Nee my matertjie, ek dink nie daar is 'n verskil nie.
My hart het in duisend stukkies gebreek toe ek gesien het hoeveel skade julle gely het.
Die reuk van "verbrand" het swaar in die lug gehang. Hier het die "vrot" van "nat" ons asems vandag weggeslaan. Die nat matte wat verwyder is en in die tuin "gedump" is, is ongelooflik onaangenaam. Die groot probleem is, die mense wie se probleem dit is, (versekering) het nie 'n saak nie. Hulle is maar net werknemers en dit is beslis nie hulle probleem nie.
Vandat die ramp ons getref het, het Hannes R2,000.00 se krag gekoop en dit is opgebruik.
Hy moes so pas weer gaan aanvul. Ek ys as ek dink wat ons water-rekening gaan wees. Sowat van water gebruik het jy nog nooit beleef nie!
Weet jy, die skade wat deur die watervloed veroorsaak is, is net 50% van die skade wat die skoonmakers aangerig het. Die water is dalk op plekke 'n meter deur ons huis, maar die skoonmakers het tot en met twee meter bokant die watervlak alles bemors. My duur skilderye is van die waterspatsels oortrek. My orrel is so nat dat ek nie glo die arme ding se lewe sal ooit weer gered kan word nie. Ons Ouma- en Oupastaanhorlosies is moer toe. Een of ander van die tien swape het die gewigte opgetrek totdat dit vasgesteek het en ek glo nie dit kan ooit weer werk nie! My verlede is uitgewis!
Ag, wat praat ek tog, julle weet mos!