Author Topic: Maters se woorde in versvorm  (Read 6738 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Maters se woorde in versvorm
« on: December 02, 2012, 02:50:00 AM »
Wanneer is woordkuns poësie? Tussen die kuierlyne op die forum kan 007 antwoord!
Ek loop net 'n draai, en met my terugkoms is daar weer ietsie te skaai. Soms rym en pronk dit in stywe strukture, en soms verskyn dit in glansblaai-vrye-verse; selfs in gewone geselssies. Saki maki - daar is altyd 'n pikante woorddis tussen die lyne en humorsinne van ons skrywersmaters.

(*Nie een van die gesteelde plasings hier onder was as vers geskryf/bedoel nie)

VERSKUILDE VERSE UIT DIE MATERS SE ABC GANGE

Piet Magriet se woordsnoer:

 Sien ek daai prentjie van die woorde
 wat so in die gange hang,
 reg om ge-oes te word.

Iemand moet dit net
 in sinne of versreëls
 kom bind;

om sy lende gort,
 in 'n halsnoer vang
 om aan iemand se hart te hang
 
met 'n kleine kaartjie daarby,
 forumwoorde,
 ge-oes en ingeryg,

net vir jou en vir my.

********************

Michelize:

 ek wens ek was êrens
 in die noorde van nêrens
 waar ek op my rug kan lê
 en sterre kyk...

of dan te minste iemand hê
 wat daar lê
 en sterre kyk
 en dan aan my dink.

(Wag, ek het so ene. Hy sit en TV kyk en ek is seker hy dink aan my!)
 
****************************

Fransi: Gesiggies en Kosmos
 
 Gesiggies is vir my so uniek en
 Kosmos is 'n fyn ou blommetjie

wat sonder sorg
 telkens weer vreugde en prag

vir moeë of haastige reisigers
 verskaf en toon.
 
As mans net wou besef watter magiese krag
 'n onverwagse bos blomme op 'n vrou het.

Sommer net omdat hulle vir hom mooi was
 en hom aan jou laat dink het...

nie oor hy 'n skuldige gewete het nie!

*************************
 
Naas: Omgedraaide swerkater

 Virelai ancien
 Hierdie Viriele Ansie gedig
 smokkel met my grys massa.
 Nes ek dink Khoi rym met kooi
 kry San baster kleintjies.

Die intellektuele genie
 wat die alfabet vir die digvorm
 deurmekaar geskud het se
 ringspiere moet pynlik saamtrek.

*******************************
 
Verskuilde Verse van PM: Oorbruggende Titel
 
Ek lief stilte

want dan kan ek die voëltjies hoor roep, sing en fluit,
 maar saans as hulle slaap, dan kan mens die stilte aanvoel.

'n Mens moet 'n rustigheid ervaar,
 kalm wees, dan glip humor deur.

Wanneer 'n mens "ontstig" is,
 drup al die mooi in die lewe
 deur jou "nate" weg,

soos sand tussen die vingers deur

****************************

Angelica: Skrywersblok.

Dis middelnag.
Stil. Doodstil.

Net 'n vliegtuig wat oorkom
en 'n klomp passasiers na wie weet waarheen karwei.

Knus hier binne in my plekkie is dit.
Nou hoekom sit ek kiertsregop as ek kan slaap?

Ek is weer op daardie plek
waar 'n blok in my kop nes geskop het.

Miskien moet ek die kersie doodblaas
 en gaan (probeer) slaap. Slaap is 'n luxury.

*******************************
 


Annie
 Ek glo jy sal eendag weer sien dat die mosaiek
 van bymekaargeskraapte glasstukkies
 die mooiste lig weerkaats.
 
~~~~~~
 
Naas: soms is ons te lief en te naby

 Ek dink ons staan soms te naby
 aan ander se probleme omdat
 ons liefhet en nie daarvan hou
 dat hulle seerkry nie.
 
 Dit is egter belangrik dat ons moet onthou
 dat ons nie ander se probleme
 moet hanteer nie.

 Hulle
 moet
 dit
 self
 doen.
 
 Ons kan slegs hulle seerkry
 verminder deur ondersteuning
 en hulp aan te bied en dit te gee
 indien daarom gevra word.
 
~~~~~
 
Wat maak ek as ek weet

 hierdie ligte houtjie wat ek kan slaan
 is noodsaaklik en kan die verskil
 tussen lewe en dood beteken.

 As ek nie die ligte houtjie slaan nie
 is ek later skuldig aan die dood?
 Ek glo tog so.
 
 Dis ongelukkig so
 dat goeie mense
 ook die slegte
 moet ervaar.

 Partykeer
 moet
 iemand
 seerkry
 voor
 hy
 leer.
 
~~~~~
 
Piet Magriet
Die pad van onsekerheid - met 'n vreeskleed - dit is 'n helse pad  

Hoekom is dit makliker
om jou eie probleme te hanteer,
as wat dit is om die probleme
van jou geliefdes te hanteer?

 As jy self siek is dan is dit makliker,
 jy aanvaar en jy verwerk,
 maar as dit iemand na aan jou is,
 dan gryp die onsekerheid jou
 en die vrees dryf jou
 teen die mure uit.
 
~~~~~
 
 Soms het die ouens om jou
 groter hartseer en meer probleme
 
 en dan help dit
 om jou eie pyn
 ligter te maak.

~~~~~
 
Die lesse geleer uit seerkry en vrees

Iemand het in die week vir my gesê:
 Ons is net van een ding seker
 en dit is dat ons almal
 dieselfde paadjie moet stap.
 
 Die ergste van alles is,
 sodra jy klaar alles ervaar het,
 al die seerkry verwerk het
 al die vrese verdryf het,
 dan is jou tyd verby!

As ek kon...
 
 sou ek al hierdie ervaring
 in my testament wou oordra,
 dit bemaak aan iemand,
 sodat dit nie verlore
 moet gaan nie.
 
~~~~~
 
As ek maar net kon...

my lang neus uit ander
 se sake hou en my
 by my eie probleme
 bepaal...
 
~~~~~~~~~

"Pakkies"

 Dit is wanneer 'n mens weet
 dat daar omgee is, ware omgee
 en ook dat daar ander "pakkies" is
 wat veel meer weeg as joune,

 wat jy skouers optrek
 en jou rug reguit maak
 en daadwerklik aangaan.

 'n Mens is nie net sterk vir jouself nie,
 jy is sterk vir dié om jou,
 dié wat omgee,
 want jy gee ook om.
 
~~~~~~~~
 
 Selfs
 onkruid
 dra
 soms
 die
 mooiste
 blommetjies

~~~~~~
 
 Huppel trippel toegesnuffel
 In almal se liefde toegewikkel
 Beursie rond lyfie gesond
 Soentjies op die mond
 Probleme onder die grond
 
~~~~~~~
 
Trapsoetjie:
 As ek kon ...
 

 het ek almal gehelp
 wat dit nodig het.

 Mense probeer leer
 hoe om met diere te werk

 en ook mense te help
 om mekaar met liefde
 en respek te aanvaar.
 
~~~~~~~~
 
Te veel donkerwolke op die horison

 As ek kon....
 het ek nou begin weghol
 net ek het al agtergekom alles hol saam.

 As ek kon ...
 het ek bietjie gaan wegkruip
 in my geliefste berge net vir 'n paar dae.

 Daar is geen krag,
 geen opvangs,
 niks, net rus, en vrede,
 en stilte en water en wild
 
 ...ahaaa
 As ek kon was ek nou daar
 
~~~~~~~~~~
 
Mel: As ek kon ...
 
 sou ek die vrees
 vir die onbekende
 versag.

 Die onbekende
 wat gepaard loop
 met dood.

 En nuwe lewe ...

 En as ek kon
 sou ek vir alle kindertjies
 'n mooi "childhood" wou gee ...

 Want die grootmenskostuum
 het alreeds te veel
 "wear and tear" ...

 Waar kan ek my bedanking as grootmens inhandig?
 
~~~~~~~~
« Last Edit: December 02, 2012, 03:27:55 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Maters se woorde in versvorm
« Reply #1 on: December 02, 2012, 02:52:42 AM »
Trapsoetjie: Menseregte

Wie is die mens en wie is nie?
Wie het die regte?

Die een wat reg is, is nie 'n mens nie
en die een wat verkeerd handel en steel
en breek is 'n mens.

Dan is ek eerder nie 'n mense nie
en het ek nie menseregte nie.

Trapsoetjie

Jou
woorde
laat my sien,
al is dit so koud vandag

die
eerste vers
laat 'n warmte binne my,
asof winter voete gekry het

wil ek
saam met jou
in die son baljaar,
en my soos 'n kind gedra.

Wens ek kan by die kaalgat appelboom, my wense
om so mooi te skryf, ook toe draai in warm somer!

Ek lees en ek loop terug na waar daar geen geraas is,
met oorverdowende stilte, my oor seermaak, en ek voel rustig...

********

Angelica:
  
Ek
sien
die ou
wat met sy rug
teen 'n boom se stam
sit en lees /  skryf in 'n boek / boekrol...
soos Dawid van ouds toe hy sy Psalms - wat ook gedigte is - geskryf het

********

PM: 'n plaas sonder 'n baas.  

Soveel prag in die dorre, klipbesaaide aarde.
Pienk pienker as pienk
en rooi rooier as rooi.
Alles is so fraai,
alles is so mooi.  
Soveel skatte, sommer net so gelos

********

PM: Soms ...

Soms gebeur dit dat die lewe jou
aan die kraag beet kry en jou slinger na plekke,
of situasies, waarin jy nie wil wees nie.

Dit ruk jou uit jou daaglikse roetine
en jy kwel jou siek omdat jy nie kan wees,
waar jy glo, mense nie sonder jou kan klaarkom nie.

Dan keer jy terug en sien, oeps,
niemand het my eers gemis nie.
Die lewe het maar sy gang gegaan. Alles is in orde.

Ontspan maar daai boude, neem 'n rukkie vir jouself, dit is soms nodig.
« Last Edit: December 02, 2012, 03:27:29 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Maters se woorde in versvorm
« Reply #2 on: December 02, 2012, 02:56:12 AM »
Wyshede uit die wynvaatjie van PM

Jy moet eers by die derde glasie kom
voordag jy slim is,

pasop vir die vierde een,
dit maak jou baie sterk,

die sesde maak jou so vuil
soos 'n vark, wim sal nie eers help nie,

en die volgende een maak jou vergeet
wat jy laas gesê het.

Jy sal net wakker word en wonder hoe
het jy daar gekom en wat soek jy daar?

Voor jy vra,

sodra jy kan sluk en lustig saam met jou lewer sing
het jy darem nog baie om voor drankbaar te wees,

na die vierde een begin jy al vergeet
waar jy laas besig was om te tel...

Naas:

My broer,
die een wat in 'n ongeluk
nege van sy tone verloor het
(hy is later dood van eentonigheid)
was mos so skeel gewees (rede vir die ongeluk)

as hy huil, loop
die trane teen sy rug af.
Ek het al staan en kyk hoe maak hy
die hekkie oop en dan klim hy oor die draad.

Sy gunsteling verkyker
was 'n opgerolde tuinslang.
Maar gee die duiwel wat hom toekom,
hy was nie bang om homself in die oe te kyk nie.

~~~~~~~~~~~~~~

My oom se vrou is so groot,
sy klim soggens alkante van die bed af.

Die regering het vir haar
haar eie poskode toegeken

en moenie laat sy voor die TV verby loop nie,
dan mis jy drie episodes van 7de Laan.

Sy weeg net 6,5 op die Richter skaal.
« Last Edit: December 02, 2012, 03:27:13 AM by Meraai vannie Baai »

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Maters se woorde in versvorm
« Reply #3 on: December 02, 2012, 03:06:14 AM »
(007 kon die versoeking nie weerstaan om 'n Fib te skep met Angelica se woorde)

Bietjie van 'n rebel

Ek
is
iemand
wat my nie
steur aan strukture
van enige aard nie, ek sou
om die dood nie kan onthou wat en hoe dan nou nie.


Ek
wil
vry wees
om te sê.
En ek wil buig en
reguit maak waar en hoe ek wil.
So, oordeel my nie as ek my nie gaan verwerdig
om by die strukture in te val en te probeer nie - hou van die Vryvers vryheid.
« Last Edit: December 02, 2012, 03:26:55 AM by Meraai vannie Baai »

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Maters se woorde in versvorm
« Reply #4 on: December 02, 2012, 08:20:58 AM »
 :hello:

Meraai, dit was nou so lekker om almal se woorde in dig-vorm te lees. Dit is 'n voorreg om deel van hierdie groep te kan wees.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Maters se woorde in versvorm
« Reply #5 on: December 02, 2012, 12:37:31 PM »
Ek het dit al gesê en ek gaan dit weer sê:  Wat 'n wonderlike voorreg om ons eie 007 te hê wat net weet hoe om ons woorde in versvorm te verpak.   :hello2:  Jy is 'n kleinnoot grootnoot!   :notworthy:
Om te weet is om te verstaan.