Kaalvoet langs jou besembos
In die winter van jou lewe
klim vergete waarhede
uit die solderkis.
Vroeëre tye se donker besluite
en witleuentjies sonder denke,
lê oral op ashope rondgestrooi.
Op jou eie mishoop het jy koning gekraai.
Nou lê die stukke verdroog,
windverwaaid jou lewensvlakte vol.
Langs jou bed het jy soms gekniel
en met jou kop opgelig,
jou goeie dade
na die heuwel van Golgota gestuur.
Eie-ek-klippilare het jy op hoogtes gebou.
Nooit nederig in berou,
sou jy jou Koning opreg vertrou,
maar sy Liefde ken geen perke.
Nou word jy deur selfverwyt geroep.
Dit bind jou en wurg jou,
pers suurstof uit jou longe uit
tot jy snikkend en kaalvoet
langs jou besembos neerval.
Sou enige asem in jou hart verborge bly
wanneer jy alle hooghartige sonde
en wrede mishandeling van jou elke-naaste
voor jou hemelse Vader bely?
©adéle theron