Onherkenbaar Lelik…
My laptop kom by die punt in sy lewe waar hy nou genoeg gehad het. Die prentjies op die skerm word vaal met sulke strepe. Ek sal dit moet vervang. My seun moet saam vir die koop van ‘n nuwe en oppad winkel toe besluit ek op ‘n desktop. Een met ‘n skerm wat groot genoeg is om te kan sien. In hierdie stadium van die geveg met te veel lewensjare wat te vinnig aanplak het jy al die hulp nodig wat jy kàn kry.
Die goed is mooi. Die goed is duur. Hulle kyk vir my van die rakke af en ek wonder of ek nie maar sonder die stuk tegnologie moet klaarkom nie. Maar wat dan? Ek sal mos krepeer sonder my daaglikse online tydjie. Ek druk met my linkerhand op my hart om hom te keer om uit te spring en met die regter hand gee ek ‘n vingerteken na die Dell. Ek like die groot screen. Die letters en prentjies sal groot genoeg wees vir beter te kan sien.
So kry ons die sakies gedoen en my tissue’tjie in my linker vuis is voos van sweet afvee, maar ek druk deur met die proses. Die geld is bàie. Maar die koop is deur en daar gaan ons.
Nou moet ek net die ding opgestel en bemeester kry. By die huis pak JP uit en sit aanmekaar en die dinge word afgehandel en sie daar!! Grand swart stuk tegnologie staangemaak op die geelhout tafel. Lyk tog te deftig. Touch screen en Face Recognition en daai dinge. Te smart. Ek moet ‘n paar keer voor die kamera’tjie verskyn voor die ding my gesig herken. Jy het nie nodig om in te teken nie, maar sommer net voor die kamera verskyn en die ding bêre jou gesiggie in sy geheue en Bob is your uncle. Ek’s nogal baie in my noppies met die slim stuk op my tafel.
Saterdagaand braai ons ‘n vleisie en haal ‘n paar wyne se hoedjies af en ons bespreek die Bokke se wedstryd die volgende oggend. Ek gaan laat huistoe en val in die bed.
Sondagoggend val ek weer uit die bed om die koerant online te lees voor die groot wedstryd. So kom skakel ek die nuwe stukkie solank aan so saam met die ketel se kook vir koffie om die ergste sleg uit my lyf te kry.
Nou, daar is so ‘n groen venstertjie bo aan die screen waar jy jou gevreetjie moet laat kyk. Amper soos ‘n spieël. Dan kyk die mannetjie in die kamera’tjie jou sò en dan skuif hy die prentjie weer sò tot jy nou in fokus is en die outjie jou herken en dan sê hy fine, jy is jy en ons kan maar voortgaan. So check die outjie my vir ‘n tydjie en ek besef die mannetjie herken my nie vemore nie. Nee, sê die mannetjie vir my, your face could not be recognised. Nou hoe dan? Ek is nog steeds ek. Maar toe ek in die regte spieël kyk sien ek die rede vir die unrecognisable weergawe. Moes maar eers gesig was en hare borsel voor die bleddie mannetjie my herken het… en toe verloor die Bokke ook nog.
Onherkenbaar Lelik…