
of almal in dieselfde mandjie gepak?
Onthou, tussen die hand en die mond
val die pap op die grond.
Jy sal jou rieme styfloop.

Jy is nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie,
jou grysstof het mos nie opgehou vloei nie?
As jy ‘n ou voël met kaf probeer vang
sal jy die horrelpyp- of die eierdans doen.
Jy sal moet katvoet loop.

Ek wil nou nie vir jou kom voorskryf nie,
want elke hond is baas op sy eie werf
en elke haan kraai op sy eie mishoop,
maar hierdie ou Moeder Hen
kloek-kloek om haar kuikens.

Moenie rondloop soos ‘n hen wat nes soek nie
of een wat ‘n eier wil lê nie.
Wat skrop jy so?
Dit lyk of jy op eiers loop,
of probeer jy die lel oor my oë trek?

Moenie vandag se hoender weier vir more se eier nie,
hier neem die saak nog ‘n wending;
die keersy van die penning is dit;
‘n halwe eier is beter as ‘n leë dop
en    een voël in die hand is beter as tien in die lug.

Klein Jan het weer die elmboog gelig
deur die wingerd geloop
tiermelk gedrink, my magtig
sy kop slaan sweep
hy is lekker hoenderkop.

Hy is sommer nog ‘n kuiken
nog nie droog agter die ore nie
die klein snuiter, hy dink hy’s slim
more is hy weer hoenderswak en
moenie dink geen haan sal ooit daarna kraai nie.

In daardie “chicken coop”
is die waarheid so skaars soos hoendertande.
Hulle verkoop knolle vir sitroene
en bak kluitjies so groot soos pampoene,
hulle kan daai stories maar vir die hoenders gaan vertel.

Hulle gaan slaap saam met die geveerdes,
is met hoenderkraai weer op en uit.
Hulle glo mos fluit-fluit
die oggendstond het goud in die mond
en dit is die vroeë voëltjie wat die wurmpies vang.

Nou-ja lekker is net ‘n vinger lank.
Ek het heerlik gepronk met ‘n ander man se vere.
Hier gaan ek nou die lier aan die wilger hang
en julle laat in vrede.
Pik-pik, my rympie is getik en hopenlik is al my boetes betaal.

PM
« Last Edit: March 12, 2013, 10:24:28 AM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Ek is die hoenders in
« Reply #1 on: March 12, 2013, 10:22:37 AM »
Boektoe boektoe!! Hierdie was by ons kreatiewe skryfoefening: Dig met gesegdes, en jy het dit perrrfek gedoen!!

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Ek is die hoenders in
« Reply #2 on: October 16, 2013, 10:03:18 PM »
Baie oulik , my kinders het dit ook vreeslik geniet.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ek is die hoenders in
« Reply #3 on: October 17, 2013, 08:57:56 AM »
Dankie Rainier.  Hoe oud is jou kinders? 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Rainier

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 47
Re: Ek is die hoenders in
« Reply #4 on: October 19, 2013, 07:45:48 PM »
Hulle is 6,10, 15 en 18 jaar , so m.a.w 'm wye gehoor!  :sign10: :read2: :icon_salut:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ek is die hoenders in
« Reply #5 on: October 21, 2013, 10:58:58 AM »
Beslis 'n wye gehoor!   :notworthy:  Jy sal vir elke ouderdomsgroep 'n ander verhaal moet skryf.   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Marieliefie

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 4
  • Passievol Afrikaans!
Re: Ek is die hoenders in
« Reply #6 on: October 03, 2018, 06:48:29 AM »
 PM, ek het die geskribbel van jou baie geniet. Tong in die kies met ons pragtige taal gespeel. 

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Ek is die hoenders in
« Reply #7 on: October 05, 2018, 02:22:42 PM »
Dankie Marieliefie.  Ek het dit geweldig geniet om met die taal in die sandput te speel. 
Om te weet is om te verstaan.