'n Ou gediggie wat ek gaan uitgrawe het vir die nuwe boek.
Duplo
(Ons Mamma se begrafnis.)
Biggelende bande om die kis
laat dit pynlik stadig afsak na benede.
Ek kyk op
en sien jou daar staan
gesig strak,
tande op mekaar geknars,
vuiste gebal.
Ek sien jou kaal gekapte siel
en ek weet,
dit is droefheid wat jou spiere span,
roerloos ruk
en pluk,
net ek alleen kan dit sien.
Ek soek na jou liefdevolle oë
en as ek dit vind kan ek nie bepaal
of is hulle blou,
of grou,
of grys,
of groen nie,
maar die boodskap wat dit dra
skiet soos skote uit ,
donderend dawerend dwars deur my hart.
Die groot besef sny soos ‘n mes deur my siel,
die skokgolwe wip in vlae deur my lyf
en so
vind elke pyl sy plek in my hart
in my siel
in my wese
in my selfverwyt.
Wat ‘n sware dag.
Ek wat als gereël het,
het vergeet,
dit is jou verjaarsdag.