Ek wil graag die verhaal hier plaas. Dit is baie goed en ek het dit baie geniet. Dankie vir die skakel Adéle.
http://afrikaans.news24.com/MyNuus24Dit is met groot hartseer dat ek afskeid neem van ’n getroue lewensmaat, boesem vriend en kollega.
Santjie, ons het mekaar vir vyf jaar en vyf maande geken, en ek sukkel om te aanvaar dat ons tyd saam so skielik moes beeindig word. Ek sal nooit daai 2007 somersaand in Langebaan vergeet, toe ek jou ontmoet het nie. ’n Vriend het jou aan my voorgestel.
Jy het ’n kort bruin broekie en ’n lang wit hempie aangehad, met ’n helder rooi mussie op jou kop. Ek was jonk, fiks en gesond, met ’n amperse illusie van aantreklikheid.
’n Tipiese Weskus een-aand-romanse het hom begin afspeel: ek het glad nie in jou belang gestel nie, maar na ’n paar spottende "dares" en heelwat van daai "special" brandy's het ek voor jou sjarme geswig. Dit sou net vir een aand wees, maar min wetend was ons bedoel vir mekaar...
Jou liggie het altyd helder geskyn, ongeag die omstandighede. Jy het my bygestaan in tye van eensaamheid, woede, en stres, maar ook was jy ’n onmisbare metgesel tydens jolige okkasies. Jy het my kalmeer as ek in die oggende per ongeluk ’n Nkandla, e-tol, of Julius-artikel raak geblaai het, en wanneer die telemarketers so aanhoudend gebel het.
Toe Bryce Lawrence in 2011 so blatant stront aanjaag, het ek en jy buite gaan staan en jy het my herinner dat dit net ’n game is. Jy het my handjie vasgehou as ek so swaar gekry het tydens ’n oggend hardlywigheid, en my getroos wanneer die insomnia aan my deur kom klop het. Jy was my asem...
Dis nou twee lang dae sedert ek van jou afskeid geneem het en ek weet nie hoe ek sonder jou gaan klaarkom nie. Ek sit en klou maar desperaat vas aan die goeie herinneringe... hehe, ek onthou daai een oggend toe jy speels vir my weggekruip het en ek jou nêrens kon kry nie. Ek het bitter angstig geraak, vreeslik gevloek, en amper ’n paar porselein items met my nege yster van die tafel af gebliksem. Ons kon nie sonder mekaar nie. Ek wou jou heeltyd vashou. Wanneer ek gepraat het, het jy aan my lippe gehang...
Soos met enige verhouding was jy seker nie altyd goed vir my nie. Baie het my gewaarsku en gesê dat jy vol twak is, en my ondergang gaan beteken. Jy was glo "high maintenance" en sou my nog onnodiglik baie geld kos.
"Goeie goed is duur", was altyd my ligtelike response.
Sommiges wou jou nie eers in hulle huis toelaat nie. Jou hele familie het ongewild begin raak. Blykbaar het jou boetie heel menthol geraak as mens druk op hom plaas. Selfs restaurante het ons begin stief hanteer en summier by ’n aparte glas hokkie ingejaag, om ons weg te hou van die "beter" mense af.
Net die kommin kroeë het ons nog laat tuis voel. Ek weet nie... ek was seker maar ’n sucker, maar jou tekortkominge was altyd vir my ’n teer sakie en ek het die meeste uitgefilter.
Wie is dan nou volmaak? Vir my was jou pakkie half vol...
Ek is bang om uit te gaan want daar is te veel goed wat my aan jou herinner... elke sonsondergang; elke braaivleis vuur se vlam; die lang hoektafel by Zizi's waar alles begin het; die manstoilette in die Weskus Mall, waar ek al een keer nie my lus kon tem nie, en jou net daar en dan, saggies en skelmpies opgesteek het.
Baie sê ek moet aanbeweeg en van jou vergeet, maar hulle verstaan nie. Geen binne- of buitemuurse aktiwiteit sal meer dieselfde wees nie. Niemand sal jou kan vervang. Ek gaan nie die pyp rook nie...
Ek sit nou hier met ’n benoudheid op my bors, ’n pyn in my hart, en ’n sakdoek vol donker snot, maar ek glo dit sal ook weer genees. Jy is nou verstrooide as in die wind, maar ’n stukkie van jou sal ek vir ’n lang tyd ronddra in my hart... en longe. Ons avontuur, ’n nie-fiksie hyg roman, het tot ’n einde gekom...
Tot weersiens
Jou verslaafde
Jantjie
P.S. - Moet asseblief nie by my kom spook nie.....