Ek het die afgelope naweek die wonderlike voorreg gehad om Dalene Matthee (1938- 2005) se geskiedkundige roman "Pieternella van die Kaap" te lees. Hierdie merkwaardige vroutjie was ons kleinseun se 18de oumagrootjie in skoondogter hulle se stamboom.
'n Wel nagevorsde boek wat spog met die mooiste uitdrukkings/gesegdes. Terwyl ek weggekruip het in die wieletjieshuis (teen die hitte buite) het ek gewapen met pen en papier, van hierdie tipiese uitdrukkings in daardie jare neergeskryf en by die huis kom oortik.
Slegs geleen met respekte en erkenning aan Dalene; deel ek dan ook graag dit met julle bloot uit die liefde vir my taal, van toeka tot nou. Hoop julle geniet dit soos wat ek het!
*Dis een ding van swaarkry, dit loop lê die mooite tot niet.
Iewers in 'n mens, is nog 'n mens wat wag tot jy stokalleen is, dan begin die ander mens roer, soos 'n slympoot wat stadig uit 'n skulpdop kruip.
Die silwer sekeltjie van die maan het soos 'n glimlag in die lug gesit.
As jy die dag teen die onregverdigheid van die lewe begin baklei, klim jy 'n berg sonder kruin.
Dis so goed as om 'n pot met water oor 'n koue vuur te hang en te hoop hy kook.
Kyk of my oë nog reg sien.
Moenie vir my sê 'n muishond met 'n veer in sy bek is 'n volstruis nie.
Bewe soos 'n biesielat in die wind.
Al die prentjies van jou lewe sit in jou oë.
As 'n berg jou vaskeer, kan jy bo-oor klim, as 'n mens jou vaskeer is jy vas.
Sy was so beskinder dat niemand eers oor haar skaduwee wou trap nie.
'n Goeie man is fyngedraad soos sylap.
Kreun soos 'n ou boom in die wind.
Die dag as 'n ongeskikte man vir jou sê jy is goed, kan jy dit maar vir die waarheid glo.
Verlang is 'n slang in jou kop wat jy moet uitpluk, anders laat dit jou dros of kwyn tot jy dood is.
Die nou nie dat ek onder jou kooi wil krap nie ...
Die dag het gebreek, blinkster sit in die ooste met sy nagkabaai aan.
Die wind het soos deur duisende biesiepolle gesuis.
Wat lyk jy so afpoot?
Voor die deur oop is, spyker hulle hom toe.
Planke is dooie plat stukke boom.
Dit is waar die hemel en die hel in een doek toegeknoop is.
Hy lewe maar net omdat hy nie dood is nie.
Leer om jou eie leef te leef.
Toe die dag breek het die wolke soos bollings rook in die verte gelê.
Die maan gooi 'n blinkpad oor die water.
Hoop is 'n skelm ding, hy laat jou iewers in die lug hang tot jy sien hy daag nie op nie en dan val jy ver grond toe.
Van 'n slap tong rol die waarheid makliker af.
Moenie nou wil kom snotpsalm nie.
Die bang en bly was saam in haar lyf, soetwater en soutwater in een koppie gemeng.
'n Droom wat jy skielik oop oë aan't droom was.
Dit hang soos 'n stukkie verbytyd - soos verlang na ou spore.
Goed en kwaad in een doek gedraai.
Ek wil nog hoor van 'n wet wat 'n man se broek op sy plek hou.
Die nie die wilde varke wat jou omstamp nie, dis die mak varke.
Skielik staan jy stokalleen binne-in jouself.
'n Mens het voelwoorde en sêwoorde, voelwoorde is nie sêwoorde nie.
Jou oë sien dit helder maar jou kop wil dit nie glo nie.
Gister en eergister is prentjies ewig in 'n mens se oë.
More en oormore is leef wat nog wag om prentjies te word.
As drank en dobbel in jou invaar, het Satan in jou nesgemaak.
Hartseer gemeng met nuwe moed was soos huil met een oog en lag met die ander.
Dinge gaan nie meer dieselfde wees nie, die rotte het gekom, in lapgewaad.
Hy was soos 'n byl wat oorgehaal was vir die volgende kap - maar toe val die boom vanself om.
Hy is sonder traak oor die verskil tussen lewe en dood.
Die mooie plan het soos 'n vrot vy onder die boom gelê.
Jou planne moet skerp geslyp, soos pyle wees.
Wat daarvan geword het sal net die Weeskamer kan sê, en daai boeke lê toegeslaan.
Ek het vir my 'n ketting om die nek gehang met jou.
Die mooiste nuwe vy, het onverwags aan die tak begin swel.
Die vuur in heuningbier is 'n louvuur, die vuur in die witman se wyn is 'n warmvuur wat doodmaak.
Ek klap jou dat jy deur daardie toeluik trek.
Die onderwerp is soos 'n been waarvan die murg lankal uitgesuig is, maar elkeen wat verby kom, wil nog 'n lek gee.
Hy was te hoog van hoof om afgebuig te word in die hof.
Kos haar kerkkinders invat om 'n lewe te maak.
Die bottel wil nie boom kry nie.
Voel my ek is ingesout in 'n vat.
Daar's nou vir jou 'n geheim in 'n donkerlap gedraai.
Die ou maan het uitgehol in die ooste gehang.
Die seile van die maste het soos ongestyfde lapgoed gehang.
*met opregte dank aan Dalene Matthee vir hierdie wonderlike erfstuk uit ons taalskatkis