Ek was nog nooit ‘n motorfiets aanhanger nie.
My pa het altyd gesê, ‘n motorfiets is ‘n doodskis op wiele.
Ek het probeer om nie my vooroordeel op my kinders oor te dra nie maar het hulle ontmoedig wanneer die rygewoonte in die huis onder bespreking gekom het.
Dis nou nie asof ek nog nooit op ‘n stilstaande motorfiets gesit het nie maar die goed het my nog maar altyd half keeltoetrek bang gemaak.
In my jong dae was daar ‘n “help my trap” motorfiets. (Ook bekend as ‘n “help my sukkel”) Dit was so ‘n kruis tussen ‘n motorfiets en ‘n fiets. Eintlik maar net ‘n fiets op steroides. Die ding het pedale soos ‘n fiets gehad en as die motor te swaar trek teen ‘n bult op kon jy bietjie mannekrag bysit deur te trap.
Dan was daar die piskriek. 50cc. Al die laaities met die ryk pa’s het een van die gery. Die verdomde goed was groot geraas sonder haas. Die manne met die fifties het nooit lank voor ons fietsryers by die huis aangekom nie maar hulle ma’s het ten minste gehoor wanneer die skool uitkom.
Daar was natuurlik ook die ouer manne wat êrens in hul skoolloopbaan spesiaal ‘n jaar herhaal het sodat hulle met hul 750cc motorfietse in hul matriekjaar kon spog.
Hoe dit ookal sy, ek hou daarvan om die “big bikes” op TV te kyk as daai manne so skuins op hulle een knie om die draaie gaan, maar dis genoeg vir my.
Nou die dag kom ‘n ou vriend van my kuier.
Met sy “Goldwing.”
Baie windgat sit hy virginskeur wydsbeen en regop, met die monster van ‘n fiets tussen sy knieë vasgeknyp.
Hy vertel vir my hoe veilig die ding is en hoe gemaklik dit ry. Dat dit eintlik ‘n toerfiets is en hy haal my oor om as passasier ‘n draai om die blok te gaan ry.
Met my unieke liggaamsbou dra ek deesdae ‘n motorfiets soos ‘n G-string maar die monster lyk darem soos ‘n gewone tweestukbroekie onder my en ek voel nie te kortasem nie.
Dis Sondagoggend. Die paaie is stil. Hy luier rustig teen sestig kilometer ‘n uur in Strandstraat af tot op die R300. Ek ontspan.
Steeds rustig teen 90 kilometer ‘n uur tussen die padwerke op die R300 deur tot op die N2. Hier voel 120 nie so erg nie.
Ek maak ‘n fout en vra hom oor sy skouer, “Wat kan die ding doen”
Gelukkig is my arms om sy lyf.
Hy draai daai fiets oop.
‘n Hand ruk my kop agteroor dat ek vir ‘n oomblik die pad huis toe onderstebo aanskou en ‘n vuis slaan my in die maag dat dit voel my binnegoeters het omgedraai huis toe, terwyl ek op pad is Kaap toe. My voete en bene gaan net daar in rigger mortise en met groot moeite kry ek my kop weer regop. Ek loer oor sy skouer.
Die stippelyn in die pad begin flikker en raak later een lang blur. Ek skreeu vir hom, “Dis genoeg, ek kry die idee!” Maar my woorde waai net saam met die kwyl oor my wange onder die helmet in om binne my eie ore te weerklink.
Die pad maak toe voor ons en die volgende oomblik gaan ons by ‘n vliegtuig verby wat nou net van Kaapstad Internationaal af opgestyg het. Dit lyk of daai vliegtuig al weer landingsplek soek en die wind ruk aan my helmit.
Duskant Pinelands begin ons weer spoed verminder en daai motorfiets vou sy goue vlerke toe. Iemand roep hier van agter my af “Dis genoeg, ek kry die idee!”
En ons is terug teen ‘n rustige 120 kilometer per uur.
By die huis aangekom moet hulle my met ‘n groot gesukkel losmaak van die saal waaraan ek onverklaarbaar vasgesuig het. Ek gaan trek eers skoon klere aan want ‘n paar van Phillipi se vlieë en ander onherkenbare insekte het hul einde teen my voorkant gekry.
Toe ek my broek uittrek sien ek die rook trek nog uit sommige van die briekmerke op my onderbroek.
Ek is genees van enige laaste twyfel wat ek nog gehad het oor enige begeerte om ‘n motorfiets te ry. Die twyfel het saam met die bebriekte onderbroek in die vuilgoeddrom beland.