OOSTERSE HOENDER
Gaan kuier een oggend vroeg in ’n supermark of ’n Econo Foods en soek deur die hoenders na die een wat vars en lekker lyk. Indien hulle almal oud lyk of toegeys is
gaan soek ’n pakkie vars dye, lekker spekvet.
Wanneer jy tuiskom, ontspan en laat jou voete ’n halfuur rus.
Gaan sny nou daardie hoender in porsie-stukke - as jy ’n heel hoender aangekoop het- anders gebruik jy die dye.
Strooi sout oor die stukke en laat dit eenkant staan.
Kry jou sif en sit dit in ’n enemelskotteltjie.
Soek jou ouma se kwartkoppie en meet daarmee eenkwart-koppie meelblom af en gooi dit in die sif.
Gaan krap tussen jou speserye en kies die volgende om te meng - meet dit mooi af maar gebruik ’n knertsie meer as jy wil:
Een halwe teelepeltjie hoenderspeserye.
Nog ’n halwe teelepeltjie naeltjies - as jy nie halwe teelepeltjies het nie, moet jy die helfte van ’n vol teelepeltjie se speserye terugkrap in die houertjie.
Skep een vol teelepel droë mosterd, skraap dit bo-op plat en gooi by.
Soek weer ’n halwe teelepeltjie en skep daarmee ’n bietjie tiemie.
Gooi al die halwe teelepeltjies speserye en die mosterd by die meel.
Skud nou die sif om alles te laat deurval en meng dit goed.
Trek nou die hoenderstukke nader. Tel een vir een op en rol dit in die droë bestanddele. Pak almal in ’n oondvaste glasbak. Dit is nou daardie glasbakke wat nie bars wanneer die oond te warm word nie. Of gebruik ’n oondkastrol. Laat dit eenkant staan.
Gooi nou die volgende lekkertes bymekaar om een heerlike lang sous mee te berei:
Een halwe koppie tamatiesous - indien jy halwe koppies het, anders moet jy maar maak soos met die speserye, gooi die helfte van ‘n vol koppie se tamatiesous terug in die bottel.
Kies ’n lekker groot ui, trek die skil af en rasper daardie halwe koppie vol daarvan.
Soek nou twee kwartkoppies en vul een met blatjang en een met asyn. As jy net ’n heelkoppie het, vul dit saam halfvol daarmee.
Gooi een teelepel vol Worcestersous daarby.
Skep ’n kwartkoppie vol korinte en roer dit sommer alles tegelyk deurmekaar.
Gooi nog ’n bietjie sout by, net so knippie en ’n half en roer ’n lepelvol suiker ook daarby.
Gooi die sous oor die hoenderstukke en maak die bak bo-oor toe met foelie.
Los dit nou rustig tot so ’n uur en ’n half voor etenstyd sodat die sous die hoenderstukke kan inkleur.
Laat die oond dan matig warm word en plaas die bak met hoender en sous daarin. Maak die oonddeur toe.
Laat dit stadig prut tot sag en gaar.
Maak die oonddeur na een uur versigtig oop en koes vir die wasem. Haal die foelie van die bak af en maak weer die deur toe. Skakel die oond af.
Dien die hoender ’n halfuur later aan tafel op. Onthou om servette aan almal te gee om hulle vingers af te vee want hierdie hoender is vingerleklekker.