Om ‘n boek uit te gee… Dit moet of passie of masogisme wees.
Eers word die gedagte gebore. Die skrywer/samesteller het dan dosyne wakker nagte waarin die denke net heeltyd om die ideaal draai. Mettertyd word hierdie ideaal publiek, en word die gedagte met ander gedeel. Die skrywer of samesteller: Die eerste skakel. In die uitgewerswese, is dit gewoonlik die skrywer/s se grootste taak.
Dan word die promosie van die idee gedoen. Dae en nagte se kommunikasie geskied om die ander wat betrokke sou mog raak, die geleentheid te bied en die inligting met hulle te deel. Dan gebeur dit dat 33.3% van die korrespondente nie mooi lees nie, en vrae begin vra wat reeds geantwoord is. Vrae wat maar ewe weer beantwoord word, tot vervelens toe. In die uitgewersbedryf, doen die promosiebeampte gewoonlik hierdie taak.
Die uitleg en karakter van die boek word nou bedink. Hierdie gedagtes word vele kere heroorweeg en dan begin die gedagteproses van voor af. In die uitgewersbedryf, doen ‘n kreatiewe span hierdie taak.
Nou is die besluit geneem om ‘n bepaalde karakter en identiteit aan die publikasie te gee. Bydraers word gevra om hulle bydraes te voorsien. In die uitgewersbedryf, doen die maatskappysekretaresse hierdie taak.
Die bydraes word ingestuur. ‘n Klomp bandwydte, telefoonlugtyd en ink vir die drukkers vir proewe waar nodig, word nou gebruik. In die uitgewersbedryf is daar ‘n logistiese bestuurder wat die voorsiening van hierdie dienste en produkte hanteer.
Uitleg en sincronisasie word nou gedoen. Dit is belangrik dar die verskillende bydraes mekaar komplementeer. Die uitleg word ‘n klomp kere verander, want sodra een aanpassing gedoen is, is dit dikwels nodig om op ander plekke daarvoor te kompenseer. In die uitgewersbedryf, doen die inhoudsredakteur hierdie taak.
Sodra die basiese uitleg gedoen is die aantal bladsye bepaal is, word drukkerykostes bereken, of kwotasies daarvoor word aangevra. Dit impliseer baie kilometers op die pad om die onderhandelings en verwante organisasie te doen. In die uitgewersbedryf, is daar ‘n voertuigbestuurder wat hierdie werk doen, wie se vervoerbegroting deur die logistiese bestuur voorsien word.
Die inhoudsredakteur en die drukker het op hierdie punt ‘n reeks vergaderings oor die tegniese aspekte wat die versoening tussen uitleg en druk moontlik sal maak. Sodra daar ooreenstemming oor die drukwerk is, word die finale meester aan die drukker voorsien en begin die drukwerk.
Enkele dae later is die goeie nuus daar: Die oplaag is gedruk. Nou moet dit afgehaal word by die drukker, in welke geval die voertuigbestuurder die takie doen en toesien dat die boeke by die hoofkantoor afgelaai word.
Is dit die einde? Miskien met die skep en druk van die boek, ja, maar die verspreiding kom nou in. Die boeke wat bestel is, moet versend word. Gewoonlik is daar ‘n posklerk wat hierdie taak verrig.
Maar voordat die posklerk die versending doen, wag hy eesr op die groen lig rondom die betaling van die bestellings. Dit, is die taak van ‘n rekenkundige span.
Die versending geskied nou uiteindelik. Dit vereis samewerking tussen die die posklerk en die voertuigbestuurder.
Dit is, hoe die gemiddelde span by ‘n uitgewer saamgestel is, en hoe hulle mekaar nodig het om te funksioneer.
Die Afrikaanse Forum se digbundel is nou drukgereed. Al die prosesse hierbo en vele ander verskuilde take verbonde hieraan, is reeds verrig. Daar is egter een groot verskil: Daar was nie hie hele span soos hierbo beskryf, wat die werk laat vloei het nie. Dit was een mens wat al hierdie werk gedoen het.
Kom ons gee ‘n luide applous vir Piet Magriet wat dit reggekry het om ‘n meesterlike eindproduk daar te stel, sonder die hulp van ‘n ondersteuningspan wat gewoonlik in die uitgewersbedryf, die redakteur bystaan.