Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Naas se plek => Topic started by: Naas on April 04, 2011, 12:08:07 AM

Title: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Naas on April 04, 2011, 12:08:07 AM
Gister is ek op pad na PM in Pretoria.
Daar by die Drie Meisies draai ek lings na Kimberley se kant toe. Nie omdat ek nie die pad ken nie en nie omdat die pad nie so besig is soos die N1 nie en ook nie omdat daar nie so baie pramfooie* is nie. Nee, omdat ek eers daar by Gawelientjie-hulle ‘n kuiertjie wil inkry. Dis mos nou nie aldag dat ek die lang pad so aandurf nie en langpad verlang is ‘n nare verlang.
Daar annerkant daai anner dorp, so tussen watsenaam en dinges, sien ek van ver af die dinges in die pad. Lyk toe mos so van ver af eers vir my alteveel na ‘n vragmotorband wat sy eie lê loop vat het en nou moleste in die pad wil veroorsaak.
Maar die vragmotorband, sien ek toe ook so met die naderkomslag, lê nie stil nie.
Ek ry stadiger want ek voel al klaar sleg oor die spul sprinkane wat ek vermoor het toe ek so vinnig deur die swerm is lat hulle nie kon padgee nie. En die watsenaam is in elk geval te groot. Hy gaan meer skade aan my motor doen as waarvan ek sal hou.
Met die naderkomslag bekyk ek mos die ding. Sy voorkant lyk soos ‘n slang, kompleet met die tongetjie wat gedurig rondkyk. Sy agterkant lyk net so skerp soos ‘n slang s’n. Maar tussen die twee is daar nie ‘n slang nie. Toe ek nader ry gewaar daai ding die motor en hy pomp homself daar op sy bene op soos ‘n negentien voertsêk Citroen.
Ek kyk weer maar kan nie besluit of dit ‘n Likkedil of ‘n krokkewaan is nie. Dalk ‘n oliekrokkenosterstruiswyfkuiken, maar die ding het nie vere nie. Sy voorkant is groot en plat en kompleet met vier kort vet beentjies en trapsoetjiesvoete. Sy agterkant herinner my aan die vet stert van ‘n geitjie wat te veel steroïds ingekry het. Hy stap windgat stertswaai, stertswaai voor die motor verby. Kompleet soos ‘n verkleurmannetjie wat hom verbeel hy is net so bont soos ‘n Namakwalandveld na die eerste lentereëntjie.  
Ek gryp my kamera en mik om die verskynsel te pixelleer sodat ek getuienis het van die waarheid, maar die ding se agent keer my. Blykbaar mag hy nie afgeneem word met ‘n kamera sonder batterye nie. Terwyl ek daar rondkarring op soek na die batterye se kamera loop die watsenaam se dinges met sy windgatwaggel tussen die grassies langs die pad in en verdwyn.
Dit wys jou net. As ‘n man rondloop met ‘n pistool sonder koëls gaan hy niks skiet nie.

 *Tolgeld


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: PM on April 04, 2011, 06:16:44 AM
Baie dankie vir 'n vermaaklike storie so vroeg in die oggend.   :icon_biggrin:  Jy moet nie met 'n geweer sonder koëls oorlog toe gaan nie,  die oliekrokkenosterstruiswyfkuikens sal vir jou ore aansit.   :icon_biggrin:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Naas on April 04, 2011, 08:31:30 AM
Ja nee. Daai goed is nogals gevaarlik, veral wanneer hulle wakker is.




 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: PM on April 04, 2011, 09:26:51 PM
Ek weet nou nie wat dit is wat my brein aan "lokomopoesterfant" laat dink nie,  maar regtig, dit klink vir my na 'n trein wat deur 'n olifant verwoes is.    :icon_biggrin:  Skuus dat ek lag, maar dit is nou maar so!
Jou storie is uit die boonste rakke en weereens,  ek geniet my taal 'n hond uit 'n bos uit,  geskryf deur 'n mede taal-liefhebber. 
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Naas on April 05, 2011, 09:20:21 AM
Dis dalk wat Langenhoven in die stilligheid sy olifant (Herrie) genoem het wat die treinwa getrek het.







 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Stof on April 07, 2011, 01:58:17 PM
Agt pote staan bont om nie in die watsenaam se dinges te trap nie.  Hierdie storie, Naas, is lekkerlees en tonekrul
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Stof on April 08, 2011, 05:07:49 PM
ek geniet my taal 'n hond uit 'n bos uit

As dit so aangaan, is daar binnekort nie meer honde in die bos oor nie...

Dalk net Naasgrieterluise?
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: PM on April 08, 2011, 10:36:38 PM
Dit klink mos nou vir my asof ons almal saam in dieselfde bed geslaap het?   Naasgrieterluise?   :read2:   
O hallie ha!    :icon_biggrin:  Wys jou nou net wat gedoen kan word!   :icon_biggrin:

Moenie bekommerd wees oor die honde nie.  Ons sal 'n plan maak!   :icon_biggrin:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Trapsoetjie on April 13, 2011, 04:27:20 PM
Lees ek nou eers hier raak. Laat my bietjie dink.

My se oom van Pa se kant het so 'n klap weg. Die voete is eindste syne. Ek sal moet gaan loer tussen Watsenaam en dinges.  :laughing7:

Pragtig Naas, ek weet nie hoekom nie, maar jy raak net beter en beter elkekeer. Dan dink ek nou is Naas op sy stukke dan bring jy so iets navore..ek is mal oor jou skryf/praat manier.

Sal dit nou vir my 'n les wees. Ek moenie weer agter in die kruiwa wegkruip nie, dan sal ek niks mis nie...
 :angel12:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: PM on April 14, 2011, 09:24:08 AM
Ek is bly ons het jou daar agter in die kruiwa opgespoor, 'n kombersie oorgegooi en jou hierheen weggedra Trappies!   :icon_biggrin: 

Dink jy dit is die gedigstrukture waarmee Naas so woel wat hom so goed laat skryf of dink jy dit is die paar dol dae wat hy in Pretoria deurgebring het?   :icon_biggrin:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Naas on August 14, 2018, 02:51:34 AM
Jaag die bure se hond my nou weer in die verlede in.  Vra PM die ander dag wanneer ek dan nou weer daar 'n draai gaan maak.
Moet se, ver pad verlang is nie 'n lekker verlang nie. So min geld, soveel potholes...



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Meraai vannie Baai on August 14, 2018, 03:09:22 AM
Hier ek nou jou wraggies nou eers op die skat af. Lig die hoed en knak my knieg ter ere van groot talent. Voor ek vergeet, stem saam dat 'n ver pad verlang nie 'n lekker verlang is nie.
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Anastasia on August 14, 2018, 09:03:56 AM
Ja, nee, Meraai.  En ek meld ook stiptelik aan om saam oor jou skouer te loer na hierdie vrolike en vreksnaakse kuier!
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Meraai vannie Baai on August 14, 2018, 09:24:36 AM
Ek kan net partykeer my kop skud vir alles wat so tussen die lyne uitkruip - skitterend om die minste te se mater  :hello2: :notworthy: :icon_salut:
Title: Re: Die Dinges se Watsenaam.
Post by: Trapsoetjie on August 18, 2018, 07:14:50 AM
'n Lekker kuiertjie saam. Dit sal so lekker wees.  :toothy4:
 :icon_scratch: Moeilik, maar lekker.
 :angel12: