Met die onlangse bewusmakingsprogram van die asemdief het ek letterlik met die hand in die hare gesit. Kon aan niks dink want daar is soveel inligting al beskikbaar rondom hierdie asemrowende toestand. Gesoek na
images wat nie kopiereg op het nie en toe besluit om maar self iets te skep wat ek weet geen wet gaan oortree nie. Gedwaal deur die tuin en met 'n bakhand vol blommetjies en 'n tandestokkie, het die skeppingsprojek begin.
Outop se pilletjie (tablet) is nadergesleep want die swart skerm was die perfekte agtergrond. Die blommetjies het ek vertroetel in die opfrommelproses en mooi probeer beduie dat die vernieling vir 'n baie goeie doel is
Met die gefrommelde blomme het ek baie versigtig begin om twee longvorms te na-aap. Die kelkie gedeelte van die blomme het gedien as kreatiewe are
Na die longe gevorm is, het die soektog begin om 'n hartblaar te kry wat gaan pas by die grote van die blomlonge voor my
'n Paar verskillende grote blare gevind en die uwe is terug kombuis toe. Begin meet en pas. Tevrede dat dit gaan werk het ek die kamera nadergesleep en begin afneem uit alle hoeke sodat daar nie snaakse ligvorms weerkaats op die glas agtergrond.
Met die immergewilde PhotoScape program is die skrif bygevoeg vanaf die 'object' en 'T' vir script afdeling. Dit help ook om die agtergrond donkerder te 'toor' met behulp van die beligtingsfunksie by 'home', 'bright color' en vandaar kies jy 'contrast' tot jy tevrede is. Hierna gebruik jy die 'gray scale' funksie en daar is jou kreatiewe long X-straal.
Ter afsluiting van die World PH Day wou ek wys wat gebeur met die hart onder volgehoue abnormale druk. Hier wou ek 'n X-straal weergawe voorstel. Die fyn takkies is baie versigtig gemeet, knip en neergesit. Teen hierdie tyd het ek geleer om nie te diep asem uit te blaas nie want dan moes jy weer die opgefrommelde dele van jou 'longe' nadersleep en in vorm kry
Hierdie keer moes ek 'n blaar gaan soek wat 'n vergrote hart sal voorstel en die soektog het begin...
In kleur het die spulletjie nie eintlik na 'n suksesvolle weergawe gelyk nie maar ek het geweet met behulp van die program se wit en swart funksie behoort dit na iets te lyk wat straks X-strale sal na-aap.
Met behulp van die program was die eindproduk heel kreatief en uniek. Niemand gaan kopiereg kom opeis. Behalwe die ouvrou wat die tandestokkie vasgehou het