Liewe aarde, julle, sien ek weer vandag in Die Burger se bylae hoe die mense wegle !! aan Smileys.
Lekker oondgebakte skaapkoppe met daai bolronde oge wat vir jou le en kyk daar uit die oond. Ingevalle wange en teruggetrekte lippe soos... wel... 'n gebakte skaapkop. Jy sal aan die hoeveelheid tande wat vir jou smile kan sien of dit 'n ou ooi of 'Karoo Lam' is.
Aardig.
Ek het in die hele tyd wat ons op die plaas was, nooit 'n gebakte smiley gesien nie. Oppad huistoe vanmiddag wonder ek daaroor. Hoekom het ek nog nie die dierasie gesien nie? Omdat, besef ek later, die skaapkop altyd werkershuis toe gegaan het. Dalk het hulle beurte gemaak om dit te kry. Weet ook nie of hulle dit ooit in die as gesit het om te braai nie, miskien sommer saam met die ander afval gekook.
Behoede en bewaar Ella van daardie konkoksie.
Eet julle afval? Ek het dit slegs ge-eet as my Ma dit gemaak het met kerrie en klein aartappeltjies. Sy het omtrent die hele afval vir Antjie gegee en net hier en daar 'n stukkie gebruik. Meestal die pootjies en die wange...
Maar daai wange het nooit op hul oorspronklike plek gesit aan die skedel van die skaap in die oond in my Ma se stoof nie.