Author Topic: Desember se Plaaskuiers...  (Read 2296 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Desember se Plaaskuiers...
« on: December 10, 2011, 08:27:07 AM »
Baie jare gelede was  die kuierplek van die familie in Desember, ons plaas.  Al wat leef en beef kom uit alle hoeke van die land hier bymekaar om weer op te vang en aan te vang.   Ons was hordes kinders, of so het dit gevoel.
Van vroeg in Desember word die huis geverf, vloere geskrop en gordyne gewas.  Kaste is reggepak en ekstra rys, mele en pastas is aangekoop.  Ma het bottels en bottels vrugte ingelê en die spensrakke het gekreun.   Blikke en blikke koekies is gebak en elke blik is gemerk volgens wat binne-in is:  Gemmerkoekies, soetkoekies, vlakoekies, perskerolle,  gedroogde  appelkose.  Alles is skitterblink as die eerste motor opdaag.  Pa het ook sy bydrae gelewer deur te sorg dat daar ‘n vars vetgemaakte vleisie sou wees as Ma die woord spreek vir hoenders of ‘n kalkoen of ‘n skapie vir die borde kos wat moes voorberei word.  Die gras op die werf is kort gesny en die kaskarre se wiele is geghries.
Groente en vrugte staan boorde vol en die separator wag vir die emmers vars melk wat van die dik geel room geskei moet word vir botter.  Selfs die honde het deurgeloop en is ont-borsluis en  –vlooi.
Hemele weet, dit was ‘n wonderwerk dat elkeen ‘n slaapplek gehad het.  Daar was net vier slaapkamers en hulle was net genoeg vir al die grootmense om ‘n slaapplekkie te hê vir die volgende twee weke.  Ons kinders het orals gelê.  Op banke, op kussings en klein matrassies (waar Ma so baie slaapgoed deur die loop van die jaar weggesteek het, weet nugter), onder die groot eetkamertafel.   Orals.  Ons was genoeg om ‘n rugbyspan voltallig te maak, en dis nie ‘n Sewes nie.  Hordes.   
Pappa het heerlike jag stories vertel saans buite langs die vuur  en die ooms het aan sy lippe gehang.  Gewere is uitgehaal en veld toe geloop.  Net een keer in daardie tyd is ietsie vir die pot geskiet net om die ooms die gevoel van jag te laat kry. Soggens het die ma’s die huis weer leefbaar gemaak en die potte kos is voor berei.  Ek onthou Ma het ‘n groot blink pot gehad waarin jy ‘n hele skaapboud plat kon neerlê en dan was daar nog spasie langs die kante.  Daardie dae se skaapboude was beslis groter as dié wat jy nou R300 voor moet betaal en R100 se vleis van kry.   Nou ja, in daardie groot blink pot het al die vleis gegaan vir die klomp.  Pa en die ooms het armsvol groente uit die lande gaan haal en die tannies moes inspring en opkerf.   Elke tweede dag moes Ma brood bak.  Sulke lang broodpanne, langer as hedendaagse brode.   Soms het Pappa ons verras met ‘n moewiese groot waatlemoen onder elke arm.  Dan het dit yskas toe gegaan vir ‘n paar uur en daarna buite op die werf gesny.  Die speletjies daarna met die stukke uitge-ete skywe, was horribaal.  Die seuns het altyd ons hare gekoek met die soet sap wat in die somerson droogword in ons hare. 
Botter is gemaak van die liters room wat van Kolletjie en haar mede melkverskaffers gekom het.  En dan was daar natuurlik Ma se jam.  Vroeg al het die kinders opgespring van waar hulle ook gelê het en sommer met pajamas en slaapoë kraal toe getou.  Almal moes help melk en dan het hulle sommer so onder die spene ingekruip en die warm vars melk in hulle monde gespuit.  Vir ons plaasjapies was dit nou nie iets snaaks nie. Pien en die ander melkers het ook nie gedink dit is snaaks nie.  Die koeie het gestress en dan het hulle nie ‘gesak’ nie, menende die melk het nie tot in die uier gevorder nie.  Weird.  Dan weer terug huistoe met daai misvoete.  Hoor nou nog hoe Ma raas as hulle met daai voete huis-in val. 
Die seuns het hulle besig gehou met voëtjies skiet,  kaskar ry en hase jag saans.  Ons het hulle geskel as moordenaars.  Ons het by die verste dam gaan rondhang en wanneer die seuns op stukke cardboard van bo teen die wal afseil tot onder, het ons soms ‘n ride agterop gekry.  Monde is stukkend geval, tone en knieë nerf-af.  Ek onthou hoe Martha’tjie se tand los was en hoe hartverskeurend sy gehuil het.  Was  ‘n baie brose klein dorps girl. In die groot Akkerboom het die seuns ons ingewag en gebombardeer met die vrot vrugte wat hulle bymekaar gemaak het.   Ons het hulle gehaat met ‘n passie.  Hulle was so….  onopgevoed!   Wanneer hulle weer afklim, het die eend wat tussen die wortels van die Akker sit en broei, hulle al sissend gejaag. 
Popspeel met papierpoppe was ‘n verbeeldingsvlug.  Dié het pragtige prinses-uitrustings gehad en ons het tea parties gehou saam met daardie prinsesse wat Kate en Pippa groen van jaloesie sal hê.
Antjie, my bruin ma, moes bontstaan met die wasgoed.   Lyne wasgoed het gehang in die somerson, daagliks.  Soms het die kinders se wasgoed bietjie deurmekaar geraak en ‘n brief uit die noorde het bevestig dat hulle weet dit en dat het agtergebly, maar ons kry dit volgende Desember.  Geen e-posse en selfone daardie tyd gewees nie.  En om ‘n plaaslyn te slaan, was om tant Drien die geleentheid te gee om nuus bymekaar te maak wat sy weer op ‘n later stadium bietjie opwarm.
Vroeg soggens het ons boorde toe geloop, met die honde wat stertswaaiend saam teem, om vrugte te pluk vir die huis.  By daardie tyd was Pappa al klaar om die vir die mark te pluk.  Heerlike geelperskes, kaalgat perskes en een wat so ‘n sagte wit vleis het wat baie gou kneus.  Alles het hy sorgvuldig in skaafsels verpak, gatkant na bo, in hout kissies wat hy na die mark op die dorp gevat het.   Ons het ons mae vol gemaak met die heerlike koel vrugte en soms vergeet om ook te pluk vir die mandjie. 

By die vertrek van ons familie was dit ‘n tranedal en die ma’s kon mekaar nie los nie.  Sakdoekies teen die neus en knipper-ogies het hulle mekaar vasgehou tot die oom moes toeter druk om die oomblik te breek.  Ek onthou hoe tant Marien die ’boot’ vol gepak het met plantjies wat sy uitgehaal het in die kloof langs die waterstroom en toe in blikkies geplant het.  Die kinders moes op hul tassies sit tot bo in die Transvaal.  Of daardie plantjies ooit lewendig die Transvaal gesien het, weet nugter.

Kosbare familie tye. 


elle

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Desember se Plaaskuiers...
« Reply #1 on: December 10, 2011, 08:33:55 AM »
Baie kosbaar...
Loop die heimwee nou al gatswaaiend deur my kop...
Pragtig verwoord vriendin.





 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Desember se Plaaskuiers...
« Reply #2 on: December 10, 2011, 09:03:45 AM »
Dankie Naas.
Dit was net die kuiertjies op die plaas.
Daar was ook die kuiers op die dorp, maar die moet nou eers oorstaan tot 'n volgende keer.
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Desember se Plaaskuiers...
« Reply #3 on: December 10, 2011, 11:01:17 AM »
 :icon_salut:  Dankie Ellé, die herinneringe klap hart en dit druis deur my kop:  Met water wat verby is sal jou meule nooit weer maal nie.  Net in herinnering! 
Dit was heerlik om saam met jou op die plaas te kuier en deur die "boorde" te stap.  Ek wag in spanning vir die "dorpstories".  Bring vir Stomp saam asseblief.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Trapsoetjie

  • Regular Members
  • Penkop
  • Posts: 657
  • Taranee, onse Beertjie.
Re: Desember se Plaaskuiers...
« Reply #4 on: December 12, 2011, 09:56:17 AM »
Dit klink al te lekker. Harde werk glo ek, maar lekker saam werk.
 :angel12: