Dit was amper vieruur; huistoegaantyd toe die naguiltjie [sms] my roep:
2 messe
2 vurke
skinkbord en nog ’n item of twee…
toe nog ’n opvolg-opdrag-sms
en water
en vuurhoutjies
Huh?
Maar opgewondenheid het my weer kind laat voel – want sien – ons ken mekaar vandag presies twee jaar. Ek was nog skaars in die huis toe hy agter my stilhou. Gou-gou kantoordrag verruil vir iets meer vroulik, alles ingepak en na ons hoekie by die wildreservaat se uitkykpunt verkas. By die hek mooi vir Andries gevra om ons nie toe te sluit as ons dalk ’n minuut of twee laat is nie.
Daarbo het die vaalstilte teen die westerkim weerkaats, maar ve-e-er onder teen die waterkant het elande, springbokke en ’n renoster gewei. Blomme… vol ongesproke woorde met die vermoë om my oë te laat dof. Ons het al klaar geëet toe die son eers gesak het. Anderdag het vaderSon hom aangejaag om my vinger te ring…
Dit was toe ons opstap parkeerarea toe, dat ons in verwondering moes stilstaan. Nie vyftig treë ver het Kameelperd ons ingewag, sy nuuskierigheid kon hy skaars wegsteek. Ek het seker tot binne dertig treë van hom af ge-stadig-stap voor hy met ingebore grasie, neus in die lug, weggestap het. Koedoe se kind en die rietbokke was net so rustig.
O ja, ons was net betyds by die hek sodat Andries, [al meer as dertig jaar hekwag daar] met sy beplooide gesig en groot glimlag, die hekke agter ons kon sluit.