Author Topic: Titelgedigte & -verhale.  (Read 8485 times)

0 Members and 2 Guests are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Titelgedigte & -verhale.
« on: December 03, 2012, 02:26:57 AM »
Annie: Immergroen (Nonet gedigvorm)

'n nuwe lewenslied bind ons saam
drup nektar deur die hele jaar
soet hang geure in die lug
jy elke dag onthou
omgee om my vou
ek het jou lief
immergroen
altyd
jy
©

Trapsoetjie: Immergroen

My liefde bly vir jou immergroen,
nooit sal dit my verlaat.
Ek het dit meermale probeer doen.
My liefde bly vir jou immergroen,
geen pleister kan dit verbloem.
Om daarteen te stry sal my niks baat
My liefde bly vir jou immergroen,
nooit sal dit my verlaat!
©

Aspoestertjie: Immergroen (Triolet)

Wyl die jare oor ons gaan
Het my liefde vir jou gegroei.
Daar was lag en soms ’n traan
Wyl die jare oor ons gaan.
Maar ons liefde het vas gestaan.
Soos ’n boom immergroen gebloei.
Wyl die jare oor ons gaan
Het my liefde vir jou gegroei.
©
« Last Edit: March 14, 2013, 02:12:04 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Titelgedigte & -verhale
« Reply #1 on: December 03, 2012, 02:28:55 AM »
Trapsoetjie: Matroselied (Abcedarian Gedigvorm)

As waters roep
bring dit saam
chaos wat
die Matrose
effens skeel laat.

Fakkel in die hand
gaan al wat matroos is aan land.
Honderd en tien wat die skatkis
in die grond wil bring.

Jonas wat nader spring,
kom julle klomp laat ons sing, sing die
lied van die hartseer
matroos.

Net met een
oog wat alles aanskou
probeer hy op sy hout been staan sonder om
quislings te skree vir die
rooi baard wat een kant
staan. Staar en wag
tot almal weg is. Van
uit die skemer
vergete van al die pyn
weet hy dis sy lied wat hulle sing.

X-merk die plek waar hy haar neer gelê het.
Ysterhand sal nog betaal,
zonder 'n sent sal die man val.
©

Mel: Matroselied

Die gewonde nag vou ons toe
soutsuurlewens word
in die lug geproe

Steenklipgemoed
terwyl ons eie storms
onverpoos bly woed

Veraf dryf die heldesnoot

terwyl hierdie roofskip
skuimend die weg
uitstoot

Verlossingsgoud word ons gebied
op die rimte van hul matroselied
©

Naas: Matroselied.

Die wind sing weemoedig
Deur die skip se takelwerk
Wyl seile ritme hou
Met matrose se stemme

Stemme wat verlange klank
na vergete hawens
en verlate liefdes

Stemme wat weemoed beeld
oor vrou en oor familie
wat tuis moes agterbly

Stemme wat vooruit kyk
En sien waar nuwe lande
ryk in oorvloed wag

Stemme wat saam werk
Aan die meesterlike uitvoering
van nog 'n matroselied
©

« Last Edit: March 14, 2013, 02:12:30 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Titelgedigte & -verhale
« Reply #2 on: March 14, 2013, 01:41:31 AM »
Uit ons vorige woordskuur: Posted Maart 17th, 2009 by Meraai vannie baai

Met spesiale dank aan Mel vir die voorstel van hierdie spanpoging onder die forum-skrywers.

TITELVERHAAL 1: Die roosboom langsaan.
Lorraine se weergawe:

Vanoggend het ek vlinders in my maag. Ek is opgewonde. Dis Valentynsdag en toe ek die deur oopmaak, lê daar twaalf rose op die voordeurmatjie. Ek bloos, al kan niemand my sien nie. Gelukkig is my man weg op ‘n sakebesoek. Ek weet van wie dit kom. Buurman. Uit sy tuin, van die roosboom langsaan. Ek wonder net hoe het hy dit reggekry dat sy vrou dit nie sien nie. Op die kaartjie staan, “wag vanaand vir my sms!”

Vir die afgelope vyf maande het ons ‘n vuurwarm verhouding. So warm soos die rooi van die rose. Met my man wat meer oorsee is as by die huis, hou buurman my nogal besig. En sy vrou is salig onbewus van alles. Ek en buurman se verhouding het juis begin oor ek sy roosboom so bewonder het. Geleidelik het komplimente oorgegaan na flirtasie en voor ons ons kon kry, ‘n warmbloedige buite-egtelike verhouding.

Buurman het belowe vanaand is dit ons aand. Ek trek dus net ‘n deurskynende nagrokkie aan. Sy vrou moet ‘n siek vriendin besoek en alles is veilig vir ons ontmoeting. Hier teen sewe-uur kry ek ‘n sms. “Volg die roosblare!” Ek maak die voordeur oop, my hart maak bokspringe. In ‘n mooi paadjie gestrooi lê rooi roosblare, lei dit na buurman se erf. My hart klop in my keel. Buurman is besig om met vuur te speel. Maar my nuuskierigheid kry die oorhand. Ek loop saggies, sien buurvrou se motor is weg.

Die roospaadjie lei na die roosboom langsaan. Dit is doodstil en my hart klop in my keel. My lyf bewe van opgewondenheid. Dis donker en ek ruik die soet van die roosblare. Meteens trek die wolke voor die maan weg. Skielik spring iemand agter die roosboom uit. Ek skrik. Net toe ek vir buurman wil glimlag, sien ek dit is sy vrou – haar oë verwilderd met ‘n lang bebloede mes in haar een hand en in die ander hand ‘n bos rooi rose van buurman se roosboom . . . . .
©

Mel se weergawe:

Die (nog steeds) vreemde oê staar ondeurdringend terug na my vanuit die gekraakte spieel. Ek raak huiwerig aan die (nog steeds) onbekende neus en my vingers gly stadig om die (nog steeds) ongewone mondhoeke. Vandag is my plastiekgesig se tiende verjaarsdag.

Tien jaar terug het die eerste seisoen skommelmaai tussen ons vier mure begin. Ek het my eggenoot Dawid se trouring al deur geruime jaartalle gedra. Die wisselval tussen ons harte het ons verhouding baie geskaad maar die gom wat ons aangewend het, het ons tenminste bymekaar gehou. Ek was regtig lief vir hom en alhoewel ons mekaar se sienings nooit puberteit kon toelaat nie was hy die enigste man vir my. Maar erens op sy hartskaart was my sielsbestemming nie genoeg vir hom nie. Toe die herfsblare daardie jaar ons erf onbeskaamd bevlek het, het ek die ontrou in sy lyfshouding begin waarneem. Daar was iemand anders in sy lewe en met die begin van die sonskyn na die winter het sy tas en egskeidingsbevel reeds by die voordeur gewag. Dit is toe die geskende hartsog my wese oorneem en die ontwaking van 'n outomaton in my wese plaasvind.

Ek trek die gordyne so effens weg en staar afgetrokke na die huis langsaan. Al is ek die nuwe intrekker het die buurt se skinderstories reeds my ore bereik. Blykbaar was my bure angstig met die koop van die eiendom so nege jaar terug. Wel, dit is te verstane as jy in ag neem dat daar 'n gruwelike moord plaasgevind het net so maand voor die tyd. Wat die saak meer hoendervleis gee, is die feit dat geen lyk gevind kon word nie. Die outoriteite het wel bevestig dat dit die man se bloed was, wat in die hoofslaapkamer gevind is en natuurlik was sy vrou die hoofverdagte nadat dit aan die lig gekom het dat hy 'n skelm verhouding gehad het. Maar tot en met die hede is sy steeds op vrye voet nadat sy stewige bankbalans ook geledig was. Wat van sy lyk geword het, het mense steeds aan die wonder…

My oê hardloop natuurlik na die verlate roosboom op die hoek van my bure se erf. En erens in my binneste knik ek 'n gelukwensing in daardie rigting…Dit is net ek wat weet dat die roosboom langsaan ook tien jaar oud is.
©

Trapsoetjie se weergawe:

In ‘n verwaarlose tuin met gras wat tot by die kniee kom. In die verte staan ‘n klein boompie wat lyk of hy dood is. Van nader is daar ‘n bloed rooi rosie besig om te vorm.

Ons het so ‘n paar jaar terug ingetrek en ek het vir Pieter toe ontmoet. Hy het altyd vir my geglimlag oor die heining.

Verlede jaar het alles so mooi gelyk, Pieter was altyd voor in die tuin. Besig met skoon maak en werk. Ons het goeie vriende geword. Alles saam begin doen. Ek was nog altyd baie nuuskierig en Pieter het altyd vir my spookstories vertel.

Daardie dag, ses maande terug, moes ek eerder huistoe gegaan het. Hy het my weer vertel van die huis op die koppie wat die mooiste rose gehad het, en dat hy vreeslik graag een sou wou plant in sy tuin. Hy het ook weer my probeer bang praat. Vir my gesê dat niemand nog ooit lewendig uit daardie huis gekom het nie. Ek het toe daar en dan besluit vir Pieter sou ek ‘n roos boom kry.

Vroeg aand by die huis op die koppie aangekom, alles het so aardig en slordig gelyk, maar die rose was pragtig tussen al die droë blare. Aan die voordeur geklop – dit het net oop geswaai. Hier het my nuuskierigheid oorgevat en my bangheid huistoe geloop. Binne was dit nie veel beter as buite nie, stof, spinnerakke en die muf reuk wat swaar hang. Soos ek verder loop op soek na iemand om toestemming te vra vir ‘n boompie vir my Pieter het ek begin voel ek word dop gehou. By ‘n groot ysterdeur ingeloop, te laat agtergekom dit was ‘n fout, die deur het agter my toegeslaan. Dis donker en ek hoor voetstappe. ‘n Hand wat styf om my arm gaan, dit maak seer, ruk my van my voete af. Na wat soos ‘n ewigheid voel beland ek op ‘n tafel wat koud voel. Ek is vas gemaak. Hoekom? Wat wil hulle hê? Ek wou net vir ‘n boompie vra?

Pieter het agterdogtig geraak toe ek nie die volgende oggend soos gewoonlik op sy stoep sit en wag vir hom om op te staan nie. Hy het my begin soek. Na ‘n ruk het hy onthou van die storie wat hy my vertel het van die roos bome by die huis op die koppie. Pieter het dadelik geweet ek het soontoe gegaan.

Die reuk van Ether hanglaag. Ek hoor die geraas van yster op metaal. Ek dink aan my liewe Pieter. Gaan ek hom weer sien. As ek maar net huistoe gegaan het. Trane loop stil langs my wange af. Ek is te bang om ‘n geluid te maak. ‘n Pyn skiet deur my arm, ek gil so hard, dat die een om val van skrik.

Pieter het in geloop en begin soek, stil want hy hoor geluide. Skielik is daar ‘n doodsangs gil in die lug en hy weet dis ek. Sonder om verder te dink hardloop hy reguit na die geraas, ruk die deur oop en die reuk van Ether vang hom so onverwags dat hy begin stik. In die vertrek sien hy my op die tafel lê, strompel vorentoe en begin my los maak. Pieter het nie gesien dat die man wat my arm begin sny het ook nog hier was nie. Hy het op die grond gesit toe Pieter in storm. Daar was ‘n harde slag en ‘n geskree en gestamp. Pieter wat vir my skree om uit te gaan en hulp te kry. Ek wou nie. Pieter skree weer ek moet weg hardloop. My voete het begin, ek moes my arm vas hou, ek is daar uit.

Dis waar wat Pieter gesê het, niemand was nog ooit lewend gesien na hulle by die huis in gaan nie. Ek het terug gegaan om vir hom ‘n roos boom te kry. Ek het dit vir hom geplant in sy tuin. Die tuin waar niks meer mooi is nie. Net die roosboom langsaan.
©

Naas se weergawe:

En toe kom die ryp.
Dit was die groot ryp van 1914. Alles vrekgeryp.
Maar laat ek voor begin.
Ek staan nou al vyf en dertig jaar hier in die tuin. Hier geplant deur Annie met die sagte hande. Ek was destyds nog net ‘n loot maar sy het my met liefde en groeipoeier in die grond gesit. Elke dag water gegee.
Nie lank nie of my wortels het die vrugbare grond binne gedring en ‘n vaste anker gevorm.
Annie het elke dag ure lank rondom my in die tuin gewerk en met my gepraat asof ek haar eie kind is. Ek het gevoel ek is net daar om haar te plesier en as haar sagte hande my blare streel was dit asof ek meer regop staan.
Die ander plante rondom my was net so lief vir Annie.
Elke jaar het sy wat Annie is die wilde lote wat uit my stam groei met liefde en ‘n skerp sker afgesny en in ruil het ek vir haar geblom. Die diepste rooi rose. Twaalf op ‘n slag.
Sy was so dankbaar en het my vertel van die rose wat sy eenkeer van ‘n goeie vriend af gekry het.
Twaalf Bloedrooi Rose. Nes joune. Het sy gese terwyl daar dou op haar ooglede vorm.
Hy was so ‘n opregte jong man.
Terwyl Annie my blare saggies liefkoos vertel sy hoe hy haar sy Roosknoppie genoem het terwyl hulle saans gewandel het deur die dorp se lanings. Haar hand in syne.
Sy is egter vandag alleen.
Haar hande raak stil tussen my blare.
Sy onthou nog, vertel sy, daardie aand in 1914 toe sy op die stoep uitloop en sien hoe haar jong man met die buurman se dogter onder die treurwilger sit. Daardie knip van die stomp snoeisker toe sy naderloop en hoor hoe hy haar om haar hand vra.
Dit was 1914.
Haar hart het doodgeryp terwyl die roosboom langsaan in volle blom staan.
©

Meraai vannie baai:
(Soos vertel deur Meraai en geskryf deur Mien.)

"Wat maak jy?"
"Ek skryf ..."
"O!"
"Waaroor?"
"As ek titel gehad het, sou ek jou kon vertel!"
"O!"

Mien lek haar potlood nat ... druk hom agter haar oor in en loer bo-oor die knypbrilletjie van oorle Hans vir my.

"Wat vir 'n ding is plagiaat Meraai?"
"Sonde vrou. SONDE!"

Nou eggo sy die "O" en haar gesig laat my giggelend die skryfblok nadertrek waarop haar ronde griffelskrif reeds 'n paar lyne omgeploeg het. "Leen my gou jou bril ..."

Daar het 'n roosboompie vlak teen die draad gestaan
en eendag kom daar langes 'n kar sonder dak verby,
plek vir 'n swaar vrag, die was nie daar;
net genog vir 'n G-string van sy.

"Jy het mos, roosboompie,
verlep en amper gevrek;
toe ek anderdag 'n Vaaltynrosie
van jou nader wou trek.

En daarom gaan ek jou glad nie meer
verder in my storie vermeld;
wou mos met jou dorings keer
en steek, soos 'n dêm speld!"

Toe druk die man agter die stuur
die remote se knoppie
en die kar sonder sy dakkie,
verdwyn, agter die veiligheidsmuur.

Ek gee oorle Hans se bril vir Mien terug. "Nie sleg nie ... glad nie sleg nie! Kan sien hoekom wil jy weet wat is plagiaat. Maar vertel my asseblief tog net: wat het jou besiel om die goed te skryf?"

"Deur die gordyn vir Outop dopgehou toe hy 'n roos van die bure se boom langsaan wou steel op Vaaltyn's dag!"

My oog vang die laaste woorde:

- fluit fluit my storie is uit -
©

« Last Edit: March 14, 2013, 02:15:05 AM by Meraai vannie Baai »