Soos ‘n rukwind deur die huis
rol rammel-gorrel-roggel.
As die donder helder blits in die lug,
die krake in die mure, ruite wys.
Die borrel van geluk geprik
bars met ‘n aaklige pop
en stuur die onlekker
soos ‘n rukwind deur die huis
Asemloos die aanhoor
van feitlike vonnis
en ongenaakbaar waarheid
rol rammel-gorrel-roggel.
Die einde is nie die seerste
maar die doringpad daarheen
ontketen die WAAROM storm
as die donder helder blits in die lug.
In die laaste oorlog vir die lewe
is elke asemteug ‘n veldslag,
elke dag sy eie oorwinning.
Maar die krake in die mure, ruite wys.
Die krake in die mure, ruite wys
as die donder helder blits in die lug.
Dan rol die rammel-gorrel-roggel.
Soos ‘n rukwind deur die huis.
