Gepraat van dom dinge doen!
Julle weet van ons gr
ooter as grootste avoboom in ons tuin. Ek sal nog die storie vertel van die wind en dié boom se tak, maar nou vertel ek eers van die dom ding.
Ons sit die leer teen 'n dik tak van die boom waar ons 'n paar takke wat ons as onveilig beskou, wil afsny. Dis 'n lang uitskuif leer en dit kom net mooi by die tak by. Nou moet ek bysê, die boom dra hierdie jaar asof dit sy laaste jaar is. Die vrugte is al so groot soos 'n vuis. Die drag is swaar.
Die outjie met die kettingsaag, saag die eerste tak af. Toe die tweede tak val hoor ons net 'n benoude gil en hy klou verbete vas aan 'n tak met die kettingsaag in die ander hand. Nou wend hy 'n poging aan om in die boom te klim en almal onder skree: "Nee, die tak gaan nie jou gewig dra nie!" maar hy klouter op die tak. Dit wieg gevaarlik, maar ta klou.
"Klim af daar!" skree JC vir hom, maar ta klou. Toe gesef ek wat gebeur het.
Die tak waarteen die leer staan het opgelig met die vrag wat verminder het en ta sit op die tak sodat die leer nie onderdeur glip nie. Gou het ons 'n band (waarmee jy voertuie sleep) opgegooi en hy het die leer aan die tak vasgemaak en toe afgeklouter. Met 'n spoed!
'n Mens moet dink voor jy doen!