Dikwels luister ek na mense wat vertel van "wonderlike" dinge wat gebeur het.
As kind kon ons ure luister na die "oumense" so onverklaarbare stories, soos die "vuurbol" wat hulle dikwels, in die nag, op dieselfde plek gesien het, of die vrou wat jy langs die pad kon sien staan in haar wit gewaad, wanneer dit reën en as jy weer kyk is sy weg.
Toe onthou ek. Toe ek nog 'n kinders was, het my pa 'n nuwe plaas gekoop (geen elektriesetyd nie) en ek wou eerste daar kom om natuurlik die beste kamer vir myself te kies.
My pa en my broers was eerste daar en groot was my verbasing toe hulle vir my die beste kamer gelos het! Tot ek deur die venster kyk en sien die plaasbegraafplaas lê net so 50 tree van my venster af.
Nouja, dit is mos wat ek wou hê!
Een aand staan ek voor die venster en sien 'n "rooi oog". Dan sien ek dit en dan sien ek dit nie. Ek hol na my pa toe met "daar is 'n spook, daar is 'n spook"! en hy kom kyk self.
Pa sê ons sal moet gaan kyk wat daar aangaan. ONS? Hoeveel onse is in Pa se pond? Ek sit nie my voet daar nie.
"Ek sal jou twee rand gee en jou hand styf vashou."
Pa steek toe die lantern aan en daar stap ons, ek in skrik en bewing, sleep-sleep half agterna.
Daargekom wys hy vir my dat dit 'n houtstomp is wat nog smeul nadat hulle daardie dag die veld om die begraafplaas afgebrand en skoongemaak het om nuwe landerye te maak.
Wanneer die windjie waai, word die "oog" rooi en as dit bedaar, verdwyn die "oog" weer.
As ek nie so benoud was nie, sou ek die vonkel in my pa se oog raakgesien het, want hy het dadelik besef dat dit die oorsprong van die "oog" is. Die les wat hy my geleer het is om die "verskynsel" te ondersoek voordat ek vreesbevange raak.
Saans maak ek en Hannes 'n vuurtjie. Gisteraand kyk ek oor die huis se dak en ek sien weer daardie "rooi oog". Dan is dit daar, dan is dit weg. Natuurlik net die rooi waarskuwingsliggie teen die berg wat vir die vliegtuie wys daar is gevaar, wat tussen die bome se blare deur koekeloer en knipoog, in die wind.