Klip op klip
lawa gestol tot ysterklip
graniet, marmer en kwartsiet
ook dolomiet
en stil
met tyd
sonder taal of skuif
word oerklip klipwoestyn
Die mis vanuit die Benguela-stroom
sleep sy nat tone oor 'n dorstig landskap,
bos, gousblom en veld
bo-oor Kamassies, Spoegberg, Klipfontein,
Moedverloor se vlakte
'n lafenis voor die bakoond dag
'n halfmens smeek na bo
vir nog 'n bietjie vog
'n Boerbok se bler verdwaal
tussen swart verbrande rante
waar 'n kras son klippe kraak
middaghitte laat drogbeelde dans
en die anoreksiese skadu's
word deur elke wese geannekseer
selfs 'n geitjie soek 'n skadukol
in die bars van 'n rooibruin rots
'n Swanger stilte slaan sonbesie skril
teen jou oordrom
Wie weet
dalk sien jy ook die diamant se blink
in die bar van 'n klipwoestyn
++++