Author Topic: Die hoed van alle kwaad.  (Read 2461 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Die hoed van alle kwaad.
« on: January 07, 2013, 04:45:11 AM »
Oupa het by Rembrandt in die Paarl gewerk. Wat presies hy daar gedoen het weet ek nie, maar solank ek kan onthou het hy daar gewerk.
Hy was ‘n lang, skraal man. Sout van die aarde. Altyd ‘n hoed gedra. Nie ‘n kepsie nie, nee, ‘n John Wayne hoed.
Lexington sonder kurk gerook. Altyd die pakkie so teen die kant van sy hand gekap, net hard genoeg dat so drie sigarette so ‘n entjie uitskuif. Dan het hy sorgvuldig een gekies, die tabak teen sy duimnael vasgekap voor hy dit aangesteek het.
Vaaljapie gedrink uit Fishpasteglasies uit. Desjare het jy nog fishpaste in so ‘n mooi glasie gekoop. Tot Ouma se onsteltenis haar Budgie verslaaf gehad aan die vaaljapie. Die voëltjie se hokkie het langs die yskas op die wasbak gestaan. Daar het hy heeldag rustig met sy geveerde maatjies buite sit praat en vir Ouma Jan Pierewiet gefluit. Dis nou tot Oupa van die werk af by die voordeur inkom. Dan was Ouma vergete en het die gevoëltetjie onrustig geraak want Oupa se tweede stop, dus nou na hy vir Ousie (Ouma) gegroet het, was die yskas en sy tweede liefde, Vaaljapie.
As hy daai yskas se deur oopmaak het voël van Jan Pierewiet vergeet en soos ‘n regte bosteef begin raas. Dis sommer by voorbaat seker maak dat Oupa nie van hom vergeet nie. Dan maak Oupa sy hok oop en hou die Fishpasteglasie vir hom sodat hy eers ‘n goeie paar slukke inkry voordat Oupa die radio aansit om die nuus te luister. Soos die aand oud word het die ritueel van yskas en vaaljapievoëltjie homself herhaal tot voëeltjie later op die hok se vloer sit slaap het.
Oupa se hoed het later sy jare beginte wys en Ousie het nog ‘n klagte onwikkel. Behalwe vir haar ondankbaarheid oorlat Oupa die voëltjie van dors red het sy nou ook beginte kyf oor die hoed en hoe skaam sy Sondae is oorlat Oupa nou met die ou hoed moet kerk toe gaan.
Nou kan geen man mos die deugde van ‘n kywende vrou ignoreer nie.
So kuier ons die Vrydag by Ouma.
Dis die einde van die maand en Oupa is laat van die werk af.
Ouma is later bekommerd en die gevoëltetjie sit dikbek en dors op sy swaai.
Ouma stuur vir my en my pa om vir Oupa te loop soek.
Niks maak nie.
Hulle sê by sy werk hy het stasie se kant toe gestap. Ons vertel vir Ouma en nou is die gort gaar.
Ouma kla oor die kos wat koud word en gevoëltetjie fluit iets wat klink soos “As al die riviere vol vaaljapie was.”
Die nuus is al verby, toe kom Oupa eers by die voordeur in.
Ouma skel.
Gevoëltetjie skrik hom half stil want hy ken nie die man nie.
“Bedaar Ousie.” sê Oupa. “Sondag hoef jy jou nie weer vir my te skaam nie.”
Dis toe dat Ouma eers die nuwe hoed opmerk. Kompleet met ‘n geel veertjie in die band gesteek en al.
Oupa was eers by Katzekowitz aan om vir hom ‘n nuwe hoed te koop en hulle het bietjie vasgesit oor die duur pryse.
Sondagoggend kry ons nie vir Ouma in die kerk nie. Sy het vir Oupa ingehaak voor die kerk se deur en groet eers die hele gemeente.
Eers toe dominee die eerste gesang opgee stap sy en Oupa in. Hy haal sy nuwe hoed af en hang dit met swierigheid aan sy hakie in die voorportaal op. Hulle stap soos ‘n bruid en bruidegom in daai paadjie af tot in die voorste bank waar hulle gewoonlik sit.
Dis asof daar ‘n vuur in Ouma aangesteek is. Sy sing dat Mimi Coertser soos ‘n hangbergerwyfie klink. Dominee beduie later dat die orrel maar kan stilbly want die gemeente het genoeg begeleiding.
Toe die dominee die seen uitspreek is Ouma in haar wegspringblokke.
Amen.
Sy sleep vir Oupa  gangetjie op om eerste in die voorportaal te kom. Op hierdie dag gaan almal in die gemeente ‘n tweede kyk van Oupa se hoed kry.


In die voorportaal steek sy vas.
Oupa se hoedhakie is leeg.
Sy nuwe hoed het ‘n ander kop gekry.
Van daardie dag af was Ouma ‘n kerkweduwee.
Die kerk het Oupa nooit weer gesien nie.
Ja, hy was weer eenkeer daar, maar AVBOB moes hom daar instoot net met sy kispak aan en sonder sy hoed.



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die hoed van alle kwaad.
« Reply #1 on: January 07, 2013, 04:57:44 AM »
Nog 'n boektoe storie.  Dankie vir die deel Naas. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die hoed van alle kwaad.
« Reply #2 on: January 07, 2013, 05:59:30 AM »
Ek sal in der ewigheid noooooit moeg raak vir hierdie stories uit Oupa se lewe Naas.  :love7: :notworthy: en ek skryf AMEN op PM se boektoe!!

Offline AB

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1930
Re: Die hoed van alle kwaad.
« Reply #3 on: February 23, 2013, 04:59:55 PM »
so 'n helsim wat oupa se kerkhoed vat en dit nogal in die kerk ook.