Author Topic: Spookkoets 2  (Read 1936 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Jeannedarc

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 314
Spookkoets 2
« on: May 09, 2011, 11:51:37 AM »
Nou ja in for a penny, in for a pound en ek glip uit my Alfa en stryk aan na die poorte van Het Heerengracht. Ek wou nog die deurklopper aanraak, is dit so asof die poort ‘n skalkse suggie laat – so ‘n “ag wat se lastigheid het ons hier” suggie. Die poort swaai stadig, statig oop en laat my met so ‘n fladder op die buik. Komt je wel herin Mevrouw, laat mij je bagatie nemen. Komt je herin en hartelijke welkommen hier bij Het Heerengracht. As ek hoegenaamd nog gewonder het oor die advert se stelling van ‘n ou Kaapse atmosfeer, dan wonder ek nou nie eintlik meer nie. Die ou wat seker die poort geopen het – concierge as ek dan nou moet sê, is soos in baie oud, en sy kleredrag! Beslis nie deur Simon Rademan ontwerp nie. My geskiedenis is nie waffers nie maar ek sou sê dis tiperend van die Van Riebeeck en Van Der Stel tydperk. Dis kompleet of hy ‘n bloes aan het, een met sulke baie kant valletjies, ‘n kniebroek wat met ‘n strikkie net onder sy knie vasmaak, wit sykousê en sulke snaakse skoene met ‘n effense hak en groot gespes op die skoenbrug en so ‘n kort conquistadores baadjie. Sy hare is spierwit, middelpaadjie gekam so oor die ore en dan agter in ‘n poniestert ingebind met ‘n satyn strik. Elegant is hy beslis en ‘n heer ook noudat ek so effens oor my skokverbasing is. Dis net dat ek nog nooit so-iets teegekom het nie, beslis nie in dié millennium nie.

Ek laat my oë so effe dwaal – die ingangsportaal is enorm groot met reuse kristal kandelare wat aan dik houtbalke hang. Maar daar’s dan kerse in die kandelare, geen gloeilampe en teen die mure is daar ook lampe – met kerse in, tapisseriee en skilderye teen die mure. Met tussenposes is daar boë in die mure wat toegang bied tot ander dele van hierdie kasarm van ‘n plek met aan die einde van die portaal trappe wat na die boonste vertrekke lei. Gascoine, kom ek noem hom maar so, het seker alles op my gesig waargeneem, sê so droog vir my – wij hebben niet televisie en ook niet de radio. Wij hebben niet elektriciteit maar bekommer je niet mevrouw, het is heel leuk hier. Die plek is pragtig met sy marmer vloere en mure van gekapte klip maar ook ongelooflik somber met so ‘n amperse gewyde stilte wat hang. En so ‘n koue rilling glip teen my ruggraat af. Snaaks die gevoel wat ek kry dat my kamer ook somber gaan wees. Gascoine wink en draai na die trappe toe – sy stap weergalm swaar, gemete met my pikante stilleto stakkato so net agter hom. Op met die trappe, draai en terug soos ons gekom het – die portaal van bo gesien is waarlike enorm en die kandelare! It’s to die for, exquisite, wondrously beautiful. En elke deur, in ‘n boog, is duidelik met die hand gekerf, elke motief ‘n unieke uitbeelding van wat ek nog nie weet nie. Net soos onder is daar die ongelooflikste tapisseriee en skilderye hangend teen die swaar klipmure.

Gascoine stop by ‘n deur, miskien nog meer uniek as die ander deure, reik uit na die brons handvatsel en open die deur. Met ‘n galante buiging laat hy my eerste in die kamer in. Is dit dalkies die presidensiele suite in die een of ander uber luukse hotel? Die hemelbed, van gekerfde hout, lyk skoon verdwaal en verdwerg in die kamer. Ingeboude kaste is daar nie maar die hangkaste is duidelik van dieselfde hout en baie beslis deur dieselfde vakman gemaak en so ook die spieeltafel. Ek wonder so skielik – as daar dan nie elektrisiteit is nie, hoe gaan ek my grimering aansit, my hare droog? Agter ‘n skerm vind ek die bad – maar daar is dan geen krane nie – die bad is van geblomde porselein en staan op brons pootjies. Gascoine verduidelik dat wanneer ek sou wou bad, ek net die koord wat by die bad hang moet trek en ‘n kamerbediende sal die nodige kom doen. Swaar brokaat gordyne hang voor die venster, goeiste dit moet egte sy wees. Ek trek die gordyne so op ‘n skrefie oop en sien dat my kamer neffens bo die voordeur is. As ek nou moet dink – ek het suid-wes gery met die N1 en toe links uitgedraai na Het Heerengracht toe, so my kamer kyk so effe noord en ek weet nie watter berge dit is wat ek kan sien uit my kamer nie maar dis die berge waarin die Hugenote tonnel is en die Du Toitskloof pas. Vanuit my kamer kan ek duidelik sien dat die cobblepad deur koetse uit ‘n vervloee tydperk gery is want die koets spore lê duidelik ge-ets in die cobbles. Daar is seker die mooiste balle hier in die herehuis gehou. Ek hoor die kloppetieklop van perdehoef vooraan koets, sien sommer die vroue met hul swierige aandrokke wat wyd uitklok en die mans met hul ewe swierige uitrustings wat vandag ietwat vreemd sou wees. Ek hoor die strykorkes in my verbeelding in hul uitvoering van ‘n statige mazurka en sien die dansende pare. Sommige van die mans is in uniform met swaarde wat ligweg swaai aan die heup – ek wonder of daar ooit tweegevegte hier gehou is? En garde, klang klieng klak klak klieng en die vroue staan angsvol en toekyk, fyn handjies ineengestrengel voor hul gesigte.

Maar voor ek enigiets verder doen dink ek ek moet die kamerbediende ontbied, ‘n stomend warm bad is net die medisyne so na ‘n lang sittery in ‘n sportmotor. Verbeel ek my of het ek sagweg ‘n klok hoor lui met my getrekkery? ‘n sagte klop aan die deur laat so ‘n skokril deur my lyf – waar was my gedagtes. Die kamerbediende – ‘n Maleier – vra in sagte lispelende maleise Afrikaans waarmee hy my kan help. Merrim, my naam is sommer net Ismail. Hallo Ismail, ek sal dit baie waardeer as ek warm water kan kry, ek wil graag regmaak voor aandete. Nei maar dis reg merrim, ek sal sorre vir die watertjies en die handdoeke ook. Salig is dit om net so in die porselein pootjies bad te lê met welriekende stoompies wat oor my liggaam warrel en speel. My ooglede voel skielik so swaar, ek kan dit beswaarlik oophou. Bad suster voor jy aan die slaap raak en nog verdrink ook. Wat sal ek aantrek? Ek is tog seker die enigste in hierdie grote herehuis – het ook niemand anders gesien of gehoor nie. Maar mens weet ook nooit wat vir jou wag nie so laat daardie swart nommertjie nou maar oor my glip. Ek sal maar die grimering liggies aansit, wil nou nie onnodig aandag trek nie.

Is dit nie snaaks daardie gevoel wat so oor mens kom as jy in so ‘n herehuis teen die trappe af stap? Ek voel skoon soos royalty – mmmm waar is my prins nou? Luister, jy is hier om van Liefie en sy bagasie ontslae te raak, so vergeet vir eers van die manlike spesie. Aa daar is die sitkamer – ek steek in die deur vas – ek het sowat van swier nog nooit beleef nie. Antiek beskryf nie eens naastenby dit wat ek hier voor my sien nie. Die allermooiste kandelare hang, net soos in die portaal, van dik swaar houtbalke. Daar moet seker ‘n honderd kerse in elk van die twee kandelare wees en die kandelaarkristal skitter soos net kristal kan in die kerslig. Die stoele, banke en liefdesbanke is in knusse kringe gerangskik – so intiem. Ek’s ampers te bang om op een van die meubelstukke my neer te plaas. Ek ruk soos ek skrik toe ek ‘n beweging uit die hoek van my oog gewaar – sjoe Gascoine, jy’t my behoorlik laat skrik sê ek met ‘n piepstemmetjie. Ach mijn verschoning mevrouw. Kan ek vir mevrou iets te drinke kry? Dit sal heerlik wees, Gascoine, ek sal graag ‘n kelkie rooi wyn geniet, Cabernet as julle het. My apologie mevrou, Cabernet het ek nie, maar wel ‘n vintage Stellenrijk rouge. Ek kan die Stellenrijk aanbeveel, die 1720 oesjaar was ‘n besondere jaar vir onse rooiwyne. Genade, Gascoine, ek sal mos nooit so ‘n wyn kan bekostig nie. Ag, mevrou, die laaste wat ons een van hierdie wyne voorgesit het, was sowat 70 jaar gelede en die gaste kon nie uitgepraat raak oor die boeket en neus van hierdie wyn nie, ook nie oor die prys nie. Sien, u betaal slegs as die wyn aan u verwagting voldoen en dan ook net wat u as voldoende betaling ag. U is hier omdat u ‘n bietjie pamperlang nodig het en van sekere bagasie ontslae wil raak. Nou maar goed Gascoine, laat ons dan ‘n kelkie van hierdie besondere wyn proe. Idillies is al hoe ek die die wyn kan beskryf. Die boeket laat mens wonder want jy kry sweempies van wilde bessies, spesery, appels en wat nog. Om te sê die wyn is rooi, is nie beskrywend nie. Dis rooi ampers soos bloed en soos die lig van die kandelare daarop val, kaats dit straaltjies rooi soos robyn. Die smaak is om die minste te sê hemels – volrond en tog ook satynsag op die tong en palaat. Hierdie wyn het regtig besonders verouder – en skielik tref dit my met hoendervleis wat regoor my lyf uitslaan. Gascoine het gesê dis ‘n 1720 oesjaar wat beteken die wyn is nie vêr van 300 jaar oud nie. Hy het ook gesê die laaste keer wat die wyn bedien was, was 70 jaar gelede ….. . My oë begin rondloer en ek het geen beheer oor hulle nie, so al of ek enigiets sal sien. Genade vrou kalmeer, daar is tog seker ‘n goeie verklaring daarvoor.

As mevrou gereed is, kan aandete voorgesit word, fluister Gascoine saggies in my oor. Gascoine het nou maar net die gawe lyk dit my om koue rillings teen my ruggraat “ring-a-ring of rosies” te laat speel. Die eetkamer is, net soos die ander vertrekke wat ek nou al gesien het, enorm. Daar is drie kandelare wat van die houtbalke hang, nie so groot soos dié in die portaal en sitkamer nie maar so gespasieer om die volle lengte van die eetkamer tafel te dek. Die tafel is lank en daar is 50 stoele om die tafel. Die mooiste tafeldoek, van die fynste Damaskuskant, is oor die tafel gedrapeer. Ek sou nie dié tafeldoek gebruik het nie, dis te mooi. Ek gaan sit aan die punt van die tafel – gaan regtig nie in die middel sit nie en ek is mos die enigste gas hier, of is ek? Die wonderlikste aroma gaan Gascoine en sy trollie met stomende bakke vooruit. Goeiste, daar’s soet patats met spek lyk dit vir my, baba aartappels, gebak in roosmaryn botter, groen bone in knoffelroom sous, kwartels gebak in suurlemoen-kaneel-naeltjie-en-room sous en so vir saam met die koffie na die maal neut-gevulde litchis bedek met sjokolade. Gascoine, as ek so ‘n maaltyd elke dag van my verblyf hier moet kry, sal ek beslis nie in my sportmotor pas nie. Die kenners weet vir my te vertelle dat rooi wyn saam met rooi vleis geniet word maar ek moet sê dat die 1720 rouge al die geregte uitstekend komplementeer het – ‘n beter wyn kon ek nie voor vra nie. Die wyn is so heerlik, ek sal eerder nog ‘n kelkie neem in stede van likeur.

Terwyl ek my kelkie rouge in die sitkamer nuttig, speel die mooiste musiek. Waar die klanke vandaan kom, wis ek gladnie maar dit klink beslis na 'n strykorkes wat lewendig speel. Van ‘n mazurka vloei die klanke in ‘n wals in ‘n tango in sonder enige onderbreking. Ek sit so in my enigheid, so verdiep in die musiek dat ek nie enigiets agterkom nie. Skielik – ek word beloer is die gevoel wat so in my opstu, maar ek is stoksiel alleen in die grote sitkamer, of is ek? As ek daaraan dink het ek vroeer in die sitkamer ook die gevoel gekry dat ek nie alleen is nie, dat ek beloer word. My oë loer onwillikeurig die hele vertrek vol maar niks, nie eens ‘n snaakse skadukolletjie nie. En daar is ook niemand anders behalwe ek en Gascoine en Ismail hier nie, of verbeel ek my dis net ons drie? My goeiste dis dan al 10uur. Dis seker tyd om in die kooi te kom.