Vanoggend, toe die nag verdwyn
het mammie jou kom wakker maak.
Toe het die sterretjies in jou ogies kom skyn.
Jou oggend gebedjie, uit jou hartjie so rein,
Was vir jou ‘n belangrike saak,
vanoggend, toe die nag verdwyn
Nou staan jy hier voor my, broos en klein.
My hart versag en jy sien dit raak,
toe het die sterretjies in jou ogies kom skyn
Jou laggie borrel in my ore soos vonkelwyn
en ek weet ek moet oor jou waak,
vanoggend, toe die nag verdwyn
vandag het ons dalk vreugde, hartseer, pyn,
maar vanoggend toe jy my deur oopmaak,
toe het die sterretjies in jou ogies kom skyn
Jy, my bondeltjie liefde, teer en rein.
Dit is jy wat my lewe belangrik maak,
Vanoggend, toe die nag verdwyn,
toe het die sterretjies in jou ogies kom skyn
