'n bietjie beter gegriffel nadat ek krit-hulp ontvang het.
’n Grafsteen roep die onreg uitNet drie dae oud toe haar ogies vir laas gesluit het! Op haar klein grafsteen staan die aanklag in stil woorde uitgekerf:
Hier Rust
Catrina Mageliena Hamman
Gebr. 17de Februari 1902
Overld. 20ste Februari 1902
Eenigst Geliefde Dochtertje van ons
J.J. en M.C. Hamman Ek staar na die leiklipgrafsteentjie waar die woorde se dofstof na my toe aanklag en dink daaraan hoedat elke lykie wat van ’n moeder weggeskeur is, die angs van die volgende ma ten hemele laat stomskreeu het. Oupa se vertellings kom lê weer in my onthou en ek sien die rye tente in die nat modderlaagte waar vrouens en moeders geweier het dat hulle mans moes oorgee. Op die slagveld het vaders en seuns, met hul emosies polsgebind en gekruisig, geveg vir hulle selfbehoud. Uiteindelik kronkelpad my hart na die dagbreek van die vorige eeu.
Magriet suig haar asem skerp in toe ’n oorweldigende pyn deur haar rug skiet en probeer dit dan stadig uitblaas. Na ’n paar sekondes syfer die pyn stadig weg en stap sy verder.
“Hierdie onregkamp se swak higiene is iets wat niemand glo voordat hulle nie self hier was nie,” dink sy. Naby die tent wat sy met ’n paar ander vrouens deel, sit sy die emmer weer neer en kreun amper skreeuend. Sy probeer die gil onderdruk maar sonder sukses. Sy vou haar arms om haar buik wat swaar afdruk. Wanneer die ergste pyn skietgee, tel sy die emmer driftig op om in die tent te kom voor die volgende kontraksie oor haar gaan rol.
In die tent val sy op haar knieë neer en rus haar voorkop teen die kampbed.
“Here, spaar ons,” roep sy uit. “Daar is nog ’n maand oor voor my baba gebore moet word! Help ons in hierdie helkamp, Heer.” Maande lank nou al leef ons in angs en spanning, dink sy verder. Hierdie skielike koue in die middel van die somer saam met die nat modder en daelange reën het menige van die vrouens en kinders erg siek laat word.
“Spaar my kind, o God. Laat ons saam weer U sonskyn indrink.” Sy worstel deur nog ’n hoesbui en skryn weg van die brandpyn in haar longe.
“Here, keer die kinkhoes en neem weg die koors en gee my krag om my kind te dra.” Haar laaste woorde is net ’n fluister. Dan klim sy op die bedjie en voel hoe sy wegdommel. Sy probeer weer regop kom, maar kry dit nie reg nie.
Ure later maak sy haar oë oop.
“Wie skree so?” wil sy vra maar besef ontsteld dat dit syself is wat weer wil skree. Die pyn trek vuurwarm deur haar rug en onderlyf. Haar bene trek in krampe op tot haar knieë teen haar maag druk.
“Uiteindelik, nou kan jy saamwerk.” Dit is tant Susara se stem wat met ongekende strengheid tot haar deurdring. Magriet begin huil.
“Nee! Nou moet jy elke traan sluk, my kind.” Susara staan langs haar en druk haar skouers sodat sy weer terug op haar rug kan lê. “Kom, daar is nie tyd oor nie. Die kind se koppie wys al.”
Die baba skree nie, maar hulle gee nie op nie.
“Solank daar lewe is… het my ma altyd gesê” Hester, van hulle buurplaas, vee Magriet se voorkop met ’n klam lap af.
Later lê sy in Magriet se arms, maar is te swak om te drink. Magriet se ma kom weer binne.
“Gee haar hier. Ek het bietjie melk by Leentjie gaan haal. Sy loop oor en haar borste is baie seer.” Die ouma drup van die melk met ’n teelepel deur haar eerste kleindogter se lippe. Genadiglik sluk sy. Tant Susara laat Magriet regop sit en masseer haar borste om die effense melkvloei te stimuleer. Maar die enkele druppels waterige, blou melk droog te gou op. Sy sug teen die kussing terug en sink in ’n slaap wat haar moeë lyf ver wegvoer.
Drie dae later gee haar baba bes. Susara is ontroosbaar teen haar ma se skouer.
“My kind, sy het nooit regtig ’n kans gehad om verby die wrede, onmenslike konsentrasiekamp-omstandighede te kom nie. Daarom het sy uitgestyg, hoërop vreugde en vrede gaan vind.”