Die wind.
Daar woed ‘n woeste wind
wat aan die bome ruk en pluk
en die blare met sweepslag
van die takke los ruk.
Dit kletterklink die straat af;
klappende perdepote
deur die wind aangejaag.
Dit is donker dowwe grys grou wolke
wat die aarde in skemer omvou;
in die verte trek die weerlig wit flitse
teen die liglose blou.
Dit is ‘n woeste wind wat so mistroostig
om die huis se hoeke loei,
wat die reën rukkend in vlae
oor die dorre aarde gooi.
Dit slaan die reëndruppels stukkend
teen die vensters aan;
net biggelende trane
wat traag teen die ruit afgaan.
Die wind wig deur die ou venster
wat nog net aan sy skarniere hang;
dit dawwer teen die dak se ou sinkplate
wat ook al besig is om op te lig.
‘n Waterval swoeg met ‘n gedruis deur die geute,
om met ‘n swierige boog
‘n bek vol reënwater uit te spoeg.
Al wat oorbly
is die laaste paar stroompies
wat deur die geute sing,
die vars reuk
van ‘n aarde skoon gewas van stof
en die laaste paar druppels
wat uit die blare
op die grond
neer plof.
Dan is dit stil.