Hier is iets wat ek solank geskryf het. As julle enige iets wil verander of byvoeg, kom help my asseblief.
Wees asseblief 'n ons in die pond.
In Maart 2011 het die Afrikaanse Forum "die lug" gesien.
Die Forum het ontstaan as gevolg van 'n gawe groepie skrywers wat nou met mekaar saamwerk om ons digwerk en algehele skryfwerk te verbeter. Ons spog met 'n hele klompie onderwysers en kunstenaars wat uitstaande werk lewer en binne maande het ons ons eerste volkleur A4-koffietafelbundel uitgegee waarmee ons spog. Elke skrywer het sy eie "bundel" in die boek, dit is propvol digkuns, foto's, kunswerke, kortverhale, gedigstrukture ens. Die volgende boek is in wording en ons nooi almal wat wil saamskryf uit om deel te neem.
Ons is 'n span wat saamwerk. Ons skep of vertaal gedigstrukture en dan spring almal wat wil saamspeel in en skryf 'n gedig op die voorgestelde struktuur. Dit leer 'n digter om buite die raamwerk te dink en skryf.
Raaitjie Lock, 'n Inwoner van Gatkantland, Australië, is ons geslepe woorddief, 007. Sy wandel deur die forum se gange en "gaps" al die oulike sêgoed, nuwe Afrikaanse woorde wat ons skep, wyshede en soveel meer, om in ons eie Woordskuur te verpak en uit te stal.
Ons as skrywers is altyd opsoek na 'n plekkie waar ons ons skryfwerk met ander kan deel. Elke skrywer wat by die forum aansluit het 'n eie hoekie waar hulle hul skryfwerk kan plaas, waarop almal kommentaar kan lewer. Indien 'n skrywer hulp nodig het met 'n werkstuk, word dit in die "kom ons help mekaar" afdeling geplaas en sodoende werk almal saam om dit te verbeter.
Natuurlik het ons ook 'n afdeling waarin ons ons gunsteling resepte met mekaar deel.
By die "kiekiekykplek" deel ons foto's.
Dan het ons 'n "kom skinder saam" hoekie waar ons ons lief en leed met mekaar deel. Indien iemand nie 'n skrywer is nie, maar tog digkuns en ander kunswerke geniet, of sommer net lekker wil saamkuier, of op sy eie unieke wyse 'n bydrae wil lewer, is hy/sy baie welkom.
Skryf gerus aan my, Petra Smit, of sommer net PM wat staan vir Piet Magriet, by pm@afrikaanseforum.co.za om aan te sluit en ek sal u registreer. Dit is gratis.
Kom kuier saam by
www.afrikaanseforum.co.za