Agter die broodboom loer hy uit. Skelm, vanwaar die Witstinkhout se stam skadu gooi. Ek verstil langs die hoek met my hand op Boela se groot donker kop met die swart snoet. Nog ’n tree of twee vorentoe dan sal daardie bosveldfisant ons gewaar en begin hardloop.
Bosveldfisant. In die middel van die Vrystaat. Maar ek gee nie om wat hy genoem word of waar hy vandaan kom nie. Hy is nou in my erf en as Boela hom gewaar is daar pêre…e..vere. Fisant se kind is nie swaeltjie-liggewig wat net opvlieg nie. Hy het ’n aanloop nodig en my erfdraad is hoër as ses voet. Om veldlikkewane en slange uit te hou. O ja, skilpaaie ook. Hulle het ’n gesofitikeerde smaak vir veldlelies wat vroeglente met groot pienkwit streepkelke die vaal winterveld soos ’n japanse waaiertjie oopvou.
Fisant en vroutjie bly in die veld langs my by die peperboom; so honderd tree ver. Dit was broeityd gewees. Nou boer hulle saam met twee kleintjies in die hele veld om die paar huise naby myne. Groot, bruin met kenmerkende vlekkies en swartbruin bene en die bekende rooi oogarea met die keelvelletjie, ook rooi. Laat my so aan Ouma se kalkoene dink. Gelukkig hoef ék nie hierdie keer weg te hardloop nie.
Boela se groot boerboellyf tril sommer van opgewondenheid. Hy is al ’n goeie agt jaar oud; het kleintyd ’n katgriep en onlangs bosluiskoors oorleef maar hou selfs die groot bosduiwe op hulle pote. Of op die dak want hulle bly te veel om te verjaag. Tussen my en Boela is daar ‘n sterk band van wedersydse beskerming en omgee.
Of die wind draai…en of sy sesde sintuig hom gewaarsku het, weet ek nie. Sy eerste treetjies is kort, asof in ’slow motion’ maar toe Boela se grom onder my hand bewe en hy vorentoe dors na vars kuikenvleis, trap daardie fisant se pote twee duim bokant die grond op lug vas en na die derde tree klap sy vlerke hom oor die heining. Boela verwens die draad laat die hoekpaal blosend wegkoes.
Rustig sak ek in die kampstoel op die stoep neer om die sonsondergang te geniet. Die varsgekookte geelmielie laat die botter oor my vingers drup.