Gister is ek op pad na PM in Pretoria.
Daar by die Drie Meisies draai ek lings na Kimberley se kant toe. Nie omdat ek nie die pad ken nie en nie omdat die pad nie so besig is soos die N1 nie en ook nie omdat daar nie so baie pramfooie* is nie. Nee, omdat ek eers daar by Gawelientjie-hulle ‘n kuiertjie wil inkry. Dis mos nou nie aldag dat ek die lang pad so aandurf nie en langpad verlang is ‘n nare verlang.
Daar annerkant daai anner dorp, so tussen watsenaam en dinges, sien ek van ver af die dinges in die pad. Lyk toe mos so van ver af eers vir my alteveel na ‘n vragmotorband wat sy eie lê loop vat het en nou moleste in die pad wil veroorsaak.
Maar die vragmotorband, sien ek toe ook so met die naderkomslag, lê nie stil nie.
Ek ry stadiger want ek voel al klaar sleg oor die spul sprinkane wat ek vermoor het toe ek so vinnig deur die swerm is lat hulle nie kon padgee nie. En die watsenaam is in elk geval te groot. Hy gaan meer skade aan my motor doen as waarvan ek sal hou.
Met die naderkomslag bekyk ek mos die ding. Sy voorkant lyk soos ‘n slang, kompleet met die tongetjie wat gedurig rondkyk. Sy agterkant lyk net so skerp soos ‘n slang s’n. Maar tussen die twee is daar nie ‘n slang nie. Toe ek nader ry gewaar daai ding die motor en hy pomp homself daar op sy bene op soos ‘n negentien voertsêk Citroen.
Ek kyk weer maar kan nie besluit of dit ‘n Likkedil of ‘n krokkewaan is nie. Dalk ‘n oliekrokkenosterstruiswyfkuiken, maar die ding het nie vere nie. Sy voorkant is groot en plat en kompleet met vier kort vet beentjies en trapsoetjiesvoete. Sy agterkant herinner my aan die vet stert van ‘n geitjie wat te veel steroïds ingekry het. Hy stap windgat stertswaai, stertswaai voor die motor verby. Kompleet soos ‘n verkleurmannetjie wat hom verbeel hy is net so bont soos ‘n Namakwalandveld na die eerste lentereëntjie.
Ek gryp my kamera en mik om die verskynsel te pixelleer sodat ek getuienis het van die waarheid, maar die ding se agent keer my. Blykbaar mag hy nie afgeneem word met ‘n kamera sonder batterye nie. Terwyl ek daar rondkarring op soek na die batterye se kamera loop die watsenaam se dinges met sy windgatwaggel tussen die grassies langs die pad in en verdwyn.
Dit wys jou net. As ‘n man rondloop met ‘n pistool sonder koëls gaan hy niks skiet nie.
*Tolgeld
