Dalk is dit wroeg of dalk is dit nie. Tog is die realiteit soms 'n goeie mengsel van die twee. Ek is skaars ek weet, maar soms is daar redes.
‘n Mens se lewe is mos in stadiums en fases ingedeel. Stadiums kom in jou kinderjare – terrible two’s, fokken fours, mislike twaalfs en hormonale tieners. Dan verlaat jy skool en nou beleef jy fases – studentfase, groentjie by die werk, pas getroud, pajamadril en vuil doeke, middeljare, aftrede, ouderdom. Oor geen van hierdie stadiums en fases het jy beheer nie, behalwe dalk die keuses wat jy in jou fase-lewe maak. Hierdie keuses kan jou maak of breek.
Elke keuse wat mens maak, kom ook met ‘n tikkie onsekerheid. Doen jy nou die regte ding? Is daar nie ‘n ander uitweg nie? Sal dit die beste besluit wees? Dit is hierdie keuses wat my in my middeljare, gedurig laat dink. Toe ons die sekerheid van die onervare jeug gehad het, het keuses maklik gekom en die gevolge eers later. Nou is ek geneig om die gevolge te sien voor ek nog by die vraagstuk kom.
Oudag is iets wat met ander mense gebeur. Aftree en leë nes sindroom is iets wat met ander mense gebeur. Slegte keuses vir skoonseuns en –dogters is iets waarmee mens met ander mense simpatie het. Jy hoor van die dinge en kry almal so jammer, maar sê nou net jy word een oggend wakker en jy besef: Gawes! Jy is ander mense! Jy kyk in die spieël en jy sien grys hare, plooie, vetrolle en ouderdomsvlekke. Jy trek ‘n trui aan en jou ma se hande kom by die moue uit en jy skrik, want vandag is jy ander mense.
So het die gawe huishouding nou by ‘n nuwe fase gekom. Iets wat al baie lank al dreig om te gebeur, maar wat al die betrokke partye verbete beveg het – die ouma en oupa kom bly by ons- fase. Ek weet dat ek op my beste funksioneer op my eie. Eenkant. Nou gaan dit nie meer so moontlik wees nie.
Toe ons nou op die punt kom, waar daar geen ander uitweg meer is nie, was dit Bertus wat dit laat gebeur het. Ek was verbaas, maar ook dankbaar. Ek sien al die voordele en ek noem al die dinge waarmee oupa en ouma sal moet kan saamleef. Tog, sal ons almal aanpassings moet maak. Ek wonder hoekom ek dit nie kan doen nie? Ek is beslis nie beter as miljoene ander mense wat dit reeds doen nie. Buitendien het hierdie twee mense hulself te kort gedoen om aan my die lewe en geleerdheid te gee wat ek het. Of ek nou eerste keuse was of nie. Ek is dit uit dank aan hulle verskuldig.
So - oor 4 weke begin 'n nuwe fase in ons huis. Ek moet plek maak vir nog 'n huis se meubels in 'n reeds oorvol huis. Dit is klaar 'n orgie. Ek is seker hier gaan snaakse oomblikke wees. Bertus sê ons moenie worry nie. Ons huis se meubels maak hulle sommer vanself dunner as hulle 'n bakkie met nog meubels sien aankom en as mens uit 'n vliegtuig na ons huis kyk, sal jy sien die mure is bolvorming soos alles plek maak vir nog. Grootste voordeel is dat hulle nie sommer by ons sal inbreek nie, want een kyk na die chaos hier binne en hulle sal sê: kom ons loop. Hier was klaar iemand.
Hoop ek kan die grappe ook met julle kom deel.