Vanmiddag had Stof die voorreg om saam met PM ‘n draai te gaan ry. Ons een bestemming was ‘n
paneelwerkwinkel waar ons ‘n kwotasie op die herstel van ‘n krappie op ‘n buffer gaan vra het.
Hier het Stof ‘n interresante waarneming oor baasskap gemaak. Die dame wat ons ontvang, wag ewe bedagsaam dat die werkwinkelbestuurder saam met haar na die buffer kom kyk. Sy praat met hom op so ‘n manier dat haar respek vir sy kennis duidelik blyk. Sy mening word erken in elke aspek van die kwotasie. Stof merk egter op dat daar met oogkontak, ‘n nie-verbale, paralelle gesprek gevoer word. Sy staan gereed met haar knipbord om neer te skryf wat hy raporteer. Sy maak notas, maar dit is duidelik dat sy op detail konsentreer terwyl sy self ook die voertuig met ‘n arendsoog beloer.. Hy noem uiteindelik vir haar ‘n koste. Maar sy skryf dit nie dadelik neer nie. Die nie-verbale gesprek seg “Ek stem nie saam nie”. Ewe gehoorsaam stap hy terug na die voertuig, maak asof hy net weer van iets seker maak, en kom met ‘n ander bedrag na haar toe. Dit is toe die bedrag wat sy op die kwotasie skryf. Die dame teken toe die kwotasie, gee dit vir PM, en wens haar ‘n goeie middag toe.
Die oppervlakkige kommunikasie is die tussen ‘n werkwinkelbestuurder en ‘n gehoorsame sekretaresse. Tussen die lyne egter, is werkwinkelbestuurder deeglik bewus dat hy met ‘n arendsoog gemonitor word. Die lyftaal vra deurlopend haar goedkeuring. Daar waar sy opsomming nie met haar oordeel ooreenstem nie, kry hy subtiel die boodskap. En tydens elkeen van hierdie klein insidentjies, korrigeer die werkwinkelbestuurder sy mening. Totdat die dame gelukig is.
Nou wonder Stof net, wie is eintlik die baas? Is daar dalk ‘n hierargie in hierdie besigheid wat die onoplettende besoeker miskyk?
Die waarheid, lê dikwels nie in die oppervlak van ‘n gesprek nie, maar tussen die lyne...