Author Topic: Spookkoets 4  (Read 1786 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Spookkoets 4
« on: May 09, 2011, 11:54:57 AM »
Net so skuins voor 7 stap ek die sitkamer binne, die sitkamer leeg nes gis’traand. En tog is daar weer die gevoel hier binne my dat iemand vir my loer. Dis seker maar hoe die skadus in die hoekies rondspeel. Aaa, daar’s jy Gascoine. Goeienaand mevrou, het u dag goed verloop? Ja baie dankie, en die mandjie was voorwaar voortreflik. Gascoine, ek weet sommer ek’s nou baie voorbarig maar is daar dalkies nog van die Stellenrijk Rouge beskikbaar? Jy weet mos dit wat ek laasaand so geniet het. Haai, mevrou dis mos nie voorbarig nie en ja daar’s nog heelwat van …. en ek bring mevrou. Joe maar daardie gevoel van ek word beloer hang soos ‘n slegte gedagte as ek my sit kry op ‘n chaise longue. Sjoe maar dis nou sommer koud hier waar ek sit.

Die aroma van die een of ander eksotiese gereg val saggies op die neus – ek wonder wat vir aandete is. Hier’s mevrou se Rouge en spesifiek die 1720, die ander oesjare was nie so besonder nie. Ete sal so oor 10minute gereed wees – ‘n ligte roomsop van appeliefie neut en spek, gerookte forel, heel kwartel en gebraaide konyn met geroosterde groente in ‘n sjerrie habanero roomsous en vir nagereg haloumi gebak met heuning en pistachio. Dit klink sommer heerlik Gascoine en 10minute is reg.

Ag ja sug ek na die laaste slukkie Rouge. Gascoine ek sal ‘n sjerrie in die sitkamer geniet so voor slapenstyd en dit sal my sommer heeltemal laat ontspan ook. Skielik voel my oë so swaar, maar ja dit was nogals ‘n lang uitputtende dag en dan is die lug hier nog suiwer ook. Laat ek dan nou maar kamer se kant toe staan.

Hoekom voel hierdie gang dan nou so lank? Of is dit die teenwoordigheid van daardie “iets”, daardie sureële “gedaante”? En dan is laasnag se se vroegoggend geweeklaag ook nog vars in die gedagte. Maar Gascoine het tog vanoggend nog gesê ek is alleen hier – kan ek hom hoegenaamd glo as ek nou so terugdink aan sy walsende oë en bleekgeit van gesig. Gaan iets my weer aan die hand vat as ek my deur wil oopmaak want as dit weer gebeur gil ek sweerlik dat die dak lig.

Goeie gortsop, watse geluid is dit? Bedaar tog vrou jy’s ampertjies by jou kamer. Wat kraak hierdie deur dan ook so. Dit sal my ook nie verbaas as Ismail nie ‘n enkele kers hier aangesteek het nie. Dankie-tog, Ismail het kerse aangesteek maar nog steeds nie een langs my bed nie. Sal ek maar die kerse laat brand wyl ek slaap?

Blitsig spring ek in my nagkleertjies in en dag so in my enigheid dat bybellees nou ook ‘n onbegonne taak is met die flou flikker kerslig. Maar ek kan darem my aandgebed doen, het mos nie lig daarvoor nodig nie. My kop het skaars kussing gevat of ek’s vas aan die slaap, dood en diep. Asof deur molasse dring die kraak van my kamerdeur wat oopgaan deur die slaapnewels deur. Met ‘n skok besef ek ook dat my kamer in inkswart donkerte gehul is – al die kerse is dood.

Wat se geluid is dit? Dit klink asof van buite. Nuuskierigheid kry die oorhand oor my angs en vrees en ek trek suutjies die gordyn op ‘n skrefie oop. Die geluid wat ek hoor is die klippetie-klop van vosperdhoef en die knars van koetswielnaaf op keisteen. Vasgenael staar ek na die gesig hier voor my – na die span vosperde wat die pragtigste vergulde koets trek. Net om met ‘n skok te besef dat die koets tot stilstand is en die koetsdeur oop maar niemand klim uit. En die groot voordeur gee sy oop-en-toe sug.

Vervaard ruk ek my kop na regs – wat is hier in my kamer en daar’s die gedawer en gedonder van stewel op klip – iemand storm die trappe op. Uit die hoek van my oog siek ek, weerkaatsend in die flou lig deur die venster ‘n vrou sittend op die porseleinbad se rand. Sy staar na my – ‘n uitdrukking van intense vrees op haar melkwit gesig ten aanhore van die geklap van stewels. In ‘n sugstem smeekvra sy “help my asseblief, hy gaan my doodmaak. Asseblief jy moet my help”.

Nog voor ek ‘n geluid kan uiter, storm ‘n man my kamer binne. ‘n man in uniform en hy’t ‘n swaard in sy hand – so ‘n kromme. Meneer uit, uit my kamer uit kraak my stem onwerklik sureealistes in my oor. Dofweg kaats die flou maanlig as die man die sward lig wyl hy afgemete stap na die vrou op die bad se rand. Haar oë wydgesper, haar mond gestrek in stille angsgil as die sward in ‘n boog neerswiep en in een enkele fel swaai haar hoof oopkloof.

Die gesegde is “vrees leen vleuels aan voete” het skielik nuwe betekenis vir my. Vervaard gryp ek my kamerjapon en die Alfa se sleutels op die nagtafel. Hardloop suster voor jy ook aan die beurt kom. In die verbystorm sien ek hoe die man asof in stadige aksie sy lyf en swaardarm in my rigting draai met bloed druppend van die swaardpunt. Met my voet op die deurdrumpel voel ek, hoor ek die swaardpunt kielie-kielie aan my hare. Hoe ek by die voordeur gekom het weet ek nie en die klap-klap van die man se stewels op die trap trek my rug krom. Maak tog oop deur! sukkel ek met die deurslot. Kom nou gaan oop, vinniger maar die houtdeur is so swaar en ek hoor die swiep-swiep van die sward deur die lug hier agter my, sy asem roggel en hyg verwoed.

En dan’s ek buite, net ek en die vosperde wat runnik en proes en die koets. In stadige aksie sien ek hier voor my my Alfa – gaan ek betyds die deur oopkry en ry voor daai man en sy swaard my in stukke kap? Met ‘n skreeu vat die Alfa en met ‘n gespat van gruis en klippies storm ek in die paadjie af met ‘n skietgebed “ag Heer, laat die hek oop wees”. Dankie vader tog dis oop. Soos ‘n besetene jaag ek in die pad af. ‘n Polisie stasie! Ek moet ‘n polisie stasie kry. Ek moet rapporteer wat ek sopas gesien, gehoor en beleef het. In die pad af wink daar ‘n blou lig – dit moet ‘n polisie stasie wees, hulle buitelig is mos nog al die jare blou. Met ‘n geskree van bande en rook wat trek stop ek voor die polisie stasie en storm binne.
Goeie more mevrou, hoe kan ek jou help vra die ouerige sersant agter die toonbank. Meneer jy moet asseblief dadelik kom, daardie man het haar doodgekap en hy wou my ook doodkap. Stadig nou mevrou, vertel nou eers vir my wat gebeur het. Sersant – ek is van Pretoria en is by hierdie gastehuis tuis. Laasnag het die weeklaag en smeekroep van ‘n vrou my wakkergemaak maar daar was niks. Die gastehuis eienaar het my ook verseker dat ek alleen daar is en niemand anders nie. Ek het beide aande as ek vir aandete gaan die gevoel gekry dat ek beloer word. Skielik deur die nag het die gekraak van my kamerdeur wat oopgaan my wakker gemaak maar daar was niks nie. Toe ek by die venster uitkyk, siek ek in die flou maanlig hierdie koets wat tot stilstand kom, sy deur wat oopgaan maar niemand wat uitklim nie. Net om die volgende oomblik te hoor hoe die voordeur oopgaan.

Toe hoor ek ‘n geluid in my kamer en ek sien ‘n jong vrou wat op die rand van die bad sit. Sy smeek my om haar te help, maar voor ek kan antwoord of iets doen, hoor ek hoe storm iemand teen die trap op. die volgende oomblik storm hierdie man, in uniform, my kamer binne met ‘n swaard in sy hand. Ek skree vir hom om uit te gaan maar hy ignoreer my, stap net doelgerig op die vrou af, swaai sy swaard na agter en met een fel swaai kloof hy haar kop oop. En toe ek verby hom storm, kap hy na my ook, ek kon hoor en voel hoe die lem se punt aan my hare raak.

Mevrou stadig. Ek kan sien u is geweldig ontsteld, goeiste kyk net hoe bewe jy. Wag ek kry vir jou sterk koffie en dan vertel jy my weer wat gebeur het. Daarsy hier’s u koffie. Baie dankie sersant. Nou mevrou, u sê dat …. Ja sersant dit is net so. Nou sê vir my mevroutjie, waar is hierdie gastehuis? Sersant dis net so ‘n paar kilometer terug op hierdie pad. Die plek se naam is Het Heerengracht en dis so ‘n ou tydse plek met enorme vertrekke en baie mooi. Die gastehuis eienaar/gasheer is ‘n man genaamd Gascoine en daar’s ‘n dienskneg met die naam van Ismail.

Mevrou, sê u die plek se naam is Het Heerengracht? Ja sersant. Mevrou, daar’s nie so ‘n gastehuis in die omgewing nie. Ek is al 20jaar hier gestasioneer en ek weet nie van so ‘n plek nie. Maar ek sê u wat – sodra my konstabel terug is van sy rondtes, dan ry ek saam met u dan gaan kyk ons wat aangaan. Aa daar’s jy nou net konstabel. Ek gaan nou saam met die mevroutjie hier na ‘n moontlike misdaad toneel maar bly jy nou net hier op jou pos totdat jy van my hoor. Mevroutjie ry jy voor, ek sal volg.

Met ‘n slegte voorgevoel draai ek tussen die hek pilare in, maar hoekom lyk die pilare nou so half bouvallig in die vroegoggendson? By die grag gekom tref ‘n skok my – die grag is dan vaal grasbegroeid en die grasse staan welig tussen die keistene aan. Dan staar ek na die majestieuse gebou en ‘n rilling trek deur my. Daar is geen imposante woning of gastehuis te sien nie, NET ‘n murasie, ‘n bouval. Maar dis … dis dan hier waar ek netnou nog was ….

Bewend klim ek uit my Alfa en staar na die sersant. Sersant, ek weet nie wat nou nie. Dié is die gastehuis waar ek tuis is … was. Wat nou? Ek weet wat ek gesien het, gehoor het, ervaar het. Is u doodseker mevroutjie? Dat dit hier is waar u tuis was? Ja sersant ek’s soos in doodseker.

Mevroutjie, ek dink ons moet gaan kyk of u besittings hier in die bouval is en dan gaan ons na die naaste koffieplek om te praat. Deur die bouvallige deuropening – daar is geen sprake van die imposante deur nie – en teen die trappe uit. Die eens pragtige kandelare hang aan flarde, die gekerfde deure is daar nie meer nie, om nie te praat van die frescos, tapiserië teen die mure nie. In slakkepas betree my “kamer”. Die eksklusief-gekerfde houthangkaste is nie meer nie, net splinterhout met my klere wat in ‘n bondel op die vloer neffens my tas en skoene lê. Met bewende hande pak ek my goedjies in my tas, sersant sê hy sal buite wag sodat ek dagklere kan aantrek. Goeiste ek is steeds in my nagkabaai. So met die aantrek aan wil wil my hare net orent staan en dit voel of iemand weer vir my loer. Wat's dit wat nou aan my raak, saggies? Soja sersant ons kan maar gaan maar sal u maar voor ry?

By die koffieplek aangekom – dis maar net ‘n Wimpy, en ons ons bestellings geplaas het, sê sersant vir my: mevroutjie! Toe ons daar deur die hekpilare ry, toe wis ek waar ek is. U sien mevroutjie, daardie bouval het ‘n lang en bloedige geskiedenis. Ek wis nie hoe u daar aangeland het en onder watter onmstandighede nie, maar wat u beleef het …. Wel u is deur die laaste bloedige toneel geneem. ‘n Bloedige toer as ek dit so mag noem. Gascoine was inderdaad die eienaar van Het Heerengracht, ‘n spog landgoed wat spog wyne verbou het met die Stellenrijk Rouge die kroon van sy wyne. Uit wat ek nou kan aflei uit wat u my vertel het, het u daardie wyn geproe, hoe weet ek beslis nie. Maar nou ja, Gascoine was getroud met ‘n pragtige jong vrou van die omgewing al was hy ‘n goeie 20jaar ouer as sy. En hy het die grond aanbid waarop sy gewandel het. Sy het egter verlief geraak op ‘n jong offisier wat in die garnisoen gestasioneer was. Een aand tydens een van die vele balle wat op Het Heerengracht gehou is, het die offisiertjie effe te veel te drinke gehad en dit luidrugtig duidelik gemaak dat as hy haar nie kan kry nie dan sal niemand haar kry nie.

Nodeloos om te sê, het die skone mevrou Gascoine die balsaal uitgevlug teen die trappe uit na haar en Gascoine se kamer. Ja, die een waarin u “geslaap” het. Sy het inderdaad op die bad se rand gesit toe die offisiertjie instorm en met een kap van sy swaard haar kop oopkloof en sy sterf net daar, in ‘n plas bloed. Die offisiertjie het uitgestorm en op ‘n perd weggejaag, Gascoine agterna. Die offisier se perd het in die donkerte in ‘n aardvarkgat getrap en sy ruiter afgesmyt. Die offisiertjie het op sy kop te lande gekom, teen ‘n klip, daar het Gascoine hom gekry. Die offisiertjie sien toe, toe hy tot verhaal kom, vir Gascoine wat oor hom troon. Hy begin smeek vir sy lewe maar soos ek reeds gesê was Gascoine “smitten” met sy vrou en val die pleidooie op dowe ore. Met ‘n woedende, wraakgerigte swaai van sy swaard het Gascoine die offisier onthoof, sy hoof opgetel en in die aardvarkgat gesmyt. Daarna het alle lewe stilgeraak op Het Heerengracht. Gascoine het met niemand neer omgegaan of gepraat nie behalwe met Ismail. Daar was geen balle meer en ook geen musiek meer. En toe is Gascoine ook stil. Hy het stil heengegaan, hy het hom letterlik doodgetreur oor sy geliefde wat nie meer is …. Daar het u dit nou in ‘n neutedop – die geskiedenis van Gascoine en Het Heerengracht.

Dankie sersant. Dankie dat u my vertel het. Dit voel so, so onwerklik, so surreealisties. Dit was ‘n plesier mevroutjie, u gaan seker nou huiswaarts keer. Ja sersant. Baie dankie vir al u moeite sersant en totsiens. In ‘n gevoel van onwerklikheid neem ek my handsak en klim in my Alfa. Met ‘n rammel van die ses silinder uit die uitlate kry die Alfa lewe. Ek draai in die teerpad in, wat eindeloos die verte in strek. Is dit berge wat op die horison te bespeur is ………


Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Spookkoets 4
« Reply #1 on: May 09, 2011, 01:40:18 PM »
Ek het heerlik gelees aan jou storie.  Dankie dat jy dit geplaas het.  Ons kan oor 'n glasie Stellenrijk Rouge 1720 gesels oor die plasing daarvan in onse boek.   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.