Hang tien
Ritmies trek my arms
lings, regs, lings, regs
die branders in.
Voel die bewing onder my
soos my plank die see in gly,
Lings, regs, lings, regs
Verder, dieper, wagtend.
Dan staan hy voor my op,
hy is perfek vir my.
Ek draai my plank en wag vir hom.
Voel die plank se stert wat lig.
Een, twee, drie, vier hale met die arms
dan regop op die plank.
Vinniger, afdraend, jagend.
Die spoedwind streel my wange droog,
hare nat, sliertend agterna.
Blitsnel langs die waterwand.
So stootjaag die brander my
teen kop-af dolle vaart.
Op en af ry ek hom
wyl die sand al nader kom.
Skielik gee hy op,
verander in ‘n kalfie en gaan lê
wyl ek stadig strand toe dryf.
Dan draai ek om en
ritmies trek my arms
lings, regs, lings, regs
die branders in.
