Author Topic: Sussie se troue  (Read 1964 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Sussie se troue
« on: September 24, 2012, 03:17:04 AM »
My Sussie moes toe mos loop trou.
Ek sukkel vandag nog om agter die kap van die byl te kom want toe ek vra hoekom, mompel Oom Suinige Hans se seun iets van “oppie paling” en Sussie praat van die gemeenskapsaal. Maar die troue was toe in die kerk en die onthaal in die skuur op die plaas. Daar was ok g’n paling op die spyskaart nie, net snoek.
Sussie sê ek moet haar verstrooide jonker wees… of is dit nou pronker? Nee… ek is seker sy’t gesê jonker.
Maar in elk geval…
Oom Suinige Hans gee geld dat ek vir my ‘n pak klere by Mouritz Uys Boutiek kan gaan koop. Hy sê ek kan nie soos ‘n Japie vannie plaasaf lyk op sy seun se troue nie. My pa sê hy’s net snobberig… of is dit nou snotterig? Nee sies, dis seker snobberig. My pa sal nie so lelik praat nie.
Toe ek daar by Mouritz Uys Boutiek instap kom daar so ‘n mannetjie met knypboutjies en ‘n lapliniaal om die nek vra of hy kan help.
Ja, sê ek, Oom Suinige Hans het gesê ek moet ‘n pak klere by hom kom koop. En ek gee vir hom die brief wat sê hy moet die geld op Oom Suinige Hans se rekening sit.
Skielik kry daai mannetjie koud want hy vryf sy hande saam en sy ogies blink.
Hy begin my invra oor my mates. Wil my borsmaat weet en my waistline. Maar toe ek vir hom verduidelik dat my borste al van babadag maats is en ek nie weet wat ‘n waistline is nie raak hy vatterig.
Hy trek daai lapliniaal van sy nek af en begin my opmeet. En het hy my nou bemeet. Dis eers my binnebeen en toe my lengte en toe my binnebeen en toe my borsmaat en toe rondom my heupe. My nek en rondom my heupe en net om seker te maak, my binnebeen.
Ek begin later die aandag geniet en as hy my arms en bene meet dan span ek my baaisiekelseps en my traaisiekelseps en die mannetjie oe en a net die heeltyd.
En eintlik is hy opgemeet en hy pak daar ‘n spul kispakke en hemde en dasse van die rak af. Dis nou glo volgens my mates net vir aantrek maar ek moet darem eers gaan aanpas.
Die broek is te lank, maar ek moenie bekommerd wees nie, hy sal dit afsteek en dan sal hulle tyler dit sommer vir my soom. Ek sê “Nee maar dis reg so”
Hy gee daarby ‘n hemp en ‘n bloedrooi das. Die rooi van die das tel glo die rooi strepies in die grys van die pak op. Ek sien nie die rooi strepies nie maar wil nou nie onnooslik klink nie en sê net dis reg so. Toe gee hy nog ‘n paar vaal sokkies en spieelswart skoene daarmee saam.
Die oggend van die troue is ek al vroegdag in my nuwe klere. Ma sluk eers ‘n paar maal en sê toe dat ek goed lyk in die nuwe pak maar my spieel het vir my vertel ek lyk soos ‘n onderstebo termometer met die rooi das aan.
Toe Sussie uit die kamer kom in haar trourok lyk sy mooier as wat daai prinses destyds gelyk het toe sy daai bakoor prins by Kamelia Vulpen afgevry het.
Daar’s ‘n klop aan die voordeur. Toe ek oopmaak staan daar ‘n lang lel met ‘n pikkewynpak en ‘n swart keps op.
“Is dit die bruid se woning?”
“Op die oomblik nog, ja.” Antwoord ek.
“Haar vervoer is hier.”
Ek roep vir Sussie en sy sê ek moet saam met haar ry want ek moet haar sleep dra.
Nou verstaan ek nie hoekom hulle dit ‘n sleep noem as iemand anders dit moet dra nie maar ek weet niks van troues af nie en ek wil nie onnooslik klink nie, so ek vra maar liewerste nie.
Ons loop uit buite toe.
Daar staan ‘n lang slap kar. Sussie sê dis ‘n Limoezien. Sy agterdeur is mooi by ons hekkie geparkeer maar die voordeur kuier by die bure.
Die lang pikkewynman help vir Sussie in die Limoezien in maar ek moet self inklim.
Die pikkewynman klim voor in en vra of ons gemaklik is. Hy trek weg.
Ek weet nou hoekom bruide altyd laat by die kerk kom. Daai pikkewynman was al by die kerk, toe kom ek en Sussue nog by die stadsaal aan. Hy ry ewe windgat om die kerk en stop toe vir sy eie briekligte. Ek wil uitklim maar Sussie sê ek moet wag tot Pikkewyn die deur oopgemaak het.
Toe ons eintlik daar uitklim sien ek die Limoezien het wragtag al die parkeerplekke rondom die kerk gevat. Gelukkig het ons ‘n groot kerk anders het hy in sy eie gat vasgery of sou hy langs homself moes parkeer.
Die troumars begin speel net toe ons in die kerk se gang begin afstap. Sjoe! Ons was net betyds.
Terwyl ons so stap besef ek Sussie vang weer al die glorie want haar sleep hang soos ‘n gordyn oor my nuwe pak. Sy geniet dit blykbaar baie want sy stap so stadig dat ek aanmekaar in haar rug vasloop. Ek probeer verbykom maar sy ken al Michael Shumacher se trieks en loop al voor my in en die kerkgangetjies is nouer as Monako se tonnel.
Eindelik is ons voor in die kerk waar my nuwe skoonbroer blykbaar al lankal staan en wag.
Daai Dominee was blykbaar in die politiek want hy trek daar weg met die ontugwet en stop eers by oorbevolking.
Eindelik is dit ringtyd. My bene was al lam gestaan.
Ek sukkel om die ringe in die nuwe pak se sakke op te spoor. Ontdek in die proses nog ‘n paar versteekte sakke in die baaidjie waarvan ek nie eens geweet het nie. Skoonbroer en Dominee raak later ongeduldig. Hulle laat my sweet en toe ek uiteindelik die ringe kry glip skoonbroer se ring mos uit my hand uit.
Die dom moersleutel wat ringe rond gemaak het het nog nooit in die kerk agter een aan gehardloop nie.
Die verdommende ring rol afdraend van die kansel se kant af onderdeur die voorste ry banke tussen Tante Ans se bene deur en ek agterna.
Tant Ans skrik so groot, sy gee net een gil en knyp my om die lyf vas met haar bene. Hoe meer ek spartel om by die ring uit te kom, hoe vaster knyp sy my.
Gelukkig loop die vloer weer opdraend van die eerste ry banke af en daai ring gaan draai daar onder die vierde ry banke. Met die terugkomslag gryp ek hom en “reverse” triomfanklik agteruit. Met die ring in my hand en ‘n gillende Tant Ans op my rug kruip ek terug preekstoel toe sodat Sussie klaar kan trou.
Toe ek drie jaar later vir Tant Ans gaan vra of ek maar met Klein Ans kan trou was haar antwoord: “Ja, solank jy my net nie weer vir ‘n ride vat nie.”

 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Sussie se troue
« Reply #1 on: October 02, 2012, 06:15:20 AM »
Dit is altyd groot pret om jou stories te lees Naas.  Dankie vir die deel hiervan.   :notworthy:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Sussie se troue
« Reply #2 on: October 02, 2012, 03:20:00 PM »
 :icon_biggrin:  :icon_biggrin:  :icon_biggrin:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Sussie se troue
« Reply #3 on: October 03, 2012, 11:23:36 PM »
Hehehehehe, so gelag ek moes 'Gawie se pypie' ook inspan agterna  :icon_biggrin: