Teen vyfuur gistermiddag was dit onheilspellend donker hier in Annlin. Seweuur, toe die klok slaan, toe het hoor en sien vergaan. Die haelkorrels op die dak was oorverdowend. Die eerste paar was so groot soos die grys hennetjie se eiers. Dit wat daarna gekom het was nie veel kleiner nie.
In 'n kwessie van twee minute, met ons parapitdak, het die water orals by elke inkomplekkie ingestroom, teen die mure af en op die vloer begin opdam. Elke hol dingetjies is ingespan om te help opvang.
Dit het aangehou en aangehou totdat dit naderhand gelyk het of ons in Switserland se winter is. Dit was asemrowend mooi, die wit ysmat, net waar jy kyk. Die waterdamp, mis en fyn reënkombers wat teen die straatligte afgeëts het, het alles in 'n sprokieswêreld omtower.
Die alarmstelsel het erg kapsie gemaak teen die yskorrels se aanslae en alhoewel ons ook so gevoel het, nou al enkelhoogte diep in die water, in die huis, was ons verstom oor die mooi gesig wat die storm agtergelaat het.
Vanoggend, presies 12 ure later, lê die ysmat nog plek-plek in die voortjies opgedam. Onder die geute hang ysstekels, soos ysdolke, drup-drup die lewensbloed om te bevestig, dat sonder water, die mens en die aarde nie kan leef nie.
Die boomvarings se fyn blaartjies lê verstrooid oor die tuin. Dit lyk soos 'n varingmat. Die palmblare is aan repe geskeur en die kraanvoëlblomme lyk soos natgereende hoenders. Die res van die tuin sien daar uit, asof die springkane van die tien plae, pas hier deurgetrek het.
Onder die pienk Azalea boom lê 'n pienk mat van verpletterde blomme. Die Petrea, kaal gestroop, se pers wielietjie-waai bloempies versier die aarde daaronder. Tagtig persent van die advokado-oes, lê op die gras, verberg onder 'n verflenterde blaremat. Die drywende dooie koivissies en die dammetjie sorg vir 'n hartseer gesig.
Dit is Oktobermaand, die mooiste mooiste maand, die aarde is skoon gewas en buite kwetter en sing die voëltjies laf.