Susan het 'n pragtige artikel geskryf waarin sy 'n hele paar punte rakende hierdie onderwerp genoem het. (Sy het my toeka se dae toestemming verleen om van haar werk uit te stal) Dus met vergunning aan haar haal ek graag die volgende aan:
1. Die gedig moet eerstens as ‘n selfstandige entiteit op eie bene kan staan.
2. Tweedens moet die gedig ‘n definitiewe boodskap dra. Gebruik woord- en klankskoonheid na die beste van jou vermoê om jou boodskap kort en kragtig (pasop vir prosa) oor te dra.
3. Derdens is die beoordelaar genoodsaak om jou gedig ten opsigte van vorm te kategoriseer ten einde dit met die ander inskrywings te kan vergelyk. Daarom doen die beoordelaar die moeite om uit te pluis in watter genre jou gedig voorgedra word: liries, epies of dramaties. Ook word die bepaalde digvorm bepaal: Is dit ‘n kwatryn, ‘n sonnet, ‘n ballade, ‘n ronddeel of enige variasie daarvan? Indien wel, was hierdie spesifieke vorm die digter se bedoeling, of het dit toevallig so uitgewerk? Die beoordelaar kloof nou die gedig oop soos wat ‘n wetenskaplike ‘n insek sal dissekteer.
4. Vierdens bestudeer en ondersoek die beoordelaar die inhoud en styl van die gedig. Daar word gedelf na die dieper betekenis van die beeldspraak en metafore totdat dit soos ‘n blommetjie “oopgaan”.
Op hierdie stadium word die digter se vaardigheid getoets. Ons is immers besig met ‘n kunsvorm... nie 'n gekrabbel op papier rakende die digter se persoonlike/privaat lewe nie! Die ek-spreker (soos die verteller van 'n storie) is nie die digter self (skrywer van die verhaal) nie. Die digter neem waar en gee sy/haar interpretasie van gebeure/situasies terug aan die leser
5. Vyfdens moet ‘n digter weet waarvandaan die digkuns kom en waarheen dit oppad is. Net so moet die digter weet waaroor die digkuns gaan – al reken hy dat geregtig is om in vrye vorm dig. Die beoordelaar kom beslis agter dat daar agter die digter se woorde en sinsnedes ‘n diepte lê wat dui op ‘n kennis van die taal en digkuns.
6. Maar of die gedig nou aan ‘n streng vorm beantwoord al dan nie, op kompetisievlak wil die beoordelaar weet of die digter weet wat rym en en of hy poog om gedwonge rym te vermy, al pas hy vrye rym toe. Is daar ritme, metrum en balans, veral by kinderrymelary? Is daar ‘n bepaalde reëlmatigheid in die beweging van die gedig (heffinge en dalinge), gebruik die digter ‘n enjambement om vloei te verseker, word sy taalvaardigheid ten toon gestel met byvoorbeeld alliterasie (val, verdwyn, vlak, kranse, kokend), versterkte vorme (slaat in plaas van slaan), ens.?
7. Om ‘n gedig op kompetisievlak te wen, moet jy soos ‘n skouperd jou taalkundigheid en digterlike vermoëns ten toon stel. (Vergelyk Susan Grobler se "gelaaide" gedig, Tafelberg - 'n 1652-hyg, wat spesiaal vir 'n kompetisie voorberei is) Wys vir die boordelaar dat jy die kuns behoorlik baasgeraak het.
8. Soos alle dinge het die digkuns ook met verloop van tyd verander. Jou inskrywing moet beslis op kompetisievlak voldoen aan die vereistes van die tyd.
9. Kies die titel van jou gedig baie sorgvuldig. Net soos die voorblad van 'n boek, moet dit die leser se aandag prikkel, anders tel hy/sy dit nie op om te lees nie. 'n Titel is 'n sleutelwoord tot die gedig.
10. Werk moet in getikte vorm voorberei word, nie handgeskrewe nie. Ek het nog nooit in kompetisiereëls gelees dat teks met die hand geskryf moet word nie. Die beoordelaar lees honderde inskrywings deur. Moenie die beoordelaar van die begin af frustreer met 'n onleesbare handskrif nie. Gebruik 'n font soos Arial wat sonder enige tierlantyntjies en maklik leesbaar is. Die grootte moet ook nie minder as 11 wees nie. Te groot bv. 14 of meer) lyk weer kinderlik en of jy skaam is vir die wit gedeeltes op die bladsy (wat eintlik 'n kenmerk is van die digkuns). Groottes 11 en 12 is goeie keuses.
11. Moet asseblief nie elke reël met 'n hoofletter begin nie. Sinne begin met hoofletters, nie reëls nie. Sommige rekenaarprogramme is geneig om die begin van elke reël self in 'n hoofletter te verander - gaan terug en herstel dit. Jy verloor punte vir slordigheid en agterlosigheid.
12. Lees jou werk deur vir spel- en tikfoute. Spelfoute is onvergeeflik en jy verloor beslis baie punte op kompetisievlak. Langs goeie skrywers en digters lê woordeboeke soos getroue minnaars/minnaresse in afwagting van 'n bietjie aandag. Koop minstens elke tien jaar 'n nuwe uitgawe van 'n betroubare woordeboek aan ten einde tred te hou met ons lewendige Moedertaal.
© Susan Grobler