Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on August 20, 2021, 03:52:13 PM

Title: Kaalvoet langs jou besembos
Post by: adele on August 20, 2021, 03:52:13 PM
Kaalvoet langs jou besembos

In die winter van jou lewe
klim vergete waarhede
uit die solderkis.
Vroeëre tye se donker besluite
en witleuentjies sonder denke,
lê oral op ashope rondgestrooi.
Op jou eie mishoop het jy koning gekraai.
Nou lê die stukke verdroog,
windverwaaid jou lewensvlakte vol.

Langs jou bed het jy soms gekniel
en met jou kop opgelig,
jou goeie dade
na die heuwel van Golgota gestuur.
Eie-ek-klippilare het jy op hoogtes gebou.
Nooit nederig in berou,
sou jy jou Koning opreg vertrou,
maar sy Liefde ken geen perke.

Nou word jy deur selfverwyt geroep.
Dit bind jou en wurg jou,
pers suurstof uit jou longe uit
tot jy snikkend en kaalvoet
langs jou besembos neerval.
Sou enige asem in jou hart verborge bly
wanneer jy alle hooghartige sonde
en wrede mishandeling van jou elke-naaste
voor jou hemelse Vader bely?

©adéle theron
Title: Re: Kaalvoet langs jou besembos
Post by: PM on September 12, 2021, 11:12:20 PM
Dikwels lees ek jou werk en my mond hang oop van verbasing.  Ek wonder waar vind jy hierdie wonderlike verwoording.  Jy het 'n pragtige gawe om die mooiste waarhede bloot te lê.  Dit is altyd 'n voorreg om jou werk te lees.  So dankbaar dat jy dit my deel. 
Lief vir jou.   :love7:
Title: Re: Kaalvoet langs jou besembos
Post by: Naas on September 13, 2021, 06:33:11 AM
Pragstuk Adele.

 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Kaalvoet langs jou besembos
Post by: adele on September 13, 2021, 12:34:01 PM
Dankie PM, Naas ... baie dankie.