Jy weet seker matertjie, die grootste probleem wat ek het is hierdie oneindige onsekerheid. Jy weet nooit wat die versekering voorskryf nie. Jy is totaal en al afhanklik van die assessor, en ek gaan nou nie hier sê wat ek van hom dink nie, want dit hoort in die bo 18 afdeling!
Ek persoonlik dink dat ons, ons te maklik laat voorskryf. As dit by premie-betaal-tyd kom, dan betaal ons soos sombies. As dit by die eis kom, dan moet ons shut-up en aanvaar wat vir ons vertel word. Dit is snert. Hoekom het ek versekering? Hoekom betaal ek dat dit bars! Hoekom is ek te bang om te eis?
Hulle hou hierdie "premie-verhoging" voor jou neus, maar as dit nie my fout is nie, hoekom moet ek meer betaal? Ek het beslis nie die flippen water bestel of aangevra nie. Ons hele lewe is in rep en roer, totaal en al om ver gegooi, en wat kry ek? 'n Verdomde assessor wat kyk waar kan hy wat vir sy firma score!
Die ou wat my polis kom skryf het, en die ou wat my eis moet uitbetaal, werk beslis nie vir dieselfde firma nie!
AB, my pa was totaal en al teen versekering, dit net omdat hy alles in sy lewe verloor het as gevolg van 'n brand wat in sy besigheid ontstaan het en hy alles verloor het waarvoor hy jare gewerk het. Ons was nog kinders toe hy ons gewaarsku het teen versekering.
Ons is verseker by PSG Consult. Ek was verbaas toe ek vandag op hulle webtuiste ingaan en sien dat hulle die hele land vol takke het. Hulle het meer werknemers in Pretoria as wat ek plante in my tuin het (en ek kan jou verseker my tuin lyk soos 'n oerwoud) Vir my beteken dit net een ding! Jy betaal jou 0 af vir ander se rykdom!
Ongelukkig moet ek hier by sê, dat as jy in Pretoria of Johannesburg bly, het jy net met 'n spul geldgierige japies te doen. Hulle gee nie 'n flenter om vir hul kliente nie, dit gaan net oor geld en wie die beste kan presteer.
Dit is drie weke na die ramp ons getref het en ons het nog geen antwoorde nie. Al die ander huise om ons is al gerestoureer en die mense bly klaar in hul huise, ons sit nog soos bywoners in 'n plek waar ons nie wil wees nie. Vir my is dit 'n bitter pil om te sluk!
Ons kan nie kos maak nie, ons kan nie wasgoed was nie. My huis en die inhoud staan op sy kop. Ons kaste en meubels staan op vrot nat matte, en PSG Consult het nie 'n flippen saak nie!Die vloere, teels en mure bars en die kaste val uit mekaar. Ons duur soliede houtmeubels ... wag, ek moet probeer positief bly, maar dit is nie maklik vir my nie!
More het ons 'n afspraak met die ombutsman. Dalk kan hy 'n bietjie lig werp op die duister situasie. Hou maar net styf duime vas vir ons, voor ons van ons koppe af raak!
Jy weet, dit help net mooi niks om "menslik" teenoor ander te wees nie, hulle voel 'n veer vir jou!
Dankie dat jy ten minste geluister het. Ek weet jy sal verstaan.