In hierdie voorbeeld het ek mildelik, amper oordadig van die skrywer se woordgereedskap (sien onderstaande uiteensettings) gebruik en ingespan: Wroemmmm grom die bromponie en swenk skerp na regs vir die lendelam fiets wat sjoeps deur die plasse water voortkarring en beur teen die wind wat protesterend kerm om die hoeke van sement- en steenstrukture.
Langs die spoor aan die verkeerde kant van die beton-oerwoud, kom die trein met sy sakke-pakke-steun-en-kreune langsaam tot stilstand. Passasiers dra kromswaar aan bagasie en vee haarslierte moeg weg van twintig-oor-ag-gesigte net so skuins na ses volgens die stasie-horlosie se lang en kort staalwysers.
Die reën toor met 'n drup-drup-drup die stof in donker modderplasse. Van oorkant die blinkspoor vibreer 'n foon en tiengelieng-dieng met sy nuwerwetse toon.
"Hallo halloooo ... " Hard weerklink die klik van die haan in sy oor en vanuit bewerige hande val die selfoon met 'n sawwe plaps en waterspat, in die modderplas.
Lang vingers gryp en verdwyn.
"Sjoet! Jou moer!"
Skellende bespring 'n bedremmelde figuur die bakwielfiets en met 'n swiep en wilde esdraai skuur hy deur die toetende verkeer. Van oorkant weergalm sy skril gil wat met ego's uitklim teen die tronende strukture: Haai jy! Bring t'rug my telefooooooon!
'n Kaapse klong klik vererg met sy tong: "Tssssssk! Vandag se jongetjies het ook geeeeeeen respekkie! Hoor net bietjie hoe gillie mannetjie op my - en dit als oor 'n dooie foun."
Sy blik berekend oor die digte melkwit-wol(k)kombers wat nader rol vanoor die horison. En die koue staal in sy hand voel of dit brand toe hy die haan speels weer oorhaal. In sy sak weerklink 'n deuntjie dof.
"Pssssst ... Gammat ... het djy die song al gehoor?"
"Sjoes Gatiep! En somma biek siesa vir djou! Stiel isse liederlike ding!"
"Ghmmmf! Optelgoed is hougoed. Hey! He' djy die ene gahoo' vannie gyno wattie meer so lekka ko' hoor, paddakoor se gekwaak so naby sy oor, lossie arme man toe half doof."
Die derde figuur in die kring kry skielik lewe en reageer blitsvinnig.
Doef!
Die onverwagse hou tref sekuur tussen die blaaie en met 'n dowwe 'huh' struikel 'n gehawende bondel-mens in die rigting van die aankomende slakke-pas-verkeer.
Dieng dong slaan die ghong! Grtttttts protesteer die swart AVBOB ritsluiter toe die twee manne in wit 'n bultende sak optel en in die verte loei nog 'n sirene waarskuwend.
Tik-tak, tik-tak ... vader tyd wag vir niemand. Subtiel verf moeder natuur die skadu's in donkergroupalet teen die mure van die stegies waar die dwergie met 'n glug-glug sy elmboog hoog lig. Met skuurpapier-hand trek hy die Star oor homself in 'n instinktiewe gebaar.
In die huise van glas verroer daar nie eens 'n ooglid toe die weerberig nog vriesende temperature voorspel vir die na-nag.
'n Paar uur later flap-flap 'n haan sy vlerke en kraai die derde maal in die verwaarloosde erf waar die skugterrooi blomme met koppies in eerbied, witgevries na onder hang.
Die wind se vingers streel sag oor die hoofopskrif van die koerant: 'n Bekende ginekoloog en vooraanstaande inwoner van Kaapstad wat jare gelede spoorloos verdwyn het, is vanoggend in hegtenis geneem.
"Hy was 'n goeie pel" lees die skrif teen 'n vuilwit muur en in die hoenderhok verkondig die pik-pik-pik nog 'n nuwe dag se vroeë geboorte aan.
©
PM, ek het hierdie gaan haal uit 'n plasing wat ek in ons ou woordeboek bewaar het. Die skrywers kan dit ook as 'n samevatting/aanvulling gebruik saam met jou pragtige voorbeelde.Akroniem – ’n Uitspreekbare woord gevorm van die eerste letter(s) in ’n frase of naam byvoorbeeld AVBOB.
Alliterasie – Die herhaling van soortgelyke konsonantklanke, gewoonlik aan die begin van woorde.
Analogie – Eendersheid te vind in dinge wat gewoonlik as verskillend gesien word.
Anekdotes – Vertellings of klein insidente of gebeure wat vertel word om in te lig/ te vermaak/humor of kwaadwilligheid of om karakter bloot te lê.
Antitese – Uitdrukking van twee opponerende of verskillende idees in gebalanseerde kontras (bv. ‘hoe meer haas hoe minder spoed’)
Assonansie – Herhaling (meestal) van klinkers in twee of meer woorde
Beeldspraak – Woorde, frases en sinne wat beelde by ons oproep soos vergelykings, metafore of personifikasie.
Breedsprakigheid – Taal wat meer woorde gebruik as wat nodig is.
Cliché – ’n uitdrukking of ’n idee wat al so dikwels gebruik is dat dit sy seggingskrag verloor het.
Denotatiewe betekenis – Die letterlike of primêre betekenis van ’n woord.
Dialek – ’n Vorm van taal wat deur ‘n bepaalde gemeenskap aangepas is. Dit is beduidend verskillend van ander vorme van dieselfde taal wat betref woorde, strukture en/of uitspraak.
Dramatiese ironie – Kom voor wanneer die gehoor/leser/kyker meer weet van die situasie en sy implikasies as die betrokke karakters. Dit verhoog die spanning, genot en gehoordeelname.
Dubbelsinnigheid – Dubbele betekenis wat geskep word deur die manier waarop woorde gebruik word. Wanneer dit onopsetlik gebruik word, verduister dubbelsinnigheid die betekenis (bv. ‘Die man wat die seun gesien het’).
Eksplisiet – Betekenis wat duidelik of direk gestel word.
Emotiewe taal – Taal wat sterk gevoelens ontlok.
Esteties – Sensitief vir die mooie van taal en sensitief / waarderend.
Eufemisme – ’n Gematigde of vae uitdrukking wat gebruik word as plaasvervanger vir ’n gedagte wat as te grof of reguit beskou word.
Figuurlik (in teenstelling met letterlik) – Woorde/frases wat op ’n nie-letterlike manier gebruik word om ’n gewenste effek te skep. Literêre tekste maak dikwels gekonsentreerd gebruik van figuurlike taal (bv. vergelyking, personifikasie, metafoor).
Foneme – Afsonderlike klanke van ’n taal.
Geïmpliseerd– Betekenis wat deur ’n teks gesuggereer word, maar nie direk gestel word nie.
Genre – Tipes of kategorieë waarin tekste gegroepeer is.
Gevatheid – Onverwagte, vinnige en humoristiese kombinering van kontrasterende idees of uitdrukkings
Hiperbool – ’n Opsetlike oordrywing byvoorbeeld: Ek het my dood gelag.
Homofoon – Woorde wat dieselfde klink maar verskillend gespel word en ’n verskillende betekenis het bv. ly en lei.
Homoniem – Woorde wat dieselfde klank en spelling maar met verskillende betekenis (bv. graaf om mee te spit en hy is 'n edelman (graaf)
Implisiet - Wat in teks geïmpliseer of gesuggereer word, en dus nie direk gestel word nie.
Inisieer – Om bv 'n projek/gesprek te begin
Inklusiwiteit – Die beginsel dat onderwys toeganklik behoort te wees vir alle studente ongeag hul leerstyle, agtergonde en vermoëns.
Innuendo – Iets onaangenaams waarop eerder gesinspeel word as dat dit duidelik gestel word.
Intonasie – Patroon van die toonhoogte of die melodie van ’n uiting wat ‘n aanduiding is van grammatikale strukture soos sinne of bysinne.
Intrige – Die verweefdheid van die hoofgebeure in ’n teks. Intrige behels meer as ’n blote opeenvolging van gebeure, want dit suggereer ’n patroon van verhoudings en ’n oorsaaklike verband tussen gebeure.
Ironie – ’n stelling of situasie wat ‘n onderliggend betekenis het wat verskillend is van sy letterlike of oppervlakkige betekenis.
Jargon – spesiale terme of uitdrukkings wat in ’n bedryf of professie of deur enige spesifieke groep gebruik word (bv. rekenaargebruikers sal verwys na ’n ‘CPU’, ‘RAM’ ensovoorts). Wanneer jargon gebruik word om luisteraars/lesers van ’n interaksie uit te sluit, is dit potensieel kwetsend of selfs skadelik.
Karikatuur – Die oordrewe uitbeelding (geskrewe of visueel) van ’n karakter wat bereik word deur die spot te dryf met persoonlikheidseienskappe of voorkoms.
Klimaks – die opwindendste, effektiefste of belangrikste deel van die storie. Hierdie belangrike deel kom nie noodwendig aan die einde voor nie.
Koherensie/samehangendheid – Die onderliggende logiese verhouding wat idees koppel en ’n passasie of paragraaf tot ’n eenheid saambind.
Kohesie – die koppeling van sinne of paragrawe deur middel van logiese bindmiddele soos voegwoorde, voornaamwoorde of herhaling
Konflik – Die stryd wat ontstaan tussen karakters / individue en hul lot / omstandighede. Konflik in die letterkunde kan ook ontstaan deur teenoorgestelde begeertes of waardes in die karakter.
Konnotatiewe betekenis – Die positiewe sowel as die negatiewe assosiasies wat ’n woord verkry deur gebruik verby die letterlike (primêre) betekenis.
Konteks – ’n Teks word altyd in ’n konteks gebruik en geskep. Die konteks sluit in die breë en onmiddellike situasie insluitend aspekte soos die sosiale, kulturele en politieke agtergrond; die term kan ook verwys na dit wat ’n woord of teks voorafgaan of volg en noodsaaklik is vir sy betekenis.
Konvensies – Aanvaarde praktyke of reëls vir die gebruik van taal. Sekere konvensies help om betekenis oor te dra (bv. grammatikareëls, interpunksie, lettersoorte, hoofletters); sommige help met die aanbieding van inhoud (bv. inhoudsopgawe, algemene uitleg, opskrifte, voetnote, kaarte, onderskrifte, lyste, prente, indeks); en andere reflekteer ’n taalpatroon wat resepmatig is (bv. groet, gemeenplasighede).
Kreatiewe denke – Proses van dink oor idees of situasies op innoverende en ongewone wyses ten einde hulle beter te verstaan en op ’n nuwe en konstruktiewe manier op hulle te reageer. Studente dink kreatief in alle vakgebiede wanneer hulle ’n konsep of produk verbeel, uitvind, wysig of verbeter.
Kritiese bewussyn – Die ontleding van hoe betekenis geskep word saam met ’n begrip van magsverhoudinge in en tussen tale. Dit bemagtig die skrywer om manipulasie te weerstaan en om taal met sensitiwiteit te gebruik.
Letterlike (in teenstelling met figuurlike) – die eenvoudigste, mees regstreekse betekenis wat aan woorde geheg kan word.
Litotes – Opsetlike onderbeklemtoning, ’n stylfiguur waarin die bevestigende deur sy teenoorgestelde weergegee word en vergesel gaan van ’n negatief (bv. die gebruik van ‘nie sleg nie’ om te sê dat iets ‘goed’ is)
Malapropisme – die verkeerde en deurmekaar gebruik van lang woorde om te beïndruk. Alhoewel hierdie woorde byna reg klink, is hulle verkeerd genoeg om humoristies te wees.
Manipulerende taal – taal wat gemik is op die verkryging van onregverdige voordeel of invloed oor andere.
Metafoor – Die gebruik van een ding om ’n ander ding te beskryf wat soortgelyke eienskappe het (bv. ‘Opvoeding is die sleutel tot sukses.’)
Metataal – die taal wat gebruik word om oor ’n taal te praat. Dit sluit in terminologie soos ‘konteks’, ‘styl’, ‘intrige’ en ‘dialoog’.
Oksimoron – ’n kombinasie van woorde met teenstellende betekenisse wat die skrywer gebruik vir effek. Word normaalweg gevorm deur ’n byvoeglike naamwoord te gebruik om ‘n naamwoord met ‘n teenstellende betekenis te kwalifiseer 'n lewende lyk.
Omgangstaal – Taal wat in gewone of vriendskaplike gesprekke tuishoort, maar nie in formele taal gebruik word nie.
Onderbeklemtoning – druk iets in beheerste terme uit eerder as om die ware of volledige feite te gee, gewoonlik vir beklemtoning.
Onomatopee – die gebruik van woorde om die klanke wat hulle beskryf na te boots.
Paradoks – ’n Self-kontradiktoriese stelling of een wat in teenstelling met logika blyk te wees.
Parafrase – die weergee van ’n idee of teks in jou eie woorde.
Paroniem – stamverwante woorde
Personifikasie – Die toedig van menslike eienskappe aan nie-menslike dinge - Die wind huil.
Polisemie – Die vermoë van woorde om verskillende betekenisse te hê (bv. ‘bank’ het ‘n aantal verskillende betekenisse – finansiele instelling, die bank van ‘n rivier, ‘n bank waarop jy sit)
Retoriese middel – Soos pouse en herhaling, wat deur ’n spreker of skrywer gebruik word om iemand doeltreffend te oorreed of oortuig
Ritme – ’n Gereelde en herhaalde klankpatroon.
Rym – Woorde of reëls van ‘n gedig wat op dieselfde klank, insluitend ’n vokaal, eindig.
Sarkasme – ’n ironiese uitdrukking wat gebruik word om onvriendelik of beledigend te wees of met iemand gek te skeer.
Satire – Die gebruik van spot, sarkasme/ironie om kritiese kommentaar te lewer op die samelewing.
Simbool – Iets wat vir instaan om 'n ander voor te stel. Slang vir duiwel/onheil.
Sintaksis – Die wyse waarop woorde gerangskik is om samehangende grammatikale strukture te vorm.
Sintese – Die byeenbring van idees uit ’n verskeidenheid bronne, ’n duidelike opsomming van hierdie gekombineerde idees.
Stemming – Atmosfeer of emosie in geskrewe tekste; dit toon die gevoel of die gemoedstoestand van die karakters.
Stereotipe – ’n Vaste (en dikwels bevooroordeelde) standpunt oor watter rol van ‘n persoon verwag word om te speel.
Taalvariëteite – Taalvariëteite wat voorkom wanneer kleiner veranderinge ten opsigte van woordeskat, strukture en/of uitspraak gemaak is; kan wissel van streek tot streek of land tot land.
Toon – Kwaliteit en toonkleur van die stem wat die emosionele boodskap van ‘n teks oordra. In ‘n geskrewe teks word dit deur woorde bereik. In ’n film kan toon deur musiek of die milieu geskep word.
Verduistering – Die gebruik van taal om doelbewus feite vir die leser of luisteraar te verberg.
Woordoortolligheid – Die gebruik van woorde, frases en sinne wat weggelaat kan word sonder enige betekenisverlies
Woordspeling – ’n Spel met woorde wat identiese of soortgelyke klanke het om humor te skep (bv. ‘Onder sy streng aanvoering het ons baie leiding/lyding gekry!’)
Woordaanvalsvaardighede – Strategieë wat gebruik word by die lees van ‘n onbekende woord (bv. om dit in lettergrepe op te breek of na die betekenis van die voor- of agtervoegsels te kyk)
*Hulpbron: Department van Onderwys Afrikaans Eerste Addisionele Taal