Dankie baie baie matertjie vir julle liefde!! Ons begin nou ernstig self grawe en soek na moontlike oorsake. Ek gaan sommer vir jou aanhaal uit die briefie wat ek vir Denneys gestuur het:
My liefste Outoppie het begin om alles 'tegnies' te ontleed. Dok voorgestel ons maak 'n dagboek van wanneer simptome verskyn. Tot nou kon ek myself net nie sover kry om dit te doen nie, (voel dan soos sketevraat) en toe ons nou begin let op hoe dinge gebeur voor en na die aaklige borspyne, benoudheid en duiseligheid, trek Outop 'n dun strepie - vlam die hoop op dat hy dalkies een spoor in die oorsaak gevind het.
Of dit sin sal maak of nie, maar Outop se vermoede is dat die lug in ons omgewing 'n allergiese reaksie in die longe veroorsaak (?)
Ons pandokkie is langs die hoofweg gelee wat die slagaar-roete vir honderde swaarvragmotors dag en nag is. Reg verby ons voordeur so te se. Ook die parkeerplek van baie waar hulle seker maak die vrag is nog reg. Dus trek hulle weg en gee vet, die ander brul verby want die afdraai na die Noorde is net so vyf huise weg van ons.
Wanneer ons gaan kamp of na die kinders gaan voel ek binne 'n dag of twee te gesond om siek te wees. As ons terug is voel ek binne 'n dag of twee weer te siek om gesond te wees.
Elke keer dink ons dit is omdat ek met die kleinkinders gewoel het en myself uitgeput het LOL. As hulle hier kuier spandeer ons weer baie tyd buite met hulle.
Nou gaan ons noukeurige aantekeninge maak. Dit met ons huisdokter bespreek. As dit wel moontlik is dat die drukking weens giftige gasse van die vragmotors is, gaan ons die plaaslike owerhede kontak - die hele dorpie spook al vir jare vir 'n verbygaan roete vir die groot monsters wat deur ons dorpie brul.
Daar is 'n liggie wat skyn in die tonnel van onsekerheid en ons druk verbete al die knoppies om dit aan te hou.
Ek is nou so angstig om dit met mediese personeel te bespreek. Die klontjies het wel hulle eie rol gespeel in die drama rondom die vorige PH diagnoses
Die nuwe longscan wat gedoen moet word sal meer intensief wys of daar enige mikroskopiese blikslaers skuil en die ander toets gaan hulle seker maak dat daar nie enige immune probleme amok maak nie.
Hou duime saam ons verder vas asb dat alles positief en behandelbaar sal eindig!!!!